IMF bekommerd oor SA se ekonomiese groei

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Ekonome van die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) sê Suid-Afrika se ekonomiese vooruitsigte het op die kort termyn verswak. Daar word wel verwag dat groei op die mediumtermyn sal herstel, maar slegs tot ongeveer 1,5% per jaar.

Inkomste per capita sal waarskynlik as gevolg daarvan stagneer.

Die vrees bestaan nou dat die Suid-Afrikaanse ekonomie kan stagneer te midde van ál meer ekonomiese en maatskaplike uitdagings en ʼn ongekende energiekrisis. Dit terwyl Suid-Afrika al swaarder aan sy skuldlas gaan dra.

Dít is die gevolgtrekking waartoe ʼn span van die IMF gekom het ná ʼn onlangse besoek aan Suid-Afrika. Beleid om makro-finansiële stabiliteit te verseker was onder meer op die span se besprekingslys tydens hul besoek aan die suidelike punt van Afrika.

Ekonome van die IMF voorsien dat die groei van reëele bruto binnelandse produk in 2023 na verwagting skerp sal afneem tot 0,1%. Die daling word grootliks toegeskryf aan voortslepende beurtkrag en swakker kommoditeitspryse.

Daar word ook verwag dat die hooflyn- (of omvattende) inflasiekoers in die tweede helfte van die jaar tot binne die Suid-Afrikaanse Reserwebank se teikenband (3 tot 6%) sal terugval.

(Foto: Maroela Media)

Inflasie sal na verwagting dan in 2024 die teikengemiddeld van 4,5% bereik en op die mediumtermyn daar bly.

Die IMF sê fiskale rekeninge sal ten spyte van onlangse verbeterings onder druk bly, met die algehele saldo wat na verwagting sal toeneem tot ʼn tekort van ongeveer 6,5% van die BBP in die 2023/’24- finansiële jaar. Die tekort sal na alle verwagting in die 2025/’26- finansiële jaar toeneem, maar ná die 2026/’27- finansiële jaar vernou, met die veronderstelling van verbeterde toestande by Eskom. Openbare skuld sal egter aanhou styg, glo die IMF se ekonome.

Die span het voorts gesê hy ondersteun die Suid-Afrikaanse regering se doelwitte, soos dit in vanjaar se begroting en verlede jaar se mediumtermynbegrotingsbeleidsverklaring gestel is.

“Hoewel die begroting en mediumtermynbegrotingsbeleidsverklaring voorsiening maak vir sekere risiko’s en gebeurlikhede, bly die risiko’s vir fiskale vooruitsigte aansienlik. Suid-Afrika se openbare skuld is van die hoogste in ontluikende markte en gaan voortgaan om te styg te midde van die huidige ekonomiese beleid.”

Die regering het intussen gesê hy het kennis geneem van die IMF-span se bevindings.

“Die nasionale tesourie is bewus van die meeste van die risiko’s vir ekonomiese groei en werk aan versagtende maatreëls om daaraan aandag te gee, soos uiteengesit in die 2023-begrotingsoorsig,” het die tesourie gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.