Indiese variant nié in SA – Mkhize

durban-hawe

Die hawe in Durban. (Foto: Google Maps)

Die toename in die opsporing van Covid-19-gevalle by grensposte is ʼn groot bekommernis vir die regering en kry dringend aandag.

Dít volgens dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, wat sê spanne van die departement van gesondheid is op ʼn hoë gereedheidsgrondslag vir reisigers van lande waar sogenaamde kommerwekkende variante van Covid-19 voorkom.

Mkhize sê hy is ook deeglik bewus van Suid-Afrikaners se kommer oor die verspreiding van variante.

Daar was die afgelope paar dae toenemende kommer oor veral die B.1.617-variant van Covid-19 wat moontlik bydra tot die skerp styging in infeksies wat tans in Indië ondervind word.

“Ons kan bevestig dat die B.1.617-variant, wat wyd in Indië versprei, nog nie [hier] opgemerk is nie, hoewel die genomika-spanne sommige monsters verwerk en tyd daarvoor benodig voordat ons ʼn antwoord het,” het Mkhize Dinsdagaand gesê.

Volgens die minister is die B.1.351 (of 501Y.V2) tans die oorheersende variant in Suid-Afrika.

“Een van die monsters wat van ʼn reisiger van Indië geneem is, is die 501Y.V2.”

Mkhize sê Suid-Afrika hou steeds by die aanbeveling van die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) dat alle variante dieselfde bestuur word.

“Dit vorm alles deel van die regulasies oor die bestuur van Covid-19 en dit is deur voldoening hieraan dat ons Covid-19-gevalle by grensposte opspoor en in bedwang hou.”

Durban

Drie reisigers van Indië, via Doha, het op vlugte onderskeidelik op 21 April en 25 April by die King Shaka-lughawe aangekom.

Die eerste passasier het siek geword en is steeds in isolasie in ʼn hospitaal, terwyl twee ander pasiënte asimptomaties is en in isolasie by ʼn private blyplek is.

Die hawegesondheidsowerheid het besonderhede verskaf van alle passasiers wat in nabye kontak met hulle was en die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (NIOS) het die proses om monsters te versamel, kontakopsporing te doen en groter waaksaamheid uit te oefen, bestuur.

Op 1 Mei is ʼn sterfte aan boord van ʼn naderende skip in Durban deur die polisie by die hawegesondheidsowerheid, die assistenthawemeester en die skip se agent aangemeld.

Die skip het op 18 April uit Indië vertrek en op 2 Mei by Maydon Wharf aangekom. Die persoon het in daardie stadium reeds gesterf en die oorskot is na ʼn staatslykshuis vir ʼn nadoodse ondersoek geneem. Weens ʼn probleem om ʼn monster te neem, word die uitslae van die Covid-19-toets steeds afgewag.

Daar is egter voortgegaan om die 21 bemanningslede op te spoor. Altesame 14 het positief vir Covid-19 getoets. Sewe se uitslae was negatief, sê Mkhize.

Al die bemanningslede is asimptomaties en daar is besluit dat hulle aan boord van die skip in geskikte kwarantyn- of isolasiefasiliteite sal bly. Die skip bly onder streng veiligheid in die hawe tot die kwarantyntydperk afgehandel is.

Port Elizabeth

In nog ʼn voorval het ʼn skip van Mombasa op 25 April in Port Elizabeth aangekom en is in die hawe toegelaat nadat die kaptein geen siektes aan boord aangemeld het nie.

Die volgende dag het die skeepskaptein egter laat weet een van die bemanningslede is siek en die persoon is dadelik na ʼn hospitaal geneem.

Die siek bemanningslid, asook drie ander wat na hul tuisland sou terugvlieg, is dadelik vir Covid-19 getoets – en die uitslae was positief. Hulle bly in isolasie by ʼn verblyfplek, sê Mkhize.

Daar is ook begin met kontakopsporing en al 20 bemanningslede aan boord is gevolglik ook vir Covid-19 getoets. Tien van hulle het reeds positief vir die virus getoets en word in isolasie by verskillende fasiliteite gehou.

Die tien bemanningslede wat nie positief getoets het nie, bly in kwarantyn aan boord van die skip.

Die skip bly intussen in die hawe en geen ongemagtigde toegang word toegelaat nie, sê die minister.

“Dit is uiters betreurenswaardig dat die skeepskaptein ʼn vals verklaring gemaak oor die gesondheidstatus van die skip en bemanning. Die polisie het gevolgbestuurmaatreëls in werking gestel en die staatsaanklaer betrek.

“Ons wil duidelik maak dat die skip op pad was na Indië en nie daar vertrek het nie.”

Mkhize sê die departement het reeds die ministeriële advieskomitee en die genomika-span geraadpleeg oor die bestuur van reisigers wat die land deur grensposte binnekom.

“Die regering gaan bepaal wat volgende gedoen moet word en aankondigings oor die stand van variante van kommer in ons konteks, en watter maatreëls ingestel word om die inbring van Covid-19 in die algemeen te stuit, sal gedoen word.”

Die minister sê sogenaamde variante van kommer was ʼn moeilike kwessie tydens die Covid-19-pandemie, omdat dit dikwels uitsluiting, wantroue en soms rassistiese retoriek veroorsaak.

“Ons deel mense se kommer maar wil Suid-Afrikaners verseker dat ons ʼn vaardige nasie is wat weet hoe om die las van ʼn kommerwekkende variant te hanteer.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

Tiptol ·

Hoekom word hierdie mense toegelaat om in ons land in te kom?!

Kompas ·

Na aanleiding van die reisverbod, word Suid—Afrikaners van 120 lande verban a.g.v Covid (501.YV2), maar ons laat elke Jan Rap en sy maat toe in ons land. Dis tyd dat daar beter beheer is by grensposte , lughawes en hawes anders gaan ons met baie Covid variante op die einde vd dag sit.

Dirk Mostert ·

Hoekom soveel syfers per variant, terwyl die variante op jou vingers getel kan word?

Johan ·

Daar is elke jaar n nuwe griep virus…wat is so anders aan die? O ja, ons “ontsmet” alles en breek so ons immuun af, los ons weerloos teen alles. Niks wat tot dusvêr gedoen word teen die virus is in lyn met goeie teen pandemie praktyd nie.

Fritz ·

Covid is anders want dis die nuutste “flavour of the month”. Griep is sooooo “yesterday”. Onthou hierdie is die meeste opwinding en drama wat baie mense nog ooit gehad het. Gun hulle dit, moenie selfsugtig wees nie.

MakersMark ·

Dink die kennis van virologie word goed weerspieël deur die naam.

MakersMark ·

Snert. En versprei nog valshede in die publiek. In ‘n CV19 pandemie moet alles ontsmet word as mense se immuunsisteme dan so sterk is hoekom is daar 3.2m dood ? En oor die 100 m siek sommige met blywende skade ?

Kobus ·

Help my hier asb.
Ons koop entstof van Indie sonder om dit te toets.Indie vervaardig die entstof maar hulle eie mense sterf by die honderde. Groot lawaai word gemaak van die ander entstofmiddels wat Sondagnag aangekom het maar moet eers deur ons getoets word? Nou hoe koop mens iets aan as jy nog nie seker is dit is volgens standaard nie? Ons het ook seker die nodige geriewe en mannekrag in plek om ons eie produk te ontwikkel? Ek vra nie namens ‘n vriend nie,ek wonder net

annie ·

Hetsy hospitale of lykshuise, mense is orals betrokke en hulle versprei weer die virusse verder. Indien dr Mkhize glo ‘we are the darlings of the world’ moet hy nou dadelik die WHO opdrag gee om die virusse in te lig dat hulle onsies in SA kan begin respekteer.

Suzette ·

Ek glo geen woord wat uit enige regeringsamptenaar se mond kom nie. Die Indiese variant het voet aan wal gesit want enigiemand en sy kiem is welkom in SA. Verseker gaan hulle nie nou al erken die variant is hier nie want dit sal paniek saak – dit sal eers later bekend gemaak word – algemene manier van sake doen in SA. Ons regering voel vere vir die burgers van die land. Hulle is net bekommerd oor stemme, geld vir die sak en die Maserati in die motorhuis….

Dirk Mostert ·

Pfizer verwag ‘n omset uit entstof van $26 miljard vanjaar, terwyl Biontech 3 miljard dosisse vanjaar wil vervaardig. Die pandemie is manna uit die hemel vir Groot Farma en daar is talle variante in die pyplyn om voor lippe af te lek. Netsoos wapenvervaardigers smag na oorlog.

Thom ·

Wêreld is oorbevolk ___ staak alle entstowwe ; 25 % van die totale wêreld-bevolking behoort te oorleef . Hospitale moet ook alle Covid-gevalle wegwys .

Karel Kobus Kruger ·

Ek is so verskriklik bang vir die Indiese variant! Ek gaan myself in my “save space” borrel toesluit en my “save word” prewel. Iemand, help my asseblief!!!

Thom ·

Vreeslik snaaks ___ jy kan doen wat jy wil ; moet netnie onskuldige mense aansteek nie .

MakersMark ·

Bly maar bang nounou verander jou “safe space” borrel in ‘n houtkas.

donsie ·

Sluit alle grense en toegang vanaf Indie. Dit is vir ons eie beswil.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.