Ingryping geëis oor departement gestremdes uit tehuis wil verwyder

Sunfield Fortuna (Foto: Verskaf)

Tensy Lindiwe Zulu, die minister van maatskaplike ontwikkeling, dringend ingryp, kan Mpumalanga ʼn tragedie soortgelyk aan Life Esidimeni op hande hê.

Só sê Bridget Masango, die DA se skaduminister van maatskaplike ontwikkeling, oor die provinsiale departement wat 37 gestremdes wat staatsubsidie ontvang uit die Sunfield Fortuna-tehuis vir gestremdes in Balfour wil uitplaas.

Die DA vra dat Zulu by die situasie moet ingryp.

Die VF Plus het ook ʼn mosie by die provinsiale wetgewer ingedien om die onderbesteding aan te pak. Hy het ʼn dringende vergadering aangevra met die LUR van die departement, Lindiwe Ntshalintshali, om die aangeleentheid te bespreek.

Maroela Media het vroeër berig die departement wil die pasiënte na hul ouers of ander tehuise uitplaas of selfs terug in die samelewing vestig. Die pasiënte is oorspronklik deur die departement in die tehuis geplaas.

Die departement se besluit volg nadat die direkteure van die tehuis geweier het om ʼn dienskontrak te onderteken om die pasiënte vir die volgende drie jaar te huisves ná ʼn versoek dat die pasiënte se maandelikse staatsubsidie verhoog word.

Die departement betaal R2 200 aan elk van die 37 pasiënte per maand en dié bedrag is die afgelope 14 jaar nog nie verhoog nie. Hiermee moet alles wat die pasiënte benodig, gekoop word.

Die departement het aangevoer dat hul begroting nie ʼn verhoging toelaat nie en dat hulle eerder die pasiënte gaan uitplaas.

“Hierdie inwoners se toekoms is duister, ondanks die feit dat die bestuur als in sy vermoë doen om die saak te beredder,” sê Masango.

“Die departement wil dié pasiënte skuif na plekke waar moontlik geen geskikte sorg vir hulle gaan wees nie. Dié inwoners ly aan ernstige toestande wat dikwels gespesialiseerde sorg vereis. Baie van die inwoners woon al 20 tot 30 jaar in die tehuis en het eenvoudig nie gemeenskappe om na terug te keer nie.

“Tensy minister Zulu tussenbeide tree, sal die inwoners teruggedwing word na gemeenskappe en huishoudings – sommige van hulle gewelddadig van aard – wat nie toegerus is om vir hulle te sorg nie. Die minister sal verantwoordelik wees vir enige tragedie wat daaruit voortvloei.”

Masango sê die bedrag wat versorgingstehuise aan staatsubsidies ontvang, is ook nie konsekwent nie weens die feit dat versorgingstehuise binne ʼn radius van 50 km vanaf Sunfield aansienlik groter subsidies ontvang. Van hierdie tehuise ontvang maandeliks meer as dubbel die bedrag wat Sunfield van die staat ontvang.

Maroela Media het vroeër berig oor die Life Esidimeni-tragedie waar 1 700 mense in 2016 van Life Esidimeni se fasiliteite na nie-regeringsorganisasies (NRO’S) sonder lisensies en die nodige geriewe oorgeplaas is. Altesaam 144 pasiënte is in die proses oorlede.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Sarel ·

Life-Esidimeni….geen Amptenaar was ooit vervolg vir due Tragedie nie…kan dieselfde weer gebeur?
Geen liefde…..geen omgee….gedn verantwoordelikheid vur die uitgeworpenes van die gemeenskap nie

KatjieDeKat ·

Ai wat gaan van hierdie mense word? Kan iemand n fonds stig waar mens elke maand n bietjie kan bydra, miskien? Dis regtig tragies, tye soos hierdie wat ek wens ek was ryk.

Miskruier ·

Daar is n fonds…..belasting. Die bybel gee opdrag om belasting te betaal sodat die wat regeer die belasting gebruik om die lewe van minder bevoorregtes te verbeter. Die regering versaak sy burgers.

Ettienne ·

Ja, wat gaan van die mense word?Geestesgesondheid is in werklikheid nie ‘n prioriteit vir of Department Maatskaplike Ontwikkeling of vir die Departement grsondheid nie. Geestesgesondheid by enkele uitondering word in ‘n groot mate bedryf binne die narratief van tribalism. Persone met geestesgesondheidsbehoeftes word geïsoleer en afgeskeep omdat hulle nie tot die “tribe” se oorlewing kan bydrae nie… Dit sal interressant wees indien die Vryheidsfront/Afriforum ‘n ondersoek van stapel kan stuur na die werklike stand van sake tov die lewering van geestesgesondheiddienste by genoemde departemente. Veral ook in die Vrystaat Provinsie.

Charmain ·

Maar pleks dat die Lotto inkomste vir hierdie mense aangewend word, word n huis in Pecanwood gekoop! Skande!

Antie Sarie ·

Daar is mense wat eerder R100 per dag op lotto sal uitgee as R100 pm skenk vir so n saak

Nico ·

Dit sal die tweede Life Isidimeni wees, is die Life Isidimeni saak al opgelos nou wil die regering dit weer doen, kan die anc regering nie dink nie.

Di ·

Regering moet minder GRANTS aan MILJOENE betaal en beter sorg vir DIE wat nie ‘n ander opsie in die lewe het nie. GRANTS is besig om die land BANKROT te maak, nooit geld vir enige iets anders nie.

George ·

Het jy gesien hoe brand SA helemal af as jy die grants wegvat van die anc supporters

Di ·

Besef dit alte goed! As jy eers vir die spul die pinkie gee, gryp hulle die hele hand. Dis mos hulle REG as “previousy disadvantaged” GEE, GEE, GEE ……….

Deon ·

Hiedie is niks anders as nog n ramp wat gaan gebeur nie. Die Life Isidimeni “moorde”, wat nou al jare sloer om vervolg te word, moet om hemelsnaam net nooit toegelaat word om onder die mat ingevee te word nie. Dit is verblydend om te sien dat daar druk op die regering geplaas word met hierdie geval. Baie groter druk behoort geplaas te word om vervolging in die Life Isidimeni vergrype te bespoedig.

Elma ·

Ek wonder altyd wat beteken “…….sal verantwoordelik wees/gehou word…..”

Marcello ·

Die Staat voel niks vir pasiënte nie, hulle word ingedruk in plekke wat nie voorsiening maak vir hulle spesiale behoeftes nie, ek praat van ondervinding.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.