Inkopiesentrum-kleuter: Ma verskyn in hof

Die foto van die seuntjie wat op sosiale media versprei is. Dit is digitaal gemanipuleer om sy identiteit te beskerm.

Die foto van die seuntjie wat op sosiale media versprei is. 

Die ma van die tweejarige blondekopseuntjie wat Vrydag naby The Glen-inkopiesentrum in die suide van Johannesburg gevind is, sal Maandag in die hof verskyn op ʼn aanklag van kinderverwaarlosing.

Ao. Lorraine van Emmerik, woordvoerder van die polisie, het aan Maroela Media gesê die saak is aan die kinderbeskermingseenheid oorhandig wat verder ondersoek sal instel. “Die seuntjie is tot tyd en wyl in ʼn plek van veiligheid geplaas,” het sy gesê.

Van Emmerik wou nie bespiegel oor die omstandighede rondom die saak nie en het gesê dit sal deel vorm van die ondersoek.

Maroela Media het vroeër berig die ma, vermoedelik 29 jaar oud, is in The Hill in Johannesburg deur lede van die GPF gevind nadat haar familie die seuntjie geëien het.

Die seuntjie is Vrydag in Vorsterrylaan in Glenanda gevind toe lede van die gemeenskap ʼn man met die seuntjie sien stap en hom gevra het waar hy die seuntjie kry. Hy het glo gesê hy het die kind by The Glen-inkopiesentrum gekry en is op soek na sy ouers. Die gemeenskapslede het die seuntjie teruggeneem na die sentrum en van daar af is ʼn grootskaalse soektog na sy ouers van stapel gestuur. ʼn Foto van die kind is wyd op sosiale media gedeel.

Michelle Pelser, woordvoerder van die Mondeor-gemeenskapspolisiëringsforum (GPF), kon teen Maandagoggend ook nie meer inligting oor die ma se verdwyning gee nie en het gesê haar verduideliking sal moontlik in die hof aangehoor word.

Maroela Media mag nog nie die ma se naam bekend maak nie.

Lees alle vorige berigte oor die inkopiesentrum-kleuter op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Louise Kruger ·

Gee hom vir my, ek sal na hom omsien!! Kan nie glo ‘n ma kan sulke dinge doen nie!!

Judith ·

Hoe kan sy n Ma wees??? Daar is mense wat regtig kinders wil he maar nie kan kry nie dan kry mens die wat kinders kry wat nie weet wat om met hulle te doen nie. Wees dankbaar vir daai kind dis n geskenk van God…. Daai kind het nie gevra om hier te wees nie my moes gedink het voor jy in die bed gespring het. Sy gaan seker met n flou verskooning voor die hof kom….

Megan ·

Dis vreeslik. Ek ys om te dink die arme seuntjie wat in n winkelsentrum ronddwaal..Dalk is daar n logiese verduideliking. ek meen ek kan nie dink dat enige ma net niks voel vir haar kind nie? ek het twee seuntjies en hulle verskil twee jaar uitmekaar uit, en hulle dryf my met tye teen die mure uit, maar ek hou altyd n oog oor hulle. Hulle gaan nerens sonder my of hulle pa nie. Nie hier oor of daaroor nie, maar omdat ek wil he hulle moet veilig wees. Ons bly in n land waar kinders gesteel word en verkoop word. Ek is lief vir my kinders en sal enige iets onder die son vir hulle doen. Ek dog dis wat mammas doen. Ons liefde is veronderstel om vir altyd te hou en alles te deurstaan. Is dit nie? Daai arme kind! My hart is sommer seer man!

E10 ·

Ek kan nie dink hulle maak nie die ma se naam bekend nie, maar in vorige publikasies het hulle die oulike, onskuldige kind se foto oop en bloot geplaas. Ek sien sy gesiggie is darem nou toegemaak. Hy is so pragtig, hulle kan hom maar vir my gee, ek sal hom met liefde grootmaak. Hoop hy kry hope liefde en aandag daar waar hy nou is. Baie waar Judith.

Alet ·

sy gesig is vroeer gewys omdat hulle toe nog na sy ouers gesoek het.

Magda ·

So hartseer ek het nie woorde nie! Mag my en die vrou se paaie nooit kruis nie!

Shari ·

As jy in Suid-Afrika bly in vandag se tyd is dit onverantwoordelik om ‘n kind te he as jy nie self finansieel sterk is nie…dis onregverdig teenoor die kind want daar is nie meer ‘n toekoms vir jongmense hier nie, en of dit nou aanvaar wil word of nie, Suid-Afrika is verlore en dit sal dekades wees voor ons dalk weer ok sal wees. Hierdie vroumens is net nog ‘n voorbeeld uit die duisende oor hoekom vooruitgang in die land tot stilstand kom. Ons nasie is siek en al manier om iets weer gesond te kry is om die kieme uit te roei…julle sien wat oral gebeur…mense wat in Suid-Afrika bly moet eerder glad nie kinders kry nie…dan hoef ons nie meer oorvol skole te he waar kinders mekaar en onderwysers aanval nie, dan hoef ons nie meer kinders te he wat swaarkry en van koue en honger lei nie, dan hoef ons nie meer ouers toe te sluit oor hulle hulle kinders tug nie, dan is daar nie meer jongmense wat hul kinders so verwaarloos nie, dan hoef ons nie meer te stres oor kinders wat nie meer morele waardes het oor hulle ouers nie meer tyd vind om dit vir hulle te leer nie, dan hoef ons nie meer kinders pille te voer vir ADHD nie wanneer hulle eintlik maar net ‘n groot verbeelding het, dan hoef ons nie meer te stres oor al die selfmoorde wat kinders pleeg omdat hulle voel hulle kan nie byhou met al die gemors in ons land nie, dan hoef ons nie meer te stres oor kinders wat al op ongelooflike jong ouderdomme seksueel aktief is nie…eks seker baie van topic af maar op die ou end kan niemand vir my se dat liefde in ‘n land soos Suid-Afrika genoeg is nie. Want is jy werklik lief vir jou kind as jy hom/haar in ‘n land inbring waar moord, verkragting en als wat ek vroeer gese het meer as net algemene gebeurtenisse is. Ek’s 27 en ek voel klaar dat Suid-Afrika moet nou klaar kry en vergaan…of wat se julle?

susan ·

Ek stem 100 persent saam met met jou Shari. Wens al die jongmense is so verstandig soos jy.

Alet ·

Shari elke land het sy probleme, regtig, jou argument is baie oordrewe. Die vrou het waarskynlik persoonlike probleme en tree daarom so op. Selfs in die rykste lande in die wereld word kinders mishandel. Onthou jy die Oostenryker wat sy eie kinders vir seks aangehou het? Onthou jy die hordes Amerikaanse kinders wat hul skoolmaats doodgeskiet het? Hier is miljoene gelukkige goedversorgde kinders in SA. Jy wil eintlik god speel oor of mense kinders mag he of nie!

James Scott ·

Shari jou argumente is onweerlegbaar, maar jou voorgestelde oplossing “Suid Afrika moet nou klaarkry en vergaan is absurd.” Wat bedoel jy vergaan? VERGAAN? Nee laat jou kop lees. Jy het ook dringengende hulp nodig !!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.