Innibos 2020 vir eers van die baan

(Argieffoto: Innibos Laeveld Nasionale Kunstefees/Facebook)

Die Standard Bank Innibos Kunstefees wat van 16 tot 20 Desember in Mbombela (Nelspruit) sou plaasvind, is gekanselleer.

Die voortslepende onsekerheid weens die verlenging van die Covid-19-ramptoestand en die invloed daarvan op die hou van groot byeenkomste ingevolge regeringsregulasies, het dié besluit deur die Innibos-direksie in oorleg met die naamborg Standard Bank genoodsaak.

Maroela Media het vroeër berig dié nasionale fees, wat reeds vyf keer as die Fiësta-toekennings se fees van die jaar aangewys is, is van Junie na Desember vanjaar uitgestel. Daar is ook beplan om die fees se program aan te pas om voorsiening te maak vir feesgangers se inkomste en moontlike verlof wat beperk is.

Andy Lubbe, feesbestuurder van Innibos, sê dit is ’n hartseer maar realistiese besluit.

“Innibos was slaggereed om ondanks talle uitdagings die kunstefees te hou. Die risiko blyk eindelik net té groot te wees, en die onsekerheid kan nie onbepaald voortduur nie. Ons is ’n klinkklare besluit verskuldig aan al ons lojale feesvennote.”

Lubbe sê die Covid-19-pandemie het ongekende uitdagings voor kunstefeeste se deur geplaas en het verreikende gevolge. “Buiten die verlies aan inkomste vir van kunstenaars tot diensverskaffers, ly die plaaslike ekonomie ook skade. Verlede jaar was die ekonomiese impak van Innibos sowat R82 miljoen. Ons is tans dalk effe moedeloos, maar beslis nie op moedverloor se vlakte nie en spring reeds weg met die beplanning vir 2021 se kunstefees.”

Die span het reeds ʼn voorlopige datum vir Innibos 2021 vasgemaak en die fees sal volgende jaar van 30 Junie tot 4 Julie plaasvind.

Feesgangers wat reeds toegangskaartjies gekoop het, kan om ’n terugbetaling vra by Computicket.

Lubbe meen die pandemie is beslis nie ʼn rede om in sak en as te sit nie. Die fees se bestuurspan is reg om volgende jaar ʼn nommerpas kunstefees vir feesgangers aan te bied.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Wielspore ·

Dit is jammer oor die afstel van Innibos 2020, vir ons was dit nog altyd familie en vriende wat kom kuier in Nelspruit en dan gaan ons saam Innibos toe. Tradisioneel reen dit ook heelwat in Desember en dit is ook baie warm en dit sou ook ‘n invloed op besoekers getalle gehad het.
Die Innibos Fees span is puik en kreatief en ons sien dan uit na ‘n 2021 Vasvat Innibos.
Hou ons kultuur hoog!

Anel ·

HOU LANK WIL HULLE DIE VIRUS VIR ALLES VOORHOU? ONS BLY IN DIE SUIDELIKE HALFROND!! DIS SOMER HIER EN DIE VIRUS IS LANKAL VREK!! Jammer, maar ek kan hierdie kortsigtigheid nie meer hanteer nie. Alle besighede ly nogsteeds onder hierdie swak regering. Maar nou ja. Hulle kry mos nie iets daaruit nie.

JohanR ·

Ek kan Anel, dink aan ‘n politieke party wat ek ook wil soe graag he moet vrek….winter, somer, herfs of lente, maak nie saak nie. Hulle kan enige seisoen asseblief vrek!

johanf ·

As die virus VREK is, hoekom is daar nog daagliks nuwe gevalle, verstaan my mooi, ek hoop en bid ook dis verby…….

Annatjie ·

Hulle moes nooit vir Steve so sleg behandel het nie. Die wiel draai……

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.