Inperkings en die ekonomie: ‘VN moet help’

AfriForum versoek onder meer belastingkwytskelding vir burgers wat op gemeenskapsorganisasies staatmaak om dienste te lewer waar regerings versuim. (Foto: Mat Reding/Unsplash)

Die burgerregteorganisasie AfriForum het die Verenigde Nasies (VN) om hulp genader om te help met die ekonomiese herstel van die land ná die skade wat deur Covid-19-inperkings aangerig is.

AfriForum, ’n spesiale raadgewende lid van die VN se ekonomiese en maatskaplike raad, versoek die VN om meer steun aan gemeenskapsorganisasies wêreldwyd te bied as deel van die VN se pogings om ekonomieë weer op te bou.

Dít sluit in belastingkwytskelding vir burgers wat op gemeenskapsorganisasies staatmaak om dienste te lewer wat regerings veronderstel is om te lewer, maar nie doen nie.

AfriForum stel ook voor dat regulasies verslap moet word om dit makliker vir gemeenskappe te maak om hul eie organisasies te stig.

“AfriForum meen dat gemeenskapsorganisasies ’n kernrol in talle gemeenskappe speel. Dié organisasies het ook regstreeks ondervinding met die uitdagings wat hul spesifieke gemeenskappe die hoof moet bied.

“AfriForum glo ook dat die handhawing van wedersydse respek tussen verskillende gemeenskappe die ruimte skep om diverse kulture te bewaar,” sê Jacques Broodryk, AfriForum se veldtogtebestuurder.

Broodryk sê voorts dat daar kreatief gedink moet word oor hoe om uitdagings te takel aangesien die wêreld enorme ekonomiese skade weens inperkings gely het.

“Elke gemeenskap is uniek en het unieke uitdagings. Gemeenskappe is daarom in die beste posisie om maniere te vind om hul probleme op te los. Regerings moet dié gemeenskappe eerder ondersteun as om een breë oplossing op verskillende gemeenskappe af te dwing.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Karen ·

En daar verdwyn my vertroue in Afriform! Ons staan en bedel? Die VN kan nie ons ekonomie probeer opbou as dit daagliks besteel word nie en dit gaan nie ophou nie. Ons land is in ñ “oorlog“ op die oomblik. Hoe teleurstellend en vernederend Afriform.

Althes ·

Karen volgens my is daar niks vernederend daaraan nie. Om die dienste te lewer wat regering veronderstel is om te doen, kos geld.

Cherokee ·

Na wik en weeg, na lees van die besware teen Karen se opinie, gooi ek my gewig agter Karen. Ons moet nie soos Afrika word nie. Daar’s jou duimop, Karen.

koos ·

Nee wat, die VN was toendertyd voor in die koor met sanksies en boycotte. Nou is rassisme, diefstal, korrupsie, volksmoord (noem maar op) erger as voorheen, waar is die VN nou? Hulle stilte is oorverdowend, verwag geen hulp nie.

Peetjie ·

Die wereld – en dan spesifiek die VN- gaan ons nie help nie, want hulle “help” maar die geld verdwyn nog voor die ink droog is…

VaalDonkie ·

Daar’s niks so erg dat die VN dit nie kan erger maak nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.