Intercape-baas se ‘dapper’ verset teen minister, taxi’s

Intercape het die afgelope paar jaar onder voortgesette teistering deurgeloop. (Argieffoto: Ashraf Hendricks/GroundUp)

Deur Tania Broughton, GroundUp

Die “onverskrokke verset” van Johann Ferreira, uitvoerende hoof van die langafstandbusdiens Intercape, in die aangesig van ongebreidelde amptelike boeliery moet geloof word, het regter John Smith verlede week in die Mkhanda-hooggeregshof gesê.

“Ongelukkig het sy maatskappy ʼn duur prys betaal vir hierdie dapper standpunt. Hopelik sal die uitspraak sy geloof staaf dat dit die regte ding was om te doen,” het die regter bevind terwyl hy redes gegee het vir sy vroeëre uitspraak.

Smith het die minister van vervoer, Fikile Mbalula, en die Oos-Kaapse LUR vir vervoer, Xolile Ngqtha, beveel om “positiewe stappe” te doen om ʼn einde te maak aan voortgesette aanvalle, oënskynlik aan die hand van bitterbek taxiverenigings teen busse wat aan Intercape behoort.

Ferreira het die hof genader en aangevoer dat sy busse sedert 2015 onderwerp word aan wydverspreide en voortdurende voorvalle van geweld en intimidasie, wat die moord op een van Intercape se drywers insluit.

Intercape het in hierdie tyd meer as 150 strafsake, 70 daarvan net in die Oos-Kaap, aanhangig gemaak.

Die regter sê die regering (as respondente) het nie betwis dat die geweld nie lukraak was nie, maar deel gevorm het van ʼn doelbewuste strategie om Intercape te intimideer en hom te dwing om toe te gee aan die onregmatige eise van taxiverenigings dat hy sy pryse aanpas, op sekere roetes bly, en heffings moet betaal om in sekere gebiede sake te doen.

Ferreira het gekla dat hy herhaaldelik om hulp gevra het, maar dat die minister en die LUR “op hul hande gesit het”.

Volgens die regter het die minister en die LUR albei misluk om hul statutêre en grondwetlike verpligtinge na te kom en hy het hulle tot die einde van die maand tyd gegee om ʼn plan van aksie by die hof in te dien om te wys watter stappe hulle gaan doen, en teen watter tydstip, om die veiligheid van busdrywers en -passasiers te verseker.

“Dit is duidelik dat niks gaan gebeur indien hulle nie gedwing word om te voldoen aan hul grondwetlike en statutêre verpligtinge onder die toesig van die hof nie,” het regter Smith bevind.

Die regter het ook kennis geneem van die feit dat nóg die LUR nóg die minister die moeite gedoen het om persoonlik beantwoordende verklarings in te dien. Hulle het ook nie dié verklarings wat namens hulle ingedien is, bevestig nie.

“Die gevolg is dat hierdie angswekkende bewerings oor onbeskaamde misdadigheid, die regering se onverskilligheid en, selfs meer kommerwekkend, ʼn LUR se gelatenheid oor die misdadigheid onuitgedaag bly … dit is ʼn kommerwekkende aspek van die saak.”

Die opmerking oor die LUR se “gelatenheid” was ʼn verwysing na Ferreira se bewering dat die enigste keer dat die voormalige LUR, Weziwe Tikana-Gxothiwe, hom genader het, was toe taxiverenigings die N2 versper het.

Sy het hom beveel om met die taxioperateurs te onderhandel. Ferreira het geweier.

Die regter het bevind Tikana-Gxothiwe se optrede was onregmatig en dat die feit dat sy uit haar pos verwyder is, haar nie onthef van die plig om daaroor verantwoording te doen nie.

Ook Mbalula en die huidige LUR het deurgeloop.

“Ek is van mening dat die bewyse vasstel dat die LUR versuim het om op enige sinvolle manier in te gryp. Die minister self het niks gedoen om in te gryp nie.”

Die regter het bevind albei het ʼn duidelike en fundamentele wanbegrip van hul plig gehad en dat dit ʼn bestraffende kostebevel teen hulle regverdig.

Ferreira het in reaksie op die uitspraak gesê hy hoop dit skep ʼn presedent en dat ander sektore in die ekonomie wat weens die regering se mislukkings ly, dit sal gebruik.

“My ander hoop is dat politieke hoofde en senior amptenare persoonlik vir koste aanspreeklik gehou word. Ek vind dit geweldig onregverdig dat die koste vir die uitspraak nie deur die geraakte enkelinge gedra word nie, maar deur gewone belastingbetalers.”

Ferreira sê as eerste praktiese stappe moet die minister en die LUR verseker dat sekere geentoegangsgebiede in die Oos-Kaap oopgestel word. Die minister moet ook begin met ʼn proses om stappe te doen teen taxioperateurs wat by onregmatighede betrokke is en die LUR moet alle inligting oorhandig wat tot die inhegtenisneming van oortreders kan lei.

Laasgenoemde is veral dringend omdat daar tot dusver nie ʼn enkele inhegtenisneming was nie.

  • Die oorspronklike berig is deur GroundUp geplaas. Dit is verkort en word met vergunning deur Maroela Media gebruik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Pietertjie ·

Nou moet daai twee menere in hul persoonlike hoedanigheid aangevat word vir die lewensverlies en skade veroorsaak deur hulle pligsversuim.

Lillian ·

Mnr Ferreira, die minister en die taxi organisasies is almal kop in een mus, ek haal my hoed af vir jou!

Joggie ·

Moenie enige hulp van daardie twee narre verwag nie. Hulle ondersteun alle terreur teen wetsgehoorsame burgers. Hulle is lede van cANCer…

Kokerboom ·

Mnr Ferreira dankie vir u onversetlike houding. Dit baan weg vir aantree van alle betrokke Ministers en LUR’e rakende plaaslike owerhede, veiligheid, gesondheid, vervoer en so kan lys aangaan.

Pannies ·

Hierdie verhaal bevestig net weer die gebrek aan diskresie en oordeel en die totale onbevoegdheid van meeste vd huidige ampsdraers in die regering. Dit is n skande en tragedie dat sulke mense in poste aangestel word wat die breë publiek moet dien.
Baie geluk Johan Ferreira met jou moed om op te staan vir geregtigheid.
Ons hoop dit gaan nou beter met jou busdiens aan die publiek.

Pierre ·

sal niks van kom nie, die Taxi Mafia sal hulle dood eenvoudig net afvee daar aan

SjN ·

Daar dop onbevoegde Frikkie en sy kaders nog n toets, knap gedaan Mnr Ferreira, give that man a bells.

Herman L ·

Hier is nog ‘n bewys dat die kamerade wat ons land regeer nie ‘n flenter omgee vir wetsgehoorsame landsburgers nie. Slegs wanneer dit hulle pas, sal hulle die wet gebruik om hulle te beskerm. Die kanse dat hulle die hof se opdragte gaan uitvoer is nul.

Delia ·

Johan is n voorbeeld van n Afrikaner wat iets doen. Wees net veilig asb

Koos 100 ·

In enige land waar wet en orde ‘n rol speel, het die president die koppe laat rol. Maar hiet by ons word hulle beloon met gratis krag en water, vervoer, kos, behuising, sekuriteit en ‘n salaris van R200k per maand! WANT die president het ook sy hand in die koekieblik!

Di ·

Hierdie spul is te SLEG en ONBEVOEG om hulle te werk te doen. Hulle sit net in die poste vir die salaris, PUNT

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.