Intercape-busbestuurder sterf ná skietery

Argieffoto van ‘n Intercape-bus (Foto: Intercape, Facebook)

’n Busbestuurder van Intercape is dood dae nadat hy buite Intercape se depot in Kaapstad geskiet en ernstig gewond is.

Hierdie aanval op die 35-jarige busbestuurder is volgens Intercape deel van ’n veldtog van afpersing en geweld teen die langafstand-busbedryf om busse te dwing om sekere roetes te ry. Meer as 150 aanvalle op busbestuurders en -passasiers is verlede jaar aangemeld – aanvalle waarin bestuurders geskiet of met klippe bestook word of hul busse aan die brand gesteek word.

Volgens ’n verklaring uitgereik deur Intercape is aanvalle hoofsaaklik gesentreer rondom sleuteldorpe en -roetes in die Oos-Kaap, waar taxi-operateurs na bewering daarop ingestel is om maatskappye soos Intercape uit besigheid te dwing deur gewelddadige intimidasie of afpersing.

Volgens die verklaring is die betrokke busbestuurder Maandag drie keer geskiet nadat hy die depot verlaat het. Hy is na ’n nabygeleë hospitaal gehaas waar hy ’n noodoperasie moes ondergaan.

Hy het egter drie dae later aan sy beserings beswyk. Hy word oorleef deur sy vrou en kinders.

Johann Ferreira, uitvoerende hoof van Intercape, sê die bestuurder se dood volg nadat dié busmaatskappy al meermale gesmeek het dat die regering hierdie aanvalle teen busbestuurders help bekamp.

“Ons het by owerhede gepleit om dringend op te tree voordat onskuldige mense vermoor word. Nou is dit te laat en ons by Intercape is heeltemal verpletter om te hoor van die dood van ons kollega,” sê Ferreira.

“Die langafstandtreinstelsel in Suid-Afrika is stelselmatig afgetakel, infrastruktuur is vernietig en gesteel deur boewe en diewe en sekere kriminele elemente binne die taxibedryf. Die taxibedryf is nou besig om die langafstandbusoperateurs, spesifiek in die Oos-Kaap, te neutraliseer en sodoende passasiers in die minibustaxi’s in te dwing.”

Ferreira sê hulle het plaaslik met die polisie gesels en daar was ook gesprekke met verteenwoordigers van die taxibedryf. Nietemin duur die aanvalle onverpoosd voort en het dit toegeneem. “Ons het nou skakeling met die polisiediens op die Nasionale Gesamentlike Operasionele Intelligensiestruktuur (Natjoints)-vlak begin en hoop dat dit verandering sal meebring.”

Ferreira het bevestig dat Intercape ook persoonlik aan pres. Cyril Ramaphosa geskryf het in ʼn desperate poging om aandag te gee aan die geteikende aanvalle wat op Intercape en die langafstandbusbedryf gemik is.

Intercape vra ook die polisie om in te gryp om busbestuurders op die geteikende roetes te beveilig.

’n Intercape-langafstandbusbestuurder, wat anoniem wil bly, vertel hy vrees vir sy veiligheid elke keer wanneer hy op die geteikende roetes reis. “Jy sien die aanvallers langs die pad staan en die volgende oomblik hoor jy die geweerskote klap en die bus se venster breek,” vertel die bestuurder.

“Dit is die vreesaanjaendste ding wat jy jou kan voorstel terwyl jy duik om die koeëls te vermy en probeer om die bus onder beheer te hou terwyl die passasiers agter jou van vrees skree.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Jr ·

Dinge raak nou te erg in Suid Afrika. Hierdie mense nee dinge het hand uit geruk want daar is nie gevolge. Hulle govt laat hulle doen net wat hulle wil. Anarchie heers.

Misky ·

Hoe kan dit toegelaat word as owerhede weet waar geteikende roetes is? Hoekom moet die meerderheid van ons in vrees leef, terwyl die kriminele maak en breek soos hulle wil?

Samuel ·

Hoe verskriklik hartseer om hierdie berig te lees! Ek het al ‘n paar keer van Intercape busdiens gebruik gemaak en dit is ‘n puik diens. Booswigte het egter in Suid-Afrika die mag om te plunder en te moor. Die regering sal niks doen om die langafstand busdiens te beskerm nie, aangesien dit nie aan our people behoort nie.

Mag die afgestorwe busdrywer in vrede rus.

melaney ·

Intercape was ‘n puik busdiens. Al lankal nie meer die geval nie.

SjN ·

Geen wet en orde word toegepas weens onbevoegdheid van our people.

RB ·

So moet n hardwerkende pa, wat noodgedwonge dikwels uitstedig is om vir sy gesin te sorg, n statistiek word omdat die SA regering in hul fondamente krimineel en korrup is.

Geen aardse straf is genoeg vir sulke dade maar daar wag verseker n gepaste straf.
Onthou gerus dat elkeen wat hierdie optrede bemagtig soos CR en BC doen, is nèt so skuldig, is aandadig aan elke boosheid.

Stephen ·

Mense moet besef dat dinge nooit weer beter sal raak nie. SA lankal leierloos en dit sal net erger word. Ons het lankal SA verlaat en probeer ons kinders ook uitkry.
Jaar gelede met n besoek aan ons kinders naby Lepalale amper gekaap deur n Taxi vol rowers maar ons het net weggejaag en ongelukkig paar kapers misgery. Ek stop vir niemand in SA.

Anel ·

Net weer ‘n bewys dat ons deur rampokkers en misdadigers regeer word. So jammer mens kan nie die hele ANC regering aankla vir misdade teen die mensdom nie, want die hele lot is misdadigers!!!

mattk ·

Die taxi eienaars wil mos alles hê en word deur die minister van vervoer ondersteun…. hyngee mos geld sodat nuwe taxis aangekoop kan word en subsidueer die bedryf. Elke dag is net meer taxis op die pad en alle verkeersreëls geld nie vir hulle nie. Menigte word ook deur raadslede en wetstoepassingsbeamtes besit en daarom word daar nie teen hulle opgetree nie.

Aanhouer ·

Hierdie land kort ň nuwe president en polisiehoof. Die hele parlement moet vervang word! Hier is niks van hierdie land oor nie.

melaney ·

Ek ry met ‘n private diens wat nie eintlik bekend is nie. Ons ry altyd veilig.

Johanna ·

Geen wet en orde nie. Elke mens moet n reg hê om te kies watse vervoer hy/sy wil gebruik.
Taxi bestuurders is roekeloos op die pad. Hoekom sal ek nou met n DOODS KIS TAXI wil ry?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.