Buitelandse toeriste stroom na Voortrekkermonument

Erfenisdag by die Voortrekkermonument. (Foto: Verskaf)

Toerisme in Suid-Afrika het oor die afgelope paar jaar swaar getrek, maar as die Voortrekkermonument (VTM) enigsins ’n aanduiding is, is internasionale toeriste besig om Suid-Afrika in hul duisende te besoek.

In Januarie en Februarie verlede jaar het die Voortrekkermonument 352 internasionale besoekers gehad. ʼn Jaar later het dié getalle drasties toegeneem met 4 400 oorsese kuiergaste wat hulle hiér kom tuismaak het.

“Die feit dat ons besoekersgetalle in een jaar meer as verdriedubbel het, wys net weer dat die VTM werklik een van die land se mees geliefde toeriste-aantreklikhede is. Dit is fantasties om te weet dat ons by die monument weer die geleentheid het om, nou meer as ooit tevore, ons verhaal die wêreld in te dra,” sê Marianda Schlebusch, die VTM se bestuurder van kultuurtoerisme.

Met die uitbreek van die Covid-19-pandemie in 2020 het dié prentjie egter baie anders gelyk en monumente, gedenktekens en museums regoor die land het begin swaar trek, insluitend die VTM.

Volgens die 2020-Toerismeverslag wat deur Statistieke Suid-Afrika uitgereik is, het buitelandse besoekersgetalle tydens die pandemie met 71% gedaal, van net meer as 15,8 miljoen in 2019 tot minder as 5 miljoen in 2020.

Dié verslag toon dat die algehele aantal reisigers met 71,0% tussen 2019 en 2020 afgeneem het. Die algehele aantal reisigers het oor ʼn 15-jaar tydperk met 50,7% afgeneem, van byna 24,6 miljoen in 2006, tot 12,1 miljoen reisigers in 2020.

Schlebusch sê die onlangse toename in buitelandse besoekers skep ʼn groot geleentheid vir die monument om die geskiedenis van die Afrikaner aan ʼn groter, internasionale gehoor oor te dra.

“Ons is besonder dankbaar dat ons oorsese toeriste begin terugkeer na die VTM,” het sy gesê.

In Augustus verlede jaar het Martin Bosma, die adjunkspeaker van die Nederlandse huis van verteenwoordigers, ondervoorsitter van die Tweede Kamer en verteenwoordiger van die Partij voor de Vrijheid (PVV), saam met bestuurslede van die Solidariteit Beweging, die Voortrekkermonument (VTM) besoek.

Vroeg vanjaar het 25 Belgiese skoliere die VTM besoek met die Prosa-11-uitruilprogram tussen Hoërskool Garsfontein en Oscar Romero College in België. Kort hierna het Wierd Duk, die senior redakteur van De Telegraaf, die grootste koerant in Nederland is, in Suid-Afrika gekuier saam met sy dogter Zetske en vertel dat die VTM vir hom werklik ʼn groot hoogtepunt was tydens sy besoek aan die land.

Dit is skynbaar nie net buitelandse toeriste wat nou weer meer gereeld na Suid-Afrika reis nie. Volgens Bonnie Smith, algemene bestuurder van die Flight Centre Travel Group (FCTG), is die koers waarteen sakelui binne en buite Suid-Afrika reis, ook besig om te herstel na voor-pandemie-vlakke.

“Wêreldwyd is daar jaarliks ʼn toename van 18% in die geral passasiers aan boord vlugte. In Suid-Afrika het die getal mense wat internasionaal vir besigheid reis, met 26% gestyg.”

Sy sê dit is ʼn duidelike teken dat ondernemings weer gereed is om weer van aangesig tot aangesin met hul kliënte te ontmoet.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.