Interpol gevra vir hulp met Guptas-arres

Ajay en Atul Gupta. (Foto: ANA)

Die Nasionale Vervolgingsgesag het Donderdag aangekondig dat hy die hulp ingeroep het van Interpol om hom te help om lasbriewe vir die inhegtenisneming van lede van die Gupta-familie uit te voer.

Adv. Hermione Cronje, hoof van die NVG se ondersoekdirektoraat, het gesê die NVG het ʼn aansoek by Interpol ingedien om hulle by te staan met die uitvoer van lasbriewe vir die inhegtenisneming van Atul Gupta en sy vrou Chetali, Rajesh Gupta en sy vrou Arti, die voormalige Bank of Baroda-rekeningondertekenaar van Nulane Investments Ankit Jain, direkteur van Wone Management Ravindra Nath, en direkteurs van Pragat Investments Ramesh Bhat en Jagdish Parekh.

Sindisiwe Seboka, woordvoerder van die NVG, het in ʼn verklaring gesê Iqbal Sharma, voormalige Transnet-raadslid en sakevennoot van die Gupta-vennoot Salim Essa, het Donderdag saam met drie voormalige senior beamptes van die Vrystaatse regering in die Bloemfonteinse landdroshof verskyn op aanklag van bedrog ter waarde van R24 miljoen wat deur die Vrystaatse departement van landbou aan Nulane Investments 204 oorbetaal is – ʼn maatskappy wat aan Sharma behoort.

Volgens Seboka is die geld van daar na Islandsite Investments 180 oorbetaal, ʼn maatskappy wat deur die Guptas besit en beheer word.

In die klagstaat wat vandag by die hof ingedien is, voer die staat aan dat Sharma, tesame met die voormalige Vrystaatse hoof van die departement van landelike ontwikkeling Peter Thabethe, die voormalige hoof van die provinsiale departement van landbou Limakatso Moorosi, en die voormalige hoof- finansiële beampte van die provinsiale departement van landbou Seipati Dhlamini, saamgespan het om geld, wat vir landelike ontwikkeling in die Vrystaat geoormerk is, elders aan te wend. Hierdie geld is daarna beskikbaar gemaak vir gebruik deur die Gupta-familie.

Die R24 miljoen is glo aan Nulane oorbetaal om ʼn lewensvatbaarheidstudie te doen vir die Vrystaatse vlagskip Mohoma Mobung-projek, op grond daarvan dat Nulane oor die unieke vaardighede beskik het om die werk te doen.

Nulane Investments het egter nie enige werknemers op sy boeke gehad nie en het Deloitte Ltd gesubkontrakteer om die verslag saam te stel. Deloitte het ʼn bedrag van R1,5 miljoen vir die werk gekry. Die enigste verandering wat aan die Deloitte-verslag aangebring is, was om Paras Dairy te identifiseer as ʼn geskikte vennoot vir die ontwikkeling van ʼn suiwelprosesseringsaanleg in Vrede.

“Die beskuldigdes staan tereg op aanklag van bedrog en geldwassery,” het die Seboka gesê. “Die voormalige regeringsbeamptes staan ook tereg op oortreding van die Wet op Openbare Finansiële Bestuur (PFMA).”

Die NVG se ondersoekdirektoraat staan borgtog teen. Die beskuldigdes moet Maandag weer in die hof verskyn.

Die vyfde beskuldigde in die saak, Iqbal Sharma se swaer en ʼn verteenwoordiger van Nulane Investments, Dinesh Patel, sal eers amptelik op 15 Junie in die hof verskyn weens gesondheidsredes.

Hulle word aangekla saam met die volgende maatskappye: Nulane Investments 204 (besit en bestuur deur Sharma), Wone Management, Pragat Investment en Islandsite Investments. Die res van die beskuldigdes is tans nie in Suid-Afrika nie.

“Die modus operandi in hierdie saak word klaarblyklik in ander staatsdepartemente en projekte herhaal. Dit is dus noodsaaklik dat die bewyse wat versamel is so vinnig as moontlik aan die hof voorgehou word en ʼn uitspraak bekom word.” Staatsaanklaers het dus besluit om afsonderlike met die aanklagte voort te gaan teen die beskuldigdes wat tans in die land is, aangesien die proses van inhegtenisneming en uitlewering van diegene in ander lande die hofsaak onbehoorlik kan uitstel.

Om ʼn vinnige verhoor in die saak te verseker, sal die beskuldigdes se finale akte van beskuldiging en die inhoud van die dossier op 15 Junie oorhandig word. Die saak sal dan na die hooggeregshof verwys word sodat die beskuldigdes op die aanklagte kan pleit.

Brett Herron, sekretaris-generaal van die Good-party, het intussen gesê sy party verwelkom die aankondiging deur die NVG om hulle te help om die inhegtenisnemings uit te voer sodat die Guptas, hul vroue en verskeie sakevennote na Suid-Afrika gedeporteer kan word en tereg kan staan op aanklagte van bedrog en geldwassery.

“ʼn Interpol- rooi kennisgewing is ʼn versoek vir wetstoepassers wêreldwyd om ʼn persoon op te spoor en voorlopig in hegtenis te neem hangende ʼn uitlewering, oorgawe of soortgelyke regsaksie,” het Herron gesê.

“Alhoewel die Guptas en hul vennote gesoek word in verband met die Estina-suiwelplaassaak, wat betref geldwassery van sowat R24 miljoen, weet ons dat die Guptas na bewering ook ons land uit miljarde rand bedrieg het. Die inhegtenisneming van die Guptas sal nie Suid-Afrika se korrupsiekrisis oplos nie, maar dit sal ʼn belangrike boodskap stuur dat daar gevolge is vir diegene wat straffeloos gesteel het – selfs diegene met vriende in hoë plekke.

“Hoe vinniger hulle in hegtenis geneem kan word en ons hulle kan terugkry op plaaslike bodem om te reageer op dié aanklagte en bewerings, hoe vinniger kan diegene, wat nog steeds staatsgeld plunder, die boodskap kry dat hul dae getel is.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

OW ·

Yvonne,dit is nie na hoeveel jaar skrik hulle wakker nie.Sedert die Guptas die land verlaat het,word die ondersoeke nog deurlopend gedoen.Hierdie was en is ‘n ingewikkelde saak met los punte wat soos ‘n kraaines deurmekaar vleg as jy die artikel goed bestudeer.Die oomblik toe Zuma nie meer president was nie,was hulle reeds weg gewees.Die een Gupta het nog ‘n dag voor Zuma af is as president,sy laaste opdragte by ‘n kragsentrale in Mpumalanga gegee en toe verdwyn.Hierdie saak gaan nog jare duur.

Pietertjie ·

Dit laat my terugdink am die tyd toe ons op die nuuskanale gevolg het hoe die Guptas besig was om die land te verlaat, en die owerhede het sekerlik ook die nuus dopgehou. ‘n Regte perd-en-staldeur storie. Nou moet iemand anders die perd probeer terugkry in die stal.

SjN ·

Plaas n losprys op hul koppe, hier is baie potensieele kundige mense wat hul sal wil gaan haal.

Suzette ·

Ek hoop werklik dat hierdie skelms tot verantwoording gebring sal kan word – hulle is so glibberig soos palings en het die SA regering sien kom – maklike prooi – flits net ‘n paar note en hulle volg jou soos skape….

Genis ·

Die Gupta saga laat mens dink aan die ou TV reek Loving… of Days of our Lives….

Winnie ·

Niks is gedoen toe dit net rokie was nie nou moet vure doodgeslaan word

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.