Inwoners probeer vergeefs traliehek by skuiling oopkry

Benjamin, Mianique en Luané Bingham (Foto: Facebook)

Benjamin Bingham (8) se bloedstollende gille het inwoners van die Purple Moss-skuiling in Noordwes Sondagaand na buite laat hardloop.

Benjamin het in daardie stadium aan die traliehek voor sy gesin se brandende kamer by die skuiling geruk. Die kamer was in vlamme gehul.

Inwoners van die skuiling het vergeefs probeer help. Niemand het in daardie stadium geweet waar die traliehek se sleutel is óf hoe om die traliehek oop te kry nie. Daar was ook geen manier om Benjamin deur die traliehek na buite na veiligheid te bring nie.

Die seuntjie is eindelik saam met sy ouers, JP Bingham (26) en Esmé Labotske (25), en sussies, Mianique (3) en Luané (2), dood nadat die vlamme hul kamer verswelg het.

Die brand is vermoedelik veroorsaak deur ʼn kers wat tydens beurtkrag omgeval het.

“Die res van die inwoners moes aanskou wat daar gebeur het. Dit wat hulle dáár beleef het, behoort niemand te beleef nie,” sê Elsa Lourens, plaaslike raadslid, ná die tragedie.

Dirk van Schalkwyk (60), ʼn inwoner van die Purple Moss-skuiling, woon in ʼn wendy-huis op die perseel. Hy vertel dat hy Sondagaand net voor 21:00 wakker geword het van ʼn rumoer en na buite is om ondersoek in te stel.

“Toe ek buite kom, was alles reeds verby. Die vlamme was al so erg dat hulle nie gered kon word nie.”

JP Bingham en Esmé Labotske (Foto: Facebook)

Van Schalkwyk sê “die jong klomp” by Purple Moss is veral getraumatiseer. “Hulle het mense gestuur om vir ons berading te gee. Ons vat dit nou maar dag vir dag. En ons bou weer op wat ons in die brand verloor het.”

Lourens het die skuiling Maandag besoek. “Die inwoners is in ’n dwaal. Hierdie mense gaan berading moet ontvang.”

Die hulp van beraders is reeds ingeroep om die inwoners by te staan.

Volgens Lourens moes sommige van die brandbestryders wat Sondagaand op die toneel was, glo ook Maandag berading ontvang.

Purple Moss op Zandfontein naby Brits het ten tyde van die brand skuiling aan altesame 63 mense onder wie kinders en bejaardes verskaf. Die skuiling was eens ’n skoolgebou wat nou in blyplekke omskep is.

Volgens Lourens is vyf klaskamers (wat in skuilings omskep is) sowel as die kosstoorkamer in die brand vernietig.

Die Purple Moss-skuiling waar die brand uitgebreek het. (Foto: AfriForum Hartbeespoort/Facebook)

Die gemeenskap is sedert die brand oorval met skenkings van onder meer kos, klere, komberse, matrasse, doeke en toiletware – soveel so dat daar nou planne beraam moet word om al die skenkings veilig te berg.

“Ons het meer as waarvoor ons kon hoop,” sê Lourens oor die ruim hulp.

Die begrafnisondernemer Avbob het intussen sy dienste gratis aangebied en ʼn predikant het aangebied om die begrafnisdiens te behartig.

“Hulle sê altyd ʼn gemeenskap word gemeet aan hoe hulle saamstaan tydens ʼn krisis…,” sê Lourens.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Nicholaas ·

En dit omdat ons onself behoorlik moet toe grendel om misdadigers uit te hou, baie tragies en sterkte aan al die naastes.

Ronel ·

Ek het nie woorde nie – dis so hartseer!!!! Kan my nie eers indink hoe die mense moet voel wat daar was en dit beleef het nie. Hartverskeurend!!!!

Karoo ·

Die breek ‘n Man se hart, hulle kon gered gewees het. Ek hoop dat die tragedie verandering gaan bring dat dit nie weer gebeur nie.

tierwyfie ·

Dis as gevolg van die swak ANC regering wat alles tot in die grond bestuur het dat daar soveel onnodige sterftes is.
Dis tyd dat hulle pa staan vir al hierdie slagoffers as gevolg van beurtkrag.
Dit kom vir my neer op moord.

Willem ·

Dis verskriklik, geen kommentaar kan dit beter maak nie dis eenvoudig hart verskeurend.

MiCheLLe ·

Daar word so baie emosies ontlok… Hartseer en skok vir die slagoffers is oorheersend… Dis onbeskryflik hartseer en tragies…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.