Inwoners raadop oor waterkrisis in Olifantshoek

Beamptes van die Gamagara Plaaslike Munisipaliteit stel ondersoek in na waterprobleme in Olifantshoek. Foto: Gamagara-munisipaliteit

Sommige inwoners van Olifantshoek in die Noord-Kaap het Vrydagoggend weer water gehad, maar oor wanneer álmal water gaan hê en hoe lank dit gaan hou, is mense van dié klein Noord-Kaapse dorpie steeds onseker.

Die dorp is geruime tyd al in ʼn waterkrisis gedompel en inwoners sit hande in die hare en met talle onbeantwoorde vrae oor wat gedoen word om die watertoevoer behoorlik te herstel.

Wynand Boshoff, Noord-Kaapse leier van die VF Plus, sê hulle wag op terugvoer van die LUR vir samewerkende regering in die provinsie, Bentley Vass. Die party het Vass gevra om dringend werk te maak van die voortslepende waterprobleme in verskeie Noord-Kaapse dorpe, ook Olifantshoek.

Boshoff sê Vass het ʼn wetlike plig om by die waterkrisis in te gryp.

“Daar dreig ʼn wateropstand in byna elke Noord-Kaapse dorp,” sê Boshoff.

Hy sê sake wat ondersoek moet word, is die munisipaliteit se bewerings dat die waterprobleme voor die deur van Sedibeng Water, wat water aan die Gamagara- plaaslike munisipaliteit verskaf, gelê moet word. Boshoff sê egter Sedibeng Water sê daar was geen probleem aan sy kant met waterverskaffing nie. “Verder dui lekplekke in die opgaardam daarop dat daar deurentyd voldoende water was,” sê Boshoff.

‘n Vragmotor word geplunder tydens betogings oor die waterkrisis in Olifantshoek. Foto: Facebook

Die VF Plus vra ook vir ʼn ondersoek na die finansiële situasie van die munisipaliteit, die vergoeding van amptenare en ʼn leefstyloudit van spesifiek die finansiële hoof. Boshoff sê ook dienslewering is bykans afwesig in die munisipale kantoor in Olifantshoek.

Ná bykans ʼn maand van min of geen water in Olifantshoek se krane nie het die situasie vandeesweek in geweld oorgegaan. Inwoners het Dinsdag begin betoog en Woensdag ʼn vragmotor wat bier vervoer eers geplunder en toe aan die brand gesteek.

Michelle Opperman, ʼn inwoner van die dorp, sê ʼn misdadige element het by die betogings betrokke geraak en dít het tot die plundering gelei.

Opperman sê ook inwoners sukkel om direkte antwoorde uit die Gamagara- plaaslike munisipaliteit te kry oor wát presies die probleem met behoorlike watertoevoer is. Sy sê inwoners eis bewyse dat die munisipaliteit die Sedibeng-distriksmunisipaliteit, wat water aan Gamagara verskaf, betaal het. Sy sê inwoners wil ook sélf sien of die dam wat water aan Olifantshoek se dam verskaf, leeg is, soos wat die plaaslike munisipaliteit beweer.

Amptenare van die Menseregtekommissie was gister op die dorp om hulle van die situasie te vergewis.

Foto: Facebook

“Hierdie is ʼn menseregteskending. Mense is geregtig op water,” sê Opperman.

Die plaaslike munisipaliteit het wél watertenks verskaf, maar dit is glo hopeloos te min. “Die munisipaliteit móét verseker daar is genoeg water vir almal.” Opperman beweer inwoners word boonop geïntimideer wanneer hulle gaan water haal.

Die VF Plus sê daar is ander munisipaliteite wat deur droogte geteister word en waar daar regtig bykans geen water meer is nie, maar dat dit nié die geval in Olifantshoek is nie. Boshoff sê daar is infrastruktuur én water, maar dat bestuursprobleme tot die wateronderbrekings lei.

Die LUR was nie onmiddellik beskikbaar vir kommentaar nie.

Protea Leserwane, munisipale bestuurder van die Gamagara- plaaslike munisipaliteit het nog nie op Maroela Media se versoek om kommentaar gereageer nie.

ʼn Inwoner van Olifantshoek het intussen op Facebook geskerts dat ʼn emmer water die beste geskenk is wat iemand dié Valentynsdag kan kry.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

BlinkStephaans ·

Die mooiste vir my is dat die ouens mos gestem het vir die mense in beheer… en met die komende verkiesing weer so sal maak. Ag maar kry gerus vir julle ñ gratis biertjie geborg deur SAB en dan profeteer julle bietjie met mekaar oor hoekom julle nou eintlik in die penarie sit. Kans is maar skraal dat julle by die antwoord sal uitkom maar tenminste was julle nie dors vandag.

Waarheid ·

Die waarheid is, daar sal nie ‘n water tekort wees as die munisipaliteit nie die hoofbron betaal het nie , die munisipaliteit moet net Sedibeng betaal.

Lune ·

Maroela, laaste foto is geneem in kathu. Nie olifantshoek nie. Hier was nie gebarste pype in Olifantshoek nie

Anja van der Merwe ·

Dagsê Lune

Dankie vir jou kommentaar. Ons vra om verskoning vir die oorsig. Die foto is van die berig verwyder.

Groetnis
Anja
nms Maroela Media

Reynete ·

Daar is geen dienslewering in Olifantshoek nie. Was Desember daar, dis ń skande hoe vuil die plek is.

Gert ·

Dit getuig van fyn beplanning, plunder eers die bier voor jy die vragmotor uitbrand!
As daar nie water is nie, drink bier!

Gatvol ·

ons het al vir 2 weke + soner water gesit oor “pype wat glo gebars het” maar Rand Water ons water afgesit oor R85 miljoen wat uitstande is .. ons trek nou alweer by dag 4 sonder water

StemSaam ·

Ek stem 100% saam, dink ons moet ook begin brand en plunder, hulle weet hul kan dit by blankes doen, want hul gaan net n email skryf en moan op facebook, niks en nerens anders nie. Steek Rand Water aan die brand dan sien jy hoe vinnig kry hul daai “stukkende pyp” reg.

Elna ·

Daars n water krises in die Suid kus van KZN . Sommige mense sit sonder water daar alreeds van Maandag af weens pyppe wat gebars het. Die direkreur van Ugu munisipaliteit het die mense belowe dat daar nooit weer so krises sal wees nie en kyk nou. Hulle sit wel water punte op vir die mense maar hou nie altyd die tank vol water nie. Water is die mees noodsaaklike hoofbron van enige mens en dier se bestaan. Niemand kan sonder water lewe nie.

Johannes ·

Hoekom is julle verbaas? Is daar iets wat werk in FW se Nuwe SA?

Johannes ·

Mense hoekom is julle verbaas? Is daar iets wat werk in FW se Nuwe SA?

Johanna Botha ·

Ag wat jullw het mos vir die dom mense gestem …so wat verwag julle dan anders !

aj ·

Daar is nie te min water nie!

Daar is te veel mense!

Almal behoort te weet hoeveel water daar is … en hoeveel mense daarop kan leef.

Daar moet VOORKOM word dat daar méér mense gaan woon as wat die water kan dra.

So maklik soos dit!

Die arm waterlose mense van die jaar 2039 moet nie vanjaar (2019) GEBORE word nie.

Sapiens qui prospicit!

Danie S ·

In Nylstroom/Modimolle gaan dit net so, ons het darem nou elke 2de dag water van 16:00 tot 04:00 tensy daar een of ander sogenaamde slim verskoning uitgedink word.

Geld word vermors op ander dinge en die mislikepaliteit het baie skuld.

Paaie is vol gate, riool plaas werk nie, plek is vuil, straat ligte werk nie en algemene diens lewering is uiters swak.

Politisie tree nie die munisipale bestuurder aan nie, hulle stel die persoon aan (ook die seksie 56 bestuur) en is veronderstel om toesig te hou dat die belasting betaler se belange op die hart gedra word.
Die klomp wat die politisie ingestem het betoog en gaan te kere, maar hulle sal weer vir die “cause” stem en nie die regte mense daar stel om die plek reg te ruk nie.

Andrew ·

Eienaardig hoe die hele land se mense die DP Wes-Kaapse verkwalik het omdat die ANC nie vroegtydig opgetree het nie. Maar nie ‘n woord oor al die ANC beheerde dorpe se waterlose probleme nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.