Bewerings het pas aan die lig gekom dat die Iranse regering ’n komplot smee om Lana Marks, die Amerikaanse ambassadeur in Suid-Afrika, te vermoor uit weerwraak vir die dood van die Iranse generaal Kassem Soleimani.
Soleimani is in Januarie vanjaar in ʼn Amerikaanse hommeltuigaanval in Irak dood.
Die Amerikaanse webwerf Politico het Sondag berig Amerikaanse amptenare is luidens ’n Amerikaanse intelligensieverslag reeds ’n geruime tyd bewus van die bedreiging teen Marks. Meer besonderhede daaroor het egter eers die afgelope paar weke aan die lig gekom.
Volgens Politico is Marks reeds in kennis gestel van die beweerde komplot waarby die Iranse ambassade in Pretoria glo betrek word.
Marks (66) is in Suid-Afrika gebore en is verlede Oktober as Amerikaanse ambassadeur beëdig. Sy en pres. Donald Trump van die VSA ken mekaar al twee dekades lank. Politico berig sy word vermoedelik weens haar jarelange vriendskap met Trump geteiken.
Lunga Ngqengelele, woordvoerder van die departement van internasionale betrekkinge en samewerking (Dirco), het aan Maroela Media gesê hy het Maandagoggend eers van die bewerings bewus geword nadat hy daarvan in die media gelees het.
Ngqengelele het gesê hy is besig om navraag daaroor te doen.
Herhaalde oproepe na die Amerikaanse ambassade in Pretoria was Maandag onsuksesvol. Die Iranse ambassade het aangedui dat hy later ’n verklaring in dié verband sal uitreik.
O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.
14 Kommentare
Dit sê veel van die vermoeë van ons NI!!!!!
Ek wonder waar bevind Dirco (Suid Afrika) hom in die konflik – Aan die VSA se kant of aan Iran se kant?
As ek sy is verlaat ek die land die ANC sal haar nie kan oppas.
Ek sien sy is goed bevriend met Trump – meng jou met die semels . . . . .
As die intelligensie nie uitgekom het nie sou almal weer die vinger na Suid Afrika se gewelds misdaad syfers gewys het en gedink het iemand in SA het haar vermoor. So dit is eintlik ‘n komplot teen ons land ook, wys net watse maklike teiken ons word vir internasionele beplande geweld.