Iran-oorlogskepe kan tot sanksies teen SA lei

(Foto: @NavalJournal/Twitter)

Die besluit deur die ANC-regering om oorlogskepe van Iran toe te laat om by Kaapstad-hawe te dok het beduidend die risiko vir sanksies deur die Weste teen Suid-Afrika verhoog.

Só meen Darren Bergman, die DA se skaduminister oor internasionale betrekkinge en samewerking.

“ʼn Diplomatieke kennisgewing wat deur die Amerikaanse ambassade aan die parlementêre komitee oor internasionale betrekkinge gestuur is, waarsku Suid-Afrikaanse owerhede dat ‘entiteite en individue wat ondersteuning verskaf, insluitend maritieme dienste aan betrokke entiteite, kan onderwerp word aan sanksies deur Amerikaanse owerhede’,” sê Bergman.

“Deur te kies om ʼn swaar ekonomiese koste op Suid-Afrikaners te plaas vir sy roekelose ondersteuning aan internasionale verraaierregerings soos Iran, wys die ANC-regering aktief dat hy nie meer in die beste belang van die land optree nie.”

Bergman sê dit kan nie toegelaat word nie en die DA doen ʼn beroep op die komitee om te versoek dat minister Naledi Pandor sal verduidelik hoe hulle kon toelaat dat Iranse oorlogskepe by ʼn Suid-Afrikaanse hawe mag dok ondanks waarskuwings oor moontlike ekonomiese gevolge deur die internasionale gemeenskap.

“Dit maak mens woedend dat ons ʼn regering het wat nou alle voorwendsels van rasionaliteit laat vaar het en aktief Suid-Afrika se beeld oorsee in opspraak bring – eerstens deur te weier om Rusland se aggressiewe oorlog in Oekraïne te veroordeel en nou deur toe te laat dat Iranse oorlogskepe in Kaapstad dok.”

Bergman voeg by die Iranse regering is nie net ʼn reeksoortreder van menseregte teen sy eie burgers nie, maar is al jare lank ʼn groot destabiliseringsmag in die Midde-Ooste en het aktief Rusland se oorlog in Oekraïne ondersteun deur militêre hardeware te verskaf.

“Die Suid-Afrikaanse ekonomie is op lewensondersteuning en ekonomiese sanksies, in enige vorm, sal tot onvermydelike ineenstorting lei. Dit is die prys wat die ANC wil hê Suid-Afrikaners moet betaal, want hy wil sy betrekkinge in stand hou met verraaierlande – wie se bydrae tot ons ekonomie weglaatbaar is. Dit is verstommend om te sien hoe ver die ANC weggedwaal het van ʼn veronderstelde menseregtegebaseerde buitelandse beleid tot een waar die beskerming van [Wladimir] Poetin en die Iranse outoritêre regime voorkeur geniet. Pandor se verdediging van die wêreld se outoritêre regerings kan nie verder toegelaat word nie. Sy moet nou aanspreeklik gehou word vir haar rampspoedige houding wat buitelandse beleid betref.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

26 Kommentare

GWS ·

Hoe kan ons land so-iets toelaat. Dit is so goed ons sny ons eie kele af!!!!

Eclectus ·

Die afgelope week was daar ten minste vier keer Russiese vliegtuie op Waterkloof lugmagbasis.

Manie ·

Nog steeds het die Dept van Verdediging, asook die minister nog nie weer ‘n woord gerep oor die Russiese vragskip wat onlangs in Simonstad aangedoen het nie. Nie eers die opposisie partye doen meer navraag of opvolg werk nie.

TruthDealer ·

Daar is n nuwe wêreld, orde of sou ek sê, n nuwe goe-politieke wêreld orde aan’t gebeur. Meer en meer lande skaar hulle weg van Amerika en die Weste. Ek sien gister op n Amerkaanse forum, daar is 18 lande as ek korrek onthou, wat nou ook in Rupees gaan handel. Europese land Frankryk (as ek reg onthou, dis vroeg oggend) selfs, het onlangs groot aankope in Yuan gedoen, van China. Sal later gaan kyk wanneer ek behoorlik wakker is. My punt, meer en meer lande is besig om Amerika te maginaliseer deur hul eie “Ons sal self” alliansies met mekaar. En reg so ook. Amerika is besig om meer irrelevant te raak. Ek sien Mexico wil ook by BRICS aansluitend, daar was ook sprake dat Saudi wil. Die wêreld is besig om te verander. Countries are getting past and done with the USA’s hegemony of financial world domination.

TruthDealer ·

Geo-politieke. Daar is nie n opsie om te wysig en spelfoute reg te maak nie.

Harley Davidson ·

En waar is die kodesa onderhandelaars wat namens die minderhede “onderhandel ” het nou ?

Suid-Afrika Eerste - Vrydenker Vlakvark ·

Die Weste sien toenemend die ware kleure van die verkleurmannetjie bekend as die African National Congress en sy puberkind Economic Freedom Fighters.

TruthDealer ·

Ja wel dis wat die Weste opsluit wou hê en teweeg gebring het, n ANC regering. So hulle moet nou maar ophou kla en kerm.

James ·

Dit is tyd dat dieANC op Pensioen gaan. Hulle ontbloot elke dag meer en meer hulle teroristiese geaardheid en sleep SA saam met hulle die afgrond in.

Geert ·

Die lande moet mooi dink voor hulle sanksies teen Suid Afrika toepas. Hulle is ook die lande wat destyds sanksies toegepas het teen Suid Afrika om die Suid Afrikaanse eksperiment teweeg te bring, wat toe nou misluk het. So ek wonder nou maar net, wat nou?

TruthDealer ·

Nou sal hul dalk begin insien dat hulle hul neuse uit Suid Afrika se besigheid moes gehou het, destyds. En dis nie net SA nie, daar is al hoe meer lande wat ontnugter is met Amerika en die Europese Weste, en hul eie alliansies en handelsooreenkomste begin vorm. Amerika dit self altyd as GodKoning van hierdie planeet beskou. Maar die “gemeentelede” begin weg beweeg.

Di ·

Wonder wat hierdie lande wat sanksies teen ons ingestel weens apartheid nou dink!!! Seker nie in hulle wildste drome gedink die land sal so vinnig verval in absolute anargie en chaos nie

capie ·

As mens kyk na gebeure die laaste paar jare is iets baie snaaks aan die broei. Met covid het dit versnel en sedert Februarie2022 verder versnel. Suid Afrikaners kan hulle maar regmaak vir swaarkry wat hulle nog nie voorheen ervaar het nie.

Pierre ·

Hoe meer dit lyk of die ANC volgende jaar die verkiesing kan verloor hoe meer en meer besoek lande soos Kuba, Rusland en Iran SA, en hoe meer oorlog speletjies word daar gespeel…..

Manie ·

Wat het die Russiese skip op of afgelaai, asook die Russiese vragvliegtuie op Waterkloof?

Amelia ·

is daar enige iets wat ons as publiek kan doen weet iemand dalk

Chris ·

Geskiedenis het geleer sanksies is die beste ding was wat Suid Afrika nog ooit getref het. Dit sal dalk weer die geleentheid bied dat ons in die wereld kan begin uitblink op tegnologiese vlak!!

Gideon ·

Verbaas my glad nie, Soort soek soort, die DA kan klippe gooi en skreeu, beteken niks….AL manier vir verandering kan slegs by die stembus bewerkstellig word

Republikein in die Wes Kaap ·

Hou op kla DA. Die antwoord is in jul hande. Gebruik dit.

Marthinus W ·

Wie het Amerika aangestel as die wereld se polisieman? Amerikaanse sanksies en oorlog het tot die dood van 500 000 [n halwe miljoen!] kinders gelei, waarop MAdeleine Albright op TV verskyn het, en gese het, “the death of 500 000 Iranian children is a price we are willing to pay”. Kan ons Iran se gevoelens verstaan? Gaan ons die knie buig voor Amerika?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.