Ivermektien: Minister gevra om nuwe inligting te oorweeg

AfriForum en ’n doktersgroep sê dat Ivermektien duidelik voordelig in die behandeling van Covid-19 is. (Foto: Luis Robayo/AFP)

Die burgerregteorganisasie AfriForum en die doktersgroep I Can Make a Difference het Vrydag ’n brief aan die waarnemende minister van gesondheid gerig waarin sy dringend versoek word om nuwe inligting rakende die gebruik van ivermektien vir die behandeling van Covid-19 in ag te neem.

Mmamoloko Kubayi-Ngubane word ook versoek om die voorkoming en vroeë behandeling van Covid-19 met behulp van ivermektien aan te beveel, te bevorder, te verseker en toe te sien dat die middel beskikbaar is.

AfriForum sê die skrywe volg nadat die betrokke owerhede versuim het om dringend op te tree en die bevordering en gebruik van heraangewende medisynes vir voorkoming en vroeë behandeling van Covid-19 te verseker. Dít ten spyte van die derde virusgolf wat tans erg woed en die Gautengse gesondheidstelsel wat onder geweldige druk verkeer.

Volgens dr. Naseeba Kathrada, stigter van die doktersgroep I Can Make a Difference, toon die nuutste gepubliseerde inligting dat 6 uit 10 lewens gered kan word deur die gebruik van ivermektien. “Die bewyse is oorweldigend,” meen Kathrada.

“Dit is ’n welbekende, goedkoop medisyne. Dit is ’n veilige medisyne – presies waarna ons op soek is.”

Daar word ook in die skrywe aan Kubayi-Ngubane spesifiek verwys na ’n akademiese artikel rakende die gebruik van ivermektien vir die voorkoming en behandeling van Covid-19 wat op 19 Junie in die American Journal of Therapeutics gepubliseer is.

Daarin word bevind dat ivermektien sterfterisiko met gemiddeld 62% verlaag en waarskynlik die risiko om Covid-19 op te doen met gemiddeld 86% verminder.

“’n Tipe I- foutiewe besluit is om te besluit om ’n medisyne te gebruik wat uiteindelik nie werk nie. ’n Tipe II- foutiewe besluit is om te besluit om ’n medisyne nie te gebruik nie, en daar word uiteindelik vasgestel dat dit wel doeltreffend is. Wat is die gevolge vir burgers deur nie ’n medisyne te gebruik wat sterfterisiko met gemiddeld 62% en infeksierisiko waarskynlik met 86% verlaag nie?” wil Barend Uys, hoof van navorsing by AfriForum, nou weet.

Uys meen die resultaat van ’n risiko‑voordeel-ontleding vir die gebruik van ivermektien is duidelik: “Dit is veilig en dit kan ’n positiewe impak hê. Daar is geen rede nie om te versuim om ivermektien vir voorkoming en behandeling te begin gebruik.

“Ons leef nie onder normale omstandighede nie. Ons is in ’n oorlog gewikkel teen ’n dodelike virus. Mense het besliste optrede nodig. Die minister moet ’n besluit vermy wat mense leed kan aandoen,” sê hy.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

29 Kommentare

Kokerboom ·

Was die saak nie so ernstig het ek nou gelag!Die kader kan NIE eers sinvolle logiese eenvoudige toerismebesluite neem, nou moet sy besluit oor hoogs wetenskaplike sake noodsaaklik vir lewensredding!!!Hoe het ons in die sirkus beland?

Jacobus ·

Moet nou nie rof raak nie – sy soek nog J’Burg General se planne.

JohanR ·

Die minister sal haar jare en jare en jare van mediese kennis bymekaar sit en ons laat weet! Gelukkig het Cyril nie Fikile Mbalula minister van gesondheid gemaak nie, of die bedelaar daar by die verkeerslig!

Hennie ·

Goedkoop? R 960 vir 20 6mg tablette by Pharma Valu in Queenswood, Pretoria. Arrie Nel apteek groep vra R 205 vir 10 6mg.

Piet C ·

Is daar ‘n prys op gesondheid? R400000 vir ‘n hartomleiding. R55000 vir ‘n bevalling.
Ek neem aan jy wil dit op jou medies kry?

JohnnyS ·

Baie mense word nou lekker ryk uit ander mense se ellende.

Leeuwyfie ·

Dis die dokters se plig om die mense te help tot die beste van hul vermoë. As die regering dit verhoed is hulle aandadig aan moord. Dankie aan Afriforum, I can make a difference, PANDA en soveel ander wat hul bes probeer om mense te red. Ek staan verstom oor hoe julle boodskap onderdruk word.

Madeleine ·

Covid plandemic en vaxx is ontwerp om mense minder te maak. So hoekom Sal hul (wereldwyd nie net SA) ivermektien vrystel?

Andre ·

Kommentaar van die Britse Financial Times vandag : “For Ivermectin, studies suggest that there may be a benefit to treating with it, but the evidence is not 100% solid: some studies found a clear benefit, others found no benefit, so it may be that it helps some patient types and not others. Work is still ongoing on that.”
So dis nie heeltemal so eenvoudig nie

Deon ·

Klink na amper selfde resultate as die ander wat hulle wel gebruik

Jaada ·

Presies dieselfde kan van die vaccine gese word!, net met meer probleme en onsekerhede

JohnnyS ·

Geen negatiewe nagevolge, dit werk vir sommiges, hoekom dit nie goedkeur vir die waarvoor dit wel werk ? Seker bang hulle verloor geld op die entstof.

Amanda ·

Goedkoop! Amper stik ek, sopas my medikasie van die apteek ontvang en die koste is R1290 vir 24 tablette waarvan die mediese fonds net n deel betaal. Erens het iemand weer n goeie geldmaak geleentheid gesien.

Rosie ·

Dit werk daarom sal daar altyd n geldgierige ou wees wat die hele dam onder die eend uitruk.

JohnnyS ·

Amanda dit is eintlik baie goedkoop, probleem is daar is weer onverkrokke genadelose geldgierige mense wat die pryse belaglik maak.

anniekiewiet ·

“Goedkoop” in die artikel is nie bedoel vir wat apteke as wins sien nie. As jou apteek jou ‘n fortuin vra, moet jy nie die berig afskiet nie. En die gedeelte wat iemand aanhaal, sê dit help dalk nie almal nie, maar dit sê nie dit doen enige kwaad nie. Ek sal dit dadelik neem as dit beskikbaar is

Dirk Mostert ·

Dit het die Tweede Vlaag in Indie die nek ingeslaan. Die derde vlaag daar het begin toe Invermectin gestaak is en die entveldtog begin het. Die WGO en sy betaalmeesters verwerp egter enige middel wat die afset van entstowwe benadeel.

Debbie ·

Ek en my man gebruik die vloeistof ivermectin. Die staat is bang om die go ahead te gee want dan maak hulle nie geld uit ons wat moet betaal vir die inspuiting nie

Samuel ·

Natuurlik is daar geldmaak vir die staat betrokke, Debbie. Hoe dan anders. Die hele pandemie is finansieël/polities gedrewe. Almal maak geld.

anniekiewiet ·

Ek sou graag wou weet hoekom hier afduimpies gegee word, wat is julle siening omtrent die saak?

annie ·

Soos by enige ander medisyne moet mens dit net nie oordoen nie en van al die goeie flora in die maag wat ons van alledaagse kieme vrywaar, ontslae raak nie. Hou balans en eet gereeld jogurt. Deurdat ivermectien afgekeur word deur sommiges moet mense net nie alle redding in die een middel soek nie. Sommiges kan soos met sekere ander middels allergiese reaksies toon maar dit aan covid toeskryf. Grondboontjies laat bv ook jou keel toetrek as jy allergies daarvoor is.

Winnie ·

Die regering is bang die virus gaan ophou dan kan hulle ons nie meer “micromanage” nie en geldkraantjie gaan opdroog. Ek en my gesin gebruik al maande lank die vloeistof en ons het geen newe effekte nie en geen Covid. Dit werk

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.