Izak du Plessis praat oor nag in tronk

Izak du Plessis gesels oor sy aand in aanhouding. (Foto: Skermgreep uit video)

“Dit is een ding om ’n uitdagende joernalis te wees. Dit is ’n ander ding om ’n nag in ’n tronksel deur te bring.

“Dáái is nie lekker nie.”

Só sê die joernalis Izak du Plessis nadat hy Donderdag in hegtenis geneem en in aanhouding geplaas is nadat hy ’n hofbevel geminag het. Du Plessis het geweier het om twee “lasterlike” video’s oor die private ondersoeker Mike Bolhuis van sy aanlyn platforms te verwyder.

Dié video’s op sy webwerf en YouTube-kanaal is intussen privaat gemaak, sê Du Plessis in ’n video op die einste kanaal waarin hy kort ná sy vrylating oor sy inhegtenisneming en gevolglike aanhouding gesels.

Bolhuis het vroeër ’n lasbrief vir Du Plessis se inhegtenisneming bekom vir sy versuim om die video’s te verwyder. Dié lasbrief is Donderdag deur lede van onder meer die Valke en die polisie se opsporingseenheid uitgevoer toe Du Plessis by ʼn inkopiesentrum in Mbombela, waar hy woon, in hegtenis geneem is.

“Toe ek weer sien, toe staan daar vier mans [polisiebeamptes] rondom my. Hulle sê toe hulle is van die polisie en hulle gaan my nou in hegtenis neem.

“Ek het onmiddellik geweet waaroor dit gaan.”

Du Plessis is vandaar na die Nelspruit-polisiestasie geneem waar hy in ’n aanhoudingsel geplaas is.

“Aanvanklik was dit vir my snaaks en ek het grappies daaroor gemaak,” erken die joernalis. “Totdat ek later agtergekom het dat ek miskien meer ernstig moet raak oor hierdie ding. Hierdie is dalk meer ernstig as wat jy dit graag sou wou hê.”

Hy vertel dan van die haglike omstandighede van die sel waarin hy en ander verdagtes die nag moes deurbring.

Mike Bolhuis. (Foto: Argieffoto)

“Ek is nie ’n timid ou nie … maar ek sal nou vir jou jok as ek sê ek was nie [Donderdagaand] bang nie. Van die oomblik af wat ek daar ingestap het tot die oggend [Vrydag] toe ek daar uitgestap het daar. Dit het naderhand vir my gevoel ek kry ’n hartaanval soos die vrees hier in jou hart kom sit.

“Dit was baie scary gewees.”

Daar is in ’n stadium aan Du Plessis gesê dat hy die volgende dag na Brixton in Johannesburg oorgeplaas sou word. Hy erken dat hy vreesbevange was oor die moontlikheid dat hy die naweek in die selle dáár moes deurbring. Hy is egter voor dit met behulp van sy regspan op borgtog van R2 000 vrygelaat.

Du Plessis verskyn Woensdag in die hof in Johannesburg.

Maroela Media het vroeër berig die twis tussen Bolhuis en Du Plessis spruit uit die plasing van twee spesifieke video’s en plasings op Du Plessis se nuuswebwerf, Nuuspod, sowel as op sy YouTube-kanaal wat volgens Bolhuis lasterlik is en op naamskending neerkom. In die video’s word aangevoer dat Bolhuis betaling van kliënte ontvang het, maar nie ʼn behoorlike diens aan hulle gelewer het nie.

Bolhuis se regsverteenwoordiger het Du Plessis vantevore skriftelik gemaan om die video’s te verwyder, maar hy het geweier. Die bekende private ondersoeker het hom daarna tot die hof gewend en ʼn bevel bekom om Du Plessis te dwing om die video’s te verwyder. Du Plessis het dit nie gedoen nie en die lasbrief vir sy inhegtenisneming het gevolg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.