Jagersfontein-ramp: Drie sterf, 35 beseer

[Foto: Lebo Ishmael Ntsikile, Facebook]

Die departement van samewerkende regering en tradisionele sake en menslike nedersettings in die Vrystaat sê die wal van die slikdam op Jagersfontein het gebreek vermoedelik weens verouderde en verswakte infrastruktuur.

Mxolisi Dukwana, LUR van die departement, werk saam met die Vrystaatse premier, Sisi Ntombela, om ʼn inspeksie van die gebied te doen en sal die nasionale minister van samewerkende regering en tradisionele sake, dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, oor die situasie inlig met die oog daarop om rampbestuur gesamentlik te koördineer.

Die departement van minerale hulpbronne en energie het bevestig dat sy inspekteurs onderweg is na die ramptoneel om ondersoek in te stel.

“Verdere inligting sal bekend gemaak word namate die ondersoek vorder,” het die departement in ʼn verklaring gesê.

Die damwal het Sondag omstreeks 06:00 gebreek en meer as 100 huise in die dorp en die Charlesville- en Itumuleng-nedersetting onder water gelaat.

Daar is teen Sondag vroegmiddag al drie liggame onder die modder in Jagersfontein, Vrystaat, uitgehaal nadat ʼn slikdam se wal gebreek het.

Die soektog en reddingspogings duur egter voort om nog vermiste mense en oorledenes op te spoor.

Die Vrystaatse regering het in ʼn verklaring bevestig 35 pasiënte is sedert Sondagoggend na die Diamant-hospitaal op Jagersfontein vervoer. Die pasiënte sluit in ʼn swanger vrou, vier pasiënte met gebreekte ledemate en die res word vir kneusplekke en hipotermie behandel.

Nog vyf pasiënte is na die Albert Nzula-hospitaal op Trompsburg vervoer.

Die omkringde gedeelte is waar die myndam geleë is (Foto: Google Maps)

Eskom se Rietkuil-substasie is ook deur die modder verswelg wat gelei het tot ʼn totale verlies aan grootmaattoevoer aan Centlec – die elektrisiteitsverspreider wat verantwoordelik is vir kragtoevoer aan die dorp en die nedersettings.

Daarby is vier Eskom-kliënte op die Fauresmith-Spitskop-kraglyn, drie kliënte op die Pompie-Rietkuil-kraglyn en die Jagersfontein-myn ook sonder krag.

“Weens die huidige situasie in die Jagersfontein-omgewing en ontoeganklikheid van die substasie is dit onmoontlik om te skat wanneer toevoer herstel sal word of om die omvang van die skade te bepaal,” sê Stefanie Jansen van Rensburg, woordvoerder van Eskom.

“Ons beoog om kragtoevoer na die myn voor die einde van die dag te herstel.”

Jansen van Rensburg sê Eskom se telekommunikasiestelsel is ook deur die ramp geraak en die impak daarvan op omliggende netwerke is nog onduidelik.

“Enige nuwe inligting oor die situasie sal aan die publiek gekommunikeer word.”

Eskom het elektrisiteitsverbruikers versoek om alle elektriese lyne, voetstukke en toestelle as lewendig en gevaarlik te hanteer.

Maroela Media het vroeër berig talle inwoners se huise is oorstroom en hul besittings en motors is deur die modderwater meegesleur.

Die departement van maatskaplike ontwikkeling se distrikskantore is besig om mense wat deur die ramp geraak word na veilige gebiede op nabygeleë plase te neem.

Humanitêre organisasies soos Meals on Wheels, die Rooikruis en vele meer is ook op die grond besig om assesserings te doen en te bepaal hoeveel mense geraak is en watter ander basiese behoeftes benodig word.

Die maatskaplike toelae-agentskap, Sassa, het ook amptenare in die gebied ontplooi.

“Die departement sal begin met psigososiale dienste vir almal wat geraak word,” bevestig Motlagomag “Mamiki” Qabathe, LUR vir maatskaplike ontwikkeling in die Vrystaat.

Palesa Chubisi, woordvoerder van die Vrystaatse premier, sê die departement van onderwys skakel tans met distriksamptenare en skole se hoofde om ʼn assesseringsverslag van die stand van al die skole in die omgewing te bepaal.

“Volgens ’n voorlopige verslag is geen opvoedkundige fasiliteit deur die ramp geraak nie,” sê Chubisi.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Pieter ·

Interessant dat Kopdoek se departement nou ook kundiges is op mynveiligheid. Volgens my ondervinding en die hoeveelheid water is geen wetlike freeboard gehandhaaf nie, swak dreinering in die penstock en swak opbou van slikdam met breekpunt van angle of reproach. Die Vrystaat is berug vir hierdie gevalle met ‘n swak Departement van Mynbou:
1. 1990s Merriespruit Virginia
2 1995 Boshof diamantmyn
3 2022 Jagersfontein

Jack ·

Hierdie tipe goed wag om te gebeur in ‘n paar ander plekke in die land ook.

marius ·

Daar word geen stappe geneem om dit te verhoed nie . Alles val uitmekaar . Totaal wanfunksionele hool .

Racheltjie Debeer ·

Verouderde en verswakte infrastruktuur, want die onbevoegde regering glo mos mens hoef gladnie instandhouding en opgradering te doen nie. Mens vat die belastingbetaler se geld en druk dit in jou sak sodat jy in weelde kan lewe. Die infrastruktuur wat die vorige regering inplek gesit het, sal mos vir ewig hou. Die plaaslike owerhede en die regering behoort van moord aangekla te word, want al wat hulle kan doen is om kommittees aan te stel om die rampe te ondersoek, in plaas van die rampe te voorkom. Maar die ramp gaan natuurlik nou weer voor Jan van Riebeeck en die ou regering en die blankes se deur gelê word.

Alma ·

Ja dis nes jy se. Hulle het klaar gese dit was n De Beer’s myn, maar die myn is n ruk terug glo verkoop. Iewers moet iemand anders tog net beskuldig word.

Veens ·

Hmm, “die wal van die slikdam op Jagersfontein het gebreek vermoedelik weens verouderde en verswakte infrastruktuur”? Volgens die historiese beelde beskikbaar op Google Earth is daai dam iewers tussen Mei 2010 en Augustus 2017 aangelê? Verouderd?
Probleem sou meer waarskynlik wees met onderhoud en bedryf!

Emily ·

Niks in die land word onderhou nie. Hulle gebruik ons belasting geld vir vakansies ens. en vergeet dit is eintlik om instandhouding te doen.
Wat het kopdoek met die storie uit te waai, regtig.

SjN ·

As jy na al die name van persone betrokke kyk wat genoem word, is dit logika dat daar bevoegdheid ontbreek wat veiligheid en wetgeweing aan betref.

Lillian ·

So niemand het gekeer uit Merryspruit nie? Seker ook nou weer die witman se skuld….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.