Jagter sterk aan ná operasie

Marco Schoonwinkel is Sondag beseer toe hy deur ’n gemsbokbul se horing deurboor is. (Foto: Verskaf)

Dit gaan beter met die 32-jarige beroepsjagter Marco Schoonwinkel wat Sondag deur ’n gemsbokhoring in die Thabazimbi-omgewing in Limpopo deurboor is.

Maroela Media het vroeër berig dat Schoonwinkel, die pa van ’n driejarige seuntjie, reeds twee noodoperasies sedert die voorval ondergaan het.

Hy word tans in die Cintocare-hospitaal in Menlyn behandel.

“Marco lyk baie beter, hy is wakker en by sy volle bewussyn, maar ontvang sy kos deur ’n drip.

“Hy voel nie sensasie in sy voete nie, maar kan sy bene beweeg. Hulle het hom ook laat regop sit,” het sy vrou, Clarisa, Dinsdagaand aan Maroela Media gesê.

Volgens Clarisa wag hulle nog op terugvoer van die neurochirurg en fisioterapeut.

“Die verpleegsters by Cintocare is baie oulik. Dis ’n goeie hospitaal en ons glo Marco is in goeie hande.”

Die Professionele Jagtersvereniging van Suid-Afrika (Phasa) het vroeër gesê dat die voorval tydens ’n wildverskuiwingsoperasie plaasgevind het.

Die gemsbokbul se horing het Schoonwinkel onder sy naeltjie deurboor en dwarsdeur na sy rugwerwels deurgedring. ’n Hoofslaggaar is gevolglik ook geskeur.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

DIABLO ·

My beter helfte is by Cintocare werksaam. Dit is n fantastiese hospitaal. Meneer, jy kan nie in beter hande wees nie, glo my!

Anoniem ·

Dankie aan ons Hemelse Vader en al die Engele van die hospitaal wat daar werksaam is vir Marco se herstel.

Danie ·

Ek hoor nou eers van Cintocare se baie oulike verpleegsters.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.