‘Jesus hou ons veilig’ sê ma vir kinders ná transitorowers losbrand

Mariska Griffin en haar dogtertjie Elmoné (7) en seuntjie Ruhard (3).

ʼn Swanger vrou van Middelburg in Mpumalanga wat saam met haar twee jong kinders midde-in ʼn transitorooftog by ʼn vulstasie op die dorp beland het, het haar kinders verbete probeer beskerm toe die skote Vrydag om hulle begin klap het.

Mariska Griffin, haar driejarige seuntjie Ruhard en sy sewejarige sussie Elmoné is na die vulstasie in Aerorand om Ruhard se fietswiel te laat pomp. Die band se kleppie was egter stukkend en Griffin was besig om die fiets terug in die kattebak te laai, toe sy ʼn geluid hoor wat klink soos ʼn ongeluk en daarna iets soos ʼn band wat bars.

“Dit het net aangehou en ek het besef dis skote,” het Griffin gesê.

ʼn Geldwa het intussen by die vulstasie stilgehou en vier gewapende mans het een van die veiligheidswagte voorgekeer en van ʼn geldsak beroof. Die rowers het in ʼn wagtende motor gespring, waarna die bestuurder van die geldwa in hulle vasgejaag het, het lt.kol. Brenda Muridili, polisiewoordvoerder, gesê.

Die rowers het uitgespring en wild en wakker losgebrand. Dit was dié skote wat Griffin gehoor het.

Sy het vervaard probeer om Ruhard by die motor se kattebak in te druk, terwyl sy vir Elmoné tussen haar en die motor probeer hou het in ʼn poging om haar te beskerm. Griffin het ná die skote opgehou klap het, besef sy is gewond en het in die motor gaan sit. “My dogtertjie het geskree ‘hulle het my ook in die beentjie geskiet’,” het Griffin gesê.

Bloed het by Elmoné se wond uitgespuit en ʼn omstander het gehelp om ʼn kledingstuk om die wond te draai om die bloeding te probeer stuit. “Ek weet nie hoe nie, maar ek het my man en my sussie-hulle gebel om te kom help,” het Griffin gesê.

“Niemand verwag om daai oproep te maak waarin jy moet sê ‘ons is geskiet nie’.”

Griffin het ook gesien die motoris in die voertuig langs haar het ʼn ernstige kopwond opgedoen. Die man is intussen geïdentifiseer as John Oupa Hobe (48). Paramedici het met hom na ʼn hospitaal gehaas, maar hy is met sy aankoms dood verklaar. Hy was ook by die vulstasie om brandstof in te gooi.

“As ons in die kar gesit het, is ons waarskynlik ook in die kop of in die bolyf geskiet,” het Griffin gesê. Haar motor se dak is vol gate geskiet.

Sy het haar familie gevra om hulle self hospitaal toe te neem, sodat paramedici wat na die toneel ontbied is eerder eerste vir Hobe kon help.

Griffin, wat 19 weke swanger is, en Elmoné is by die hospitaal behandel en dieselfde dag nog ontslaan. “Die traumadokter het gesê vir die kinders se onthalwe is dit beter om huis toe te gaan. Almal het gehelp om my dogtertjie kalm en rustig by die hospitaal te hou. My seuntjie het nie seergekry nie, maar hy was só getraumatiseer.”

Daar is geen koeëls in Griffin en Elmoné – wat al twee in die linkerbeen gewond is – gekry nie, maar wel etlike stukke skrapnel. Dit was waarskynlik opslagkoeëls wat hulle getref het.

“Dit is nie ʼn situasie waardeur enigiemand wil gaan nie. Al my aandag was by my kinders en om hulle veilig te probeer hou.”

Sy het gesê sy en haar man, Wynand, gesels met die kinders oor die voorval en het aan hulle verduidelik dat dit “stoute ooms” was wat op hulle geskiet het.

“Ek het van die begin af vir hulle gesê Jesus het ons beskerm en sy hand oor ons bolywe gehou. Ons hoef nie bang te wees nie, want Hy gaan ons nog steeds veilig hou.”

Sy het ook aan die kinders gesê hulle hoef nie bang te wees nie, omdat die mense nie weer gaan terugkom nie.

Griffin het gesê die familie gaan steeds berading ontvang om die gebeure te verwerk.

Sy het intussen ook haar vroedvrou besoek en die ongebore baba, ʼn dogtertjie, is ongedeerd.

Die polisie het gesê niemand is nog in verband met die skietery en rooftog in hegtenis geneem nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

33 Kommentare

Nettie ·

@Skoolgeld – toe die ANC die dag in 1994 by die voordeur ingestap het, het wet en orde, dissipline en wedersydse respek asook grensbeheer by die agterdeur uitgehardloop.

Arno Scheepers ·

Mariska, ons is so bly jy, jou kinders en die ongebore dogter is veilig. Dankie vir jou geloof in ons Redder.
Jou daad om eerder die ander gewondes te laat help wys watter tipe mens jy is.
Mag julle spoedig van julle wonde en van die trauma genees.
Baie sterkte

DANKBAAR ·

Ag HERE biae baie dankie dat Mariska en haar kindertjies veilig is. dankie Here dat U hulle bewaar het. aan John se familie ..mag God julle toe vou met Sy alomteenwoordige liefde. sterkte met die herstel proses.

AmY ·

Ai tog. Dis baie erg.
Ek hoop die mooi mamma en haar twee pragtige kinders herstel gou van die aaklige ondervinding.

Ek is sommer vies dat onskukdige mense gewond word en sterf in hierdie sinnelose geweld.

Sterkte ook aan die man wat gesterf het se mense.

Noelien ·

Jy is ‘n wonderlike ma.
Jesus hou Sy kinders vas.
Psalm 91

Samantha ·

En die baba wat in die ander berig op die ashoop beland het?

Sarel ·

Dankie vir die gesin se lewens wat gespaar was. Dit kon anders verloop het.

Suzette Geringer ·

Ja nuwe Suid-Afrika!!! Daar is nie genoeg woorde om te beskryf hoe ek voel oor al die moord en doodslag in hierdie land nie!!
Ek is baie dankbaar dat hierdie dapper mamma en haar twee kinders oorleef het.

toy ·

Om net van dit te hoor is traumaties, hoe moes julle nie gevoel het nie. Dit is verskriklik om te sien in wat het hierdie land verander.

Danie Theron ·

Bly die gesin is veilig. Boewe moet gevang en doodstraf kry. Dis AL wat boodkap sal laat posvat. Vraag is: Het die ANC die guts om die soort boewery vas te vat?

Gert van Wierdapark ·

Die enigste “wet en orde” is seker maar dat dit in orde is om te roof, moor en die staatskas te plunder, terwyl daar gewed word op wie gaan die volgende baas van die Sirkus wees!!!

Skaap ·

Die beste is:
Bly by die huis en sluit jouself toe.
Moenie onnodig uitgaan nie.
Moenie in winkelsentrums en parke met honde gaan draf nie.
Wakker slaap altyd.

nico ·

73% van die Blankes het met die Referendum destyds JA! gestem. Dit is wat hulle daarvan kry.

Anoniem ·

As dit anderste om was sou al ons witmense einde 1992 dood gewees het en ons kinders sou nie gebore gewees nie apartheid was verkeerd en sal altyd wees

Db ·

@ Nico – jy is seker een van hulle want in hierdie lewe is daar 0% kans dat ek ooit vir hierdie wesens sal stem

LINDA ·

DANKIE JESUS VIR DIE BESKERMDE HAND WAT U OOR DIE FAMILIE GEHOU HET.

Mandy ·

Samantha, dis die ma se besluit gewees om ha kind op n ashoop te gooi, nie Jesus se besluit nie.

Jr ·

Die vrou soos sy die storie vertel is sout van die aarde. Die manier wat sy haar kinders beskerm het. N held net soos Rachel de Beer. Hoe sy die kinders ” stout ooms ” noem. Dame ek haal my hoed af vir jou as man en salueer jou. Trots om jou een van my volk te noem – Afrikaaner.

Thelma ·

Dat iets so onskuldig soos om ‘n fiets se band te pomp in so ‘n nagemerrie kan ontaard!!! Hoe ongelooflik getraumatiseer moet hierdie mense nie wees nie. Sjoe gelukkig het hierdie mamma kop gehou. Sterkte vir die hele gesin.

Petro ·

Hoe groot is die Here se genade nie!
Ek sit met n knop in my keel!

Daleen ·

Ek weet nie hoekom nie, maar hierdie storie vang my geweldig meer as van ons land se ander vieslike stories, miskien oor die trauma wat dit die kinders in gedompel word. Seker oor ek ook ‘n mamma is… ek is jammer jul het seer gekry, dat so iets onskuldig soos ‘n wiel laat pomp nie eers meer gedoen kan word nie. Ek is bly jul het dit gemaak, ek hoop die gebeurtenis los nie onherstelbare skade vir jul kindertjies nie. Sterkte daar!

Rentia ·

Hierdie berig los somer n knop in my keel< dit moet regtig oorweeg word om alle transakasies electronies te maak, verminder die vervoer van geld, en misdaad soos die voorkom. 'ek weet nie hoe ek sou kalm bly as my kind in die voertuig in so omstandighede moet wees nie..sterkte mamma

Lizzy ·

Kry rillings op rillings. Ek bly naby hierdie vulstasie en gooi gereeld petrol daar in. So dankbaar d vrou en haar kinders is gespaar. Vinnige optrede v bestuurder in geldwa, mooi gedink.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.