Jhb-brand: Oorlewendes in nabygeleë geboue gehuisves

(Foto: Medi Response/Facebook)

Oorlewendes van ʼn brand wat Donderdagoggend in ʼn gebou in Johannesburg uitgebreek het, sal in alternatiewe akkommodasie in nabygeleë geboue gehuisves word.

Minstens 73 mense is dood en verskeie ander beseer. Minstens 141 gesinne is dakloos gelaat.

Lebogang Maile, LUR vir menslike nedersettings, sê humanitêre verligting is reeds ontplooi.

“Daar sal maatskaplike verligting wees. Ons het reeds drie geboue geïdentifiseer waar die oorlewende slagoffers kan tuisgaan. Ons het ooreengekom dat ons nie mense op grond van hul burgerskap sal hanteer nie. In hierdie stadium sal ons humanitêre bystand lewer aan enigiemand wat deur die tragedie geraak is.”

Maile het sy meegevoel betuig met die families wat geliefdes aan die dood afgestaan het.

“Hierdie tragedie dui op die chroniese probleem met behuising in ons provinsie. Minstens 1,2 miljoen mense in ons provinsie benodig behuising.”

Die LUR het die “kartel” mense wat geboue sonder lopende water en met beperkte dienste in die middestad kaap, veroordeel. Hy het egter bygevoeg dat “koppe beslis sal rol” indien daar bevind word dat enige beampte van die stadsraad hul plig versuim het.

“Daar is kartels wat kwesbare mense teister. Sommige van hierdie geboue, indien nie meeste daarvan nie, is in die hande van kartels wat huur van ons mense insamel. Sommige van hierdie mense kan dit bekostig om huur te betaal en die regering moet dus bekostigbare behuising beskikbaar maak.”

Maile sê daar is sowat 23 geboue wat aan die Johannesburgse behuisingsmaatskappy behoort wat soortgelyk aan dié gebou is. “Hulle het ʼn plan, maar hulle het nie geld daarvoor nie. Daar is 100 geboue wat aan die privaat sektor behoort en verwaarloos word. Ons moet beslissend optree en een van die dinge wat ons kan doen is om moontlik dié geboue te onteien sodat ons behuising kan verskaf.”

Kabelo Gwamanda, burgemeester van Johannesburg, het bevestig die gebou behoort aan die stadsraad, maar word onwettig beset.

“Die gebou behoort aan die stad. Dit is verhuur aan ʼn nieregeringsorganisasie om ʼn niewinsgedrewe organisasie te bedryf om huisvesting aan vroue te verskaf wat verligting nodig het. Dit is toe dinge buite beheer geraak het. Wanneer die stad ʼn gebou uithuur, moet die verantwoordelike persone seker maak dat die gebou in ʼn goeie toestand gehou word sodat dit in dieselfde toestand wat hulle dit ontvang het, aan die stad kan teruggee.”

Gwamanda sê hy kan egter nie voorspel of ʼn onderneming homself in ʼn situasie sal bevind waar hy sy bedrywighede moet opgee nie.

Op vrae oor wat die stadsraad gaan doen om die kwessie van gekaapte geboue aan te roer, het Gwamanda gesê die stad volg ʼn versigtige benadering om seker te maak dat hy nie hof toe gesleep word nie.

“Daar is ʼn rits niewinsgerigte organisasies wat die stad se benadering tot geboue fyn monitor. Ons moet dus seker maak ons tree versigtig op en dat ons nie met geweld die gebou betree nie. Ons moet ʼn strategie van maksimum sensitiwiteit volg.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

SomeOne ·

van hulle wat daar bly het behuising, maar verhuur dit en bly ook dan gratis in die “kartel” behuising, en kry dan n goeie inkomste met behulp van sassa geld en die wat gebedel word op die hoeke van strate

miche ·

Die Regering gaan ” hul ondersteun ongeag hul burgerskap”. Wat gaan hul maak met die Zimbabwe burgers tussen hul wie se ZEP permitte Desember verval? Gaan dit outomaties verleng word? Kan nogal vorentoe ‘n Presedent skep in SA in ag genome duisende ander eerlike, hardwerkende Zimbabwiese burgers wat al baie lank sukkel om hul ZEP (permitte) te bekom.

Jaco ·

Dit kom daarvan wanneer instromings beheer nie toegepas word. Die hele honger afrika trek af suide toe. Ons land moet mos regstaan vir almal. As hulle die onwettige immigrante terugstuur na hulle eie lande sal daar genoeg in SA wees vir sy eie mense.

Kobus ·

Mnr Lesufi, jy is besonder stil. Al hierdie onwettige immigrante is mos welkom in SA en die ANC regering kyk anderpad wanneer daar oor die besettings gepraat word. Dis mos nou nie asof dit die eerste keer is nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.