Jhb-kleuterskool gesluit ná seuntjie erg brand

Die kind het ernstige brandwonde opgedoen. (Foto: Twitter)

ʼn Johannesburgse kleuterskool moet binne tien dae sluit nadat ʼn kind daar erg met kookwater verbrand het.

Die Gautengse departement van maatskaplike ontwikkeling het bevind die skooltjie in Alexandra oortree die Kinderwet nadat ʼn ondersoek na die bedrywighede daar gedoen is.

EWN het berig die seuntjie het in Januarie ernstige brandwonde aan sy bene en boude opgedoen nadat hy – volgens die skoolhoof – in die bad kookwater geklim het omdat hy glo sy broek vuilgemaak het. Hy sukkel steeds om te loop.

Volgens die seuntjie se ma het die skool aangevoer die kind het self in die kookwater geklim, maar sy voete het glad nie gebrand nie.

Volgens EWN is ʼn onderwyser by die skool reeds in verband met die voorval in hegtenis geneem en op borgtog vrygelaat.

Die departement het nou die skool opdrag gegee om sy bedrywighede te staak.

“Die departement van maatskaplike ontwikkeling onderneem om die ouers van kinders wat die Stepping Stone Day Care Centre bywoon te help met die proses om hul kinders na alternatiewe, geregistreerde versorgingsfasiliteite te skuif,” het Feziwe Ndwayana, woordvoerder van die departement, gesê.

Die LUR het haar diepe kommer oor die gebeure te kenne gegee en gesê die skool word gesluit hangende die polisieondersoek en verdere regstappe.

Die departement het ook sy steun aan die seuntjie en sy familie gegee en onderneem om hulle verder te ondersteun.

Die departement het ook ʼn beroep op ouers en voogde gedoen om te verseker dat die sentrums vir vroeë kinderontwikkeling waar hulle hul kinders inskryf, geregistreer is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Willem ·

Laat hul al daai skoolgelde terug betaal. Hoe kan jy ongerigestreer geld wil maak

Lourens CFG ·

Hulle konsentreer nou meer op die registrering (registrering is reg ja) maar registrering gaan nie verhoed dat “ongelukke” gebeur nie. (Ongeluk tussen aanhalings want nie almal is wél ongelukke nie.)
Baie sterkte aan die seun en sy familie met die swaar tyd wat nog voorlê.

Korrelkop ·

Klink my eerder of “iemand” hom in die kookwater laat afsak het om “sy boude skoon te kry” (en ‘n les te leer). Tipies kind, sou hy sy voete opgelig het om van die water af weg te probeer kom… nee wat, iemand moet die straf kry hiervoor!

akkedismis ·

Dit is onaan vaarbaar dat so iets by n skool kan gebeur. Daar MOET ALTYD toesig wees.

Misky ·

Ek sou moord pleeg as dit my kind moes wees. Die pyn moes vreeslik gewees het, shame

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.