Jhb kry Maandag eie beurtkragrooster

Foto ter illustrasie (Foto: Gia Conte-Patel/Pixabay)

Die Johannesburgse metro sal Maandag begin om sy eie beurtkragrooster te implementeer, wat tot gevolg sal hê dat sakeondernemings en nywerhede in die Goudstad minder gereeld beurtkrag sal ervaar.

ʼn Nuwe beurtkragrooster wat deur die metro se kragvoorsiener, City Power, bestuur word, sal behels dat geen van City Power se kliënte langer as twee uur op ʼn slag beurtkrag het nie, tensy fase 8 en hoër deur Eskom ingestel word. Dit sal ook die gereeldheid van beurtkrag beperk, sodat City Power se kliënte tydens fase 1, -2 en dalk selfs -3 slegs een keer per dag beurtkrag sal hê. Kliënte sal ook nie twee of drie dae in ʼn ry op dieselfde tyd beurtkrag ervaar nie.

“Deur self beheer oor die beurtkragskedule te neem wil City Power verseker dat die metro self kan besluit wie beurtkrag kry en wie nie, terwyl genoeg krag steeds gespaar word wanneer Eskom onder druk is,” het die metro se woordvoerder gesê.

“Die impak van beurtkrag op die stad kan nie onderbeklemtoon word nie en ons wil graag ons bes doen om die gevolge daarvan op elke sektor te minimaliseer,” het Jack Sekwaila, lid van die Johannesburgse stadsraad, gesê. “Dit is deel van ons plan om beleggings binne die metro aan te moedig en werkgeleenthede te red en te skep.”

Tshifularo Mashava, City Power se uitvoerende hoof, sê die kragvoorsiener het die afgelope jare en maande toetslopies gedoen om te verseker dat die nuwe proses Maandag glad verloop. “Ons het reeds ʼn paar maande gelede begin om sekere nywerhede en groot ondernemings van beurtkrag kwyt te skeld. Hierdie kwytskelding is mettertyd uitgebrei na sommige noodsaaklike dienste soos gesondheidsfasiliteite en watervoorsiening en ons hoop om binnekort nog dienste hierby in te sluit.”

Die skedule sal van toepassing wees op sowat 98% van die metro se kliënte, met enkele uitsonderings in Alexandra, Midrand, Randburg en Roodepoort. Dit is weens die tegniese ingewikkeldheid van hierdie stelsels. City Power is egter besig om oplossings vir hierdie gebiede te vind om dit so gou moontlik by die nuwe skedule in te sluit.

Mashava sê City Power werk goed saam met Eskom en het onderneem om te verseker dat die integriteit en stabiliteit van die nasionale kragstelsel nie bedreig word deur die veranderings nie.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Luckykat ·

Vir my lyk dit meer of die ANC nou gaan moeite doen om aan n groot gedeelte van die bevolking die ergste beurtkrag weg te steek met aanloop tot die verkiesing.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.