Joernaliste al hoe meer ‘geïntimideer, gedreig’

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Die Suid-Afrikaanse Nasionale Redakteursforum (Sanef) het vandeesweek sy kommer uitgespreek oor die groeiende tendens van verslaggewers wat met geweld geïntimideer of gedreig word in ʼn poging om hulle te keer om oor gebeure in openbare belang te berig.

Dié soort intimidasie gebeur skynbaar gereeld in gebiede in die Oos-Kaap.

Sanef sê die jongste voorval was sowat ʼn week gelede toe ʼn verslaggewer die sluipmoordpoging op die Universiteit van Fort Hare se visekanselier, prof. Sakhela Buhlungu, en die moord op sy veiligheidswag, Mboneli Vesele, opgevolg het.

“Ons het verneem dat die nuusblad Dispatch se senior verslaggewer ʼn oproep ontvang het van ʼn persoon wat homself nie voorgestel het nie. Die persoon het vir die verslaggewer gesê om op sy hoede te wees, aangesien daar mense is wat gehuur is om hom te skiet,” lui Sanef se verklaring.

“Die persoon het die verslaggewer voorts gewaarsku om versigtig te wees oor die stories wat hy ondersoek wat verband hou met die sluipmoordpoging.”

Volgens Sanef het Dispatch die verslaggewer dadelik uit die gebied onttrek en hy is nou veilig. Die voorval is ook by die polisie aangegee wat die saak verder ondersoek.

Sanef het die nuusblad se vinnige optrede geloof, maar sê dit is kommerwekkend dat verslaggewers nou moet vrees vir hul lewe – veral omdat dit nie die eerste keer is dat só iets in die Oos-Kaap gebeur nie.

In September verlede jaar is ʼn verslaggewer van die Herald geteister en geïntimideer deur inwoners van Plettenbergbaai wat met buitelanders koppe gestamp het. Die inwoners het die betrokke verslaggewer gedwing om haar huis te verlaat nadat hulle haar met geweld gedreig het.

“Die situasie het naderhand so erg geraak dat die nuusblad besluit het dat haar nuusberigte nie voorts haar naam sal dra nie, aangesien sy ook ʼn lid van die gemeenskap is,” sê Sanef.

“Dit is skandelik dat verslaggewers om veiligheidsredes nie oor stories van openbare belang kan berig nie omdat die fokus van hul berigte hulle dreig met geweld.

“Ons demokrasie word verryk wanneer verslaggewers toegelaat word om sonder vrees en intimidasie verslag te doen. Wanneer hulle van hierdie reg ontneem word, is die slagoffer nie net die media nie, maar ook lede van die publiek wat die reg het op toegang tot inligting wat van kritieke belang is vir die funksionering van die land en die demokrasie.”

Sanef sê hy is vol vertroue dat wetstoepassingsowerhede ʼn sterk boodskap sal uitstuur dat diegene wat by sulke bedrywighede betrokke is, in hegtenis geneem en vervolg sal word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.