Fort Hare-visekanselier oorleef sluipmoordpoging

Prof. Sakhela Buhlungu, visekanselier van die Fort Hare-universiteit in die Oos-Kaap. (Foto: Facebook / Sakhela Buhlungu)

Prof. Sakhela Buhlungu, visekanselier van die Fort Hare-universiteit in die Oos-Kaap, het Vrydagaand ʼn skietvoorval oorleef wat deur dié universiteit as ʼn “beplande sluipmoordpoging” beskryf word.

Mboneli Vesele, Buhlungu se amptelike veiligheidswag, is tydens die voorval in sy voertuig doodgeskiet. Buhlungu is ongedeerd.

Volgens JP Roodt, woordvoerder van die universiteit, het die skietery buite Buhlungu se huis in Alice plaasgevind.

“Die universiteit het het mnr. Vesele se naasbestaandes ingelig en bied tans die nodige ondersteuning.”

Brig. Tembinkosi Kinana, polisiewoordvoerder, het aan Maroela Media bevestig dat Buhlungu nie tydens die skietery in die voertuig was nie.

“Volgens die polisieverslag het die visekanselier se drywer [Vesele] by die sy [Buhlungu] se huis aangekom toe ʼn onbekende voertuig met onbekende verdagtes sy motor genader het. Die verdagtes het toe skote op die bestuurder afgevuur en hy het op die toneel aan sy beserings beswyk.

“Die verdagtes het in hul wegkommotor gevlug. Die polisie ondersoek ʼn saak van moord. Die omstandighede rondom die skietery sal deel van die ondersoek vorm.”

Roodt sê die universiteit is bewus van “amateur ooggetuiefoto’s en video’s” van Buhlungu se universiteitsvoertuig wat oortrek is met koeëlgate wat tans op sosiale media versprei word.

“Uit respek vir mnr. Vesele en sy gesin, en om sy waardigheid te beskerm, versoek ons die universiteitsgemeenskap om nie sulke foto’s en beeldmateriaal te versprei nie.”

Traumaberading sal ook aan personeel en studente beskikbaar gestel word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.