Jong ma sterf ná keisersnee in staatshospitaal

Marisca van der Merwe (Foto: Verskaf)

Marisca van der Merwe (22) van Secunda, Mpumalanga, wou altyd ʼn ma gewees het. Toe haar babadogtertjie eindelik in Desember gebore is, het dié jong ma egter skaars drie maande saam met haar kind gehad voordat sy oorlede is.

Van der Merwe is op 10 Maart oorlede nadat sy sepsis opgedoen het ná ʼn keisersnee in die Bethal-staatshospitaal. Sy is boonop voor haar dood glo by twee ander hospitale weggewys omdat die hospitale oorvol was.

Van der Merwe se familie soek nou antwoorde en oorweeg regstappe teen die departement van gesondheid.

“Ons soek geregtigheid vir Marisca. Dit was nie haar tyd om te gaan nie,” sê Van der Merwe se ma, Louise Fourie.

Van der Merwe se babadogtertjie, Leanke, is op 14 Desember gebore.

Volgens Fourie sou Van der Merwe aanvanklik natuurlik geboorte geskenk het, maar weens komplikasies moes sy ʼn noodkeisersnee ondergaan.

Sy is twee dae later ontslaan en volgens Fourie het haar wond in daardie stadium goed gelyk.

“Ná ʼn maand het ons gesien die wond word op die punte geel (weens sug) en die steke los nie op nie.”

Van der Merwe is na ʼn verpleegster by ʼn apteek in Secunda wat die steke uitgehaal het. “Die suster het Marisca aangeraai om die wond verder met soutwater te behandel.”

Van der Merwe het einde Februarie begin siek voel en gekla van naarheid, koors, hoofpyn en erge buikpyn.

“Ons het haar die Sondagoggend (5 Maart) na die Evander-staatshospitaal geneem, waar ons weggewys is. Die personeel het vir ons gesê daar is mense wat sieker as Marisca is en eerste behandel moet word.”

Van der Merwe se tannie en neef het haar die middag na ʼn private dokter op Witbank geneem en die konsultasie se koste gedek.

‘n Foto van Van der Merwe op haar begrafnis (Foto: Verskaf)

“Die dokter het ʼn sonar gedoen en gesien ʼn infeksiewand het om haar galblaas gevorm. Bloed is ook in haar urine aangetref. Bloedtoetse het vasgestel dat Marisca se niere weens die septisemie besig is om in te gee.

“Ons het nie besef dat die sepsis toe reeds in haar bloed was en haar organe aangetas het nie.”

Van der Merwe is na die Witbank-staatshospitaal gehaas, maar is na etlike ure later weer huis toe omdat sy geen hulp ontvang het nie.

Die hospitaal was volgens die familie vuil met opsigtelike menslike oorskot en bloed in die gange en op beddens. “Die personeel was ook glad nie hulpvaardig nie.”

Sy is Donderdag (8 Maart) weer na dieselfde hospitaal geneem nadat sy gekla het dat sy kort van asem is.

“’n Lêer is vir haar oopgemaak en sy is op ʼn drup gesit. Sy het swaar asem gehaal en heeltyd geslaap.”

Van der Merwe is Vrydag (10 Maart) net voor 03:00 oorlede.

Die familie voel nou die hospitale het hulle in die steek gelaat.

Swak toestand van staatshospitale

Witbank-hospitaal (Foto: VF Plus)

Die VF Plus het van die saak te hore gekom en ʼn dringende vergadering met die LUR vir gesondheid in Mpumalanga, Sasekani Manzini, versoek. Die party eis ʼn volledige verslag rondom die geskiktheid van die hospitaalpersoneel in die Bethal-, Evander- en Witbank-staatshospitaal.

“Die swak toestand van staatshospitale in die land is alombekend en indien die bewerings gestaaf word, sal Manzini direkte verantwoordelikheid moet aanvaar vir Van der Merwe se dood,” sê Werner Weber, VF Plus-leier in Mpumalanga.

Die party gun die LUR 14 dae om die verslag uit te reik en sal verdere ondersoek instel sodat die betrokke amptenare tot verantwoording geroep kan word.

Maroela Media het ʼn navraag aan die departement van gesondheid in Mpumalanga oor die aangeleentheid gerig, maar wag nog op terugvoer. Dit sal bygevoeg word sodra ons dit ontvang.

Hartseer oor ʼn kind, ma se dood

Van der Merwe se man, Terence van der Merwe, en Leanke woon tans by Fourie in Secunda.

“Marisca se dood het ons geruk. Ek kan nie aanvaar dat my kind weg is nie,” vertel Fourie.

Leanke was die week ná Van der Merwe se dood baie huilerig en volgens Fourie was dit omdat sy nie meer haar “mamma kon ruik of sien” nie.

“Marisca kon die laaste week voor haar dood glad nie meer na Leanke omsien nie omdat sy te siek gevoel het.”

Fourie sal haar dogter as die “vrou met die mooi glimlag en goeie hart onthou”.

“Sy was my sonstraalkind en ek sal haar baie mis”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.