Jong operaster bederf behoeftige kinders

Amira Willighagen. Foto: Facebook

Amira Willighagen het nie net ’n goue stem nie, maar ook ’n hart van goud.

Die Nederlandse sopraan wat in 2013 op negejarige ouderdom die talentkompetisie Holland’s Got Talent 2013 gewen het, het met die aanbreek van die grendeltydperk 16 jaar oud geword.

Amira, haar ma en broer woon tans by familie op Potchefstroom. Haar liefdadigheidsorganisasie, Gelukskinders, gaan vanjaar die 16de parkie in Suid-Afrika oprig. Sy voel elke kind in elke buurt moet toegang kan hê tot ’n parkie – soos wat sy in Nederland het.

Amira se aanhangers en ondersteuners het haar tydens haar verjaardag met donasies oorval, waarna sy besluit het om R80 000 aan die liefdadigheidsorganisasie Solidariteit Helpende Hand te skenk om vir behoeftige kinders nie net kos nie, maar ook lekkernye aan te koop.

“Ek het besluit om die geld vir Solidariteit Helpende Hand te skenk, want dit is ’n veilige en betroubare organisasie wat mense op verskillende maniere help en weet waar die nood is,” sê Amira.

Buiten die nodige stapelvoedsel het sy versoek om ook warm sjokolade of Milo, malvalekkers, skyfies en aanmaakkoeldrank aan te koop. Helpende Hand kon met dié skenking onderskeidelik vier bederfdae vir behoeftige kinders hou.

“Ek het spesiaal versoek dat daar warm sjokolade en malvalekkers in die kospakkies is, want dit is die eerste ding waaraan ek in die oggende tydens hierdie koue winter dink,” sê sy.

Altesaam 400 behoeftige kinders het die afgelope twee weke hul lekkernye tydens pretdae by drie Helpende Hand-persele en ’n laerskool ontvang. Presies 140 pakkies is by Helpende Hand se gemeenskapsentrum, Ons Plek Strand, in Kaapstad uitgedeel.

Altesaam 95 pakkies is by Laerskool Fanie in Kraaifontein uitgedeel, 100 pakkies is by Ons Plek Derdepoort in Pretoria uitgedeel en 65 pakkies by Ons Plek in Volksrust.

René Roux, Helpende Hand se adjunk- uitvoerende hoof van kommunikasie en woordvoerder van die #StopHonger-voedingskema, het die skenking verwelkom en waardering daarvoor uitgespreek.

“Amira is een van #StopHonger se ambassadeurs vandat dié voedingskema in 2018 van stapel gestuur is. Dit is vir ons besonders dat sy haar hand uitsteek tydens die pandemie deur nie net kinders te voed nie, maar ook te bederf. Sy is ’n ambassadeur van formaat wat aktief binne Helpende Hand optree en som die krag van Vrouemaand in ’n klein pakkie dinamiet op.

“Dit is besonders om te sien dat so ’n jong dame, iemand wat eintlik nog ’n kind is, ander kinders help. Ons hoop dat dié gebaar ook ander kinders wat daartoe in staat is, sal aanspoor om in te gryp waar daar nood is. Dit is belangrik vir ouers om hul kinders te leer om van ’n vroeë ouderdom af in hul gemeenskap betrokke te raak. Klein dade vir een, kan ’n reuseverskil maak in iemand se lewe. Deur hoop te skep is ook ’n manier om armoede aan te spreek en vir so ʼn klein rukkie mense en kinders se gemoed te lig,” sê Roux.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

JohanR ·

Daar is ‘n paar ANC ministers wat by jou kan kom leer Amira Willighagen! Miskien sommer die hele ANC.

agnes ·

Wat n mooi gebaar van so’n jong dogter. Sy is n pragtig voorbeeld vir ons jeug

Francois Le Cochon ·

Slim kind die Almira. Op 16 weet sy al by watter liefdadigheids organisasie jou skenking veilig is.

Elsabe ·

Jy is ‘n ster, Amira. Dankie dat jy jou fondse in veilige hande toevertrou. Ek wens jou sukses en seen in jou loopbaan as opera-ster.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.