Jong pa dood in huis aangetref

Conrad Prinsloo (Foto met vergunning van Rean3 Fotografie)

Die gemeenskap van Kimberley in die Noord-Kaap is in rou gedompel nadat die liggaam van ’n jong pa van twee vandeesweek in ’n huis in die stad aangetref is.

Kapt. Olebogeng Tawana, woordvoerder van die polisie, het aan Maroela Media bevestig Conrad Prinsloo (32) se liggaam is Maandag in ’n huis in Jawnostraat met ’n skietwond aan die bolyf aangetref.

Die polisie is besig met ’n geregtelike doodsondersoek.

Prinsloo het by General Refrigeration in Kimberley gewerk ten tyde van sy dood. Hy was ʼn oudleerder van Hoërskool Diamantveld in die stad.

“Ons harte is verskriklik seer omdat ons ’n ware vriend en kollega verloor het. Hy was ’n goeie vriend en ’n harde en getroue werker,” het sy kollega Gina Stoltz Woensdag aan Maroela Media gesê.

Volgens Stoltz was Prinsloo baie geliefd onder sy medewerkers. “Sy lawwe en liefdevolle geaardheid sal beslis gemis word. Hy het altyd ’n grappie of twee gehad en het ons lekker laat lag.

“Die manne wat saam met hom in die distrik gewerk het, het vreeslik daarvan gehou dat hy saamgaan, want hy het altyd ’n danspassie of twee gehad het, soos net hy dit kon doen. Hy was General Refrigeration se entertainer.”

Prinsloo word oorleef deur sy vrou, Karyn, en die egpaar se twee jong kinders. “Hy het altyd met soveel liefde van hulle gepraat. Hy was ’n sagte en liefdevolle mens,” het Stoltz vertel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Genis ·

Liewe Vader wanneer gaan die sinnelose moorde ophou? Ons sal ons stemme moet dik maak die 5de September…

Althes ·

Wie sê dit was moord? Geregtelike ondersoek kan op iets anders dui.

Katrina ·

Glo ongelukkig nie dit was moord nie. Sterkte aan sy familie en kinders in besonder, ek bid dat onse Vader berusting sal bring.

Androclus ·

Is die adres wat genoem word in die nou sy adres waar hy gebly het.Wonder maar net.Berig sê in ‘n huis in Jawnostraat.

Frederik C ·

Afgesien van die adres wat, soos jy noem, geen sin maak nie. Is daar ‘n vuurwapen op die toneel gevind ? Is daar tekens van ‘n inbraak ?

Niklaas ·

Sy arme vrou en 2 kindertjies. Wie het die man geskiet ? Moord of wat ? Die media berigte meld niks op hierdie stadium

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.