Joslin Smith: Aanklagte teen beweerde sangoma laat vaar

Phumza Sigaqa Woensdag in die hof voordat alle aanklagte teen haar teruggetrek is. (Foto: Skermgreep)

Alle aanklagte teen Phumza Sigaqa, die vrou wat aanvanklik daarvan verdink is dat sy ’n sangoma is en ’n aandeel in Joslin Smith se verdwyning gehad het, is Woensdagoggend in die landdroshof op Vredenburg teruggetrek.

Talle gemeenskapslede het vanoggend voor die verrigtinge buite die hof opgeruk. Verskeie het daarop aangedring dat Sigaqa vrygelaat word aangesien sy nie enige betrokkenheid het by klein Joslin se verdwyning nie.

Inligting oor waar die vermiste Joslin (6) moontlik kan wees, word intussen deur die staat opgevolg.

Die staat gaan in die stadium voort met sy saak teen Joslin se ma, Racquel (Kelly) Smith, en haar twee medebeskuldigdes, kêrel Jacquen (Boeta) Appollis en Steveno Duwayne.

Die drie gaan egter nié borgtog vra nie.

Van regs: Phumza Sigaqa, Racquel (Kelly) Smith, Jacquen (Boeta) Appollis en Steveno Duwayne Woensdag in die hof. (Foto: Skermgreep)

Smith, Appollis en Duwayne se regsverteenwoordigers het vanoggend in die landdroshof op Vredenburg aangedui dat hul kliënte hul beoogde aansoeke om borgtog in die stadium laat vaar.

Die saak is nou tot 13 Mei uitgestel vir verdere ondersoek.

Die staatsaanklaer het vanoggend aangedui inligting oor waar Joslin “haar dalk kan bevind”, word tans opgevolg. Die staatsaanklaer het egter nie meer hieroor bekend gemaak nie. Gerugte doen sedert Dinsdagaand op sosiale media die rondte dat haar liggaam gevind is. Die polisie kon egter nog nie dié inligting bevestig nie.

Die staatsaanklaer het aangedui dat daar om langer uitstel gevra word aangesien die ondersoekspan ook nog op selfoonrekords en verdere verklarings van ooggetuies wag.

Joslin se ma het ná die verrigtinge in trane uitgebars voordat sy en haar medebeskuldigdes na die hof se selle begelei is.

Die soektog na Joslin duur voort.

Racquel (Kelly) Smith Woensdag in die hof. (Foto: Skermgreep)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Bekkie ·

Dit help veel sy tjank………plaas sy net se waar die kind is!!!

Marous ·

Hoe kan iemand toegesluit word as daar nie getuienis is nie ? Hier kom weer siviele eis waarvoor prokureurs hul lippe aflek .

Karoo ·

Ek wonder hoe gaan dit met Joslin se biologiese Pa, ek hoop daar is vir hom ondersteuning, daar word nerens niks van hom gese nie behalwe dat hy van Namakwaland afgekom het.

Wondermaarnet ·

Die ma en mede beskuldigdes kan net die waarheid praat en so baie tyd en geld spaar.

Michael ·

Hoe aresteer jy iemand en daag hom voor die hof sonder dat jy konkrete bewyse het nie ,is dit hoe laag die bevoegdheid van die ” polisie ” nou is .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.