Jou eetgewoontes kan dalk Covid-19-simptome bekamp

Geen verband is gevind tussen enige soort dieet en die gevaar om Covid-19 op te doen of die lengte van die gevolglike siekte nie. (Foto: pixabay)

Sommige studies dui daarop dat dieet moontlik ʼn belangrike rol kan speel in hoe ernstig Covid-19-simptome ondervind word en dat die eet van plante, eerder as diereprodukte, ʼn belangrike rol in die bestuur van pandemies kan speel.

Volgens ʼn studie wat die aanlyn joernaal BMJ Nutrition Prevention & Health vroeër gepubliseer het, kan plant- of visgebaseerde diëte matige tot ernstige Covid-19-infeksie met onderskeidelik 73% en 59% verminder.

Navorsers in dié studie het ʼn opname onder 2 884 dokters en verpleërs in Frankryk, Duitsland, Italië, Spanje, die Verenigde Koninkryk (VK) en die VSA gedoen, wat beduiende blootstelling aan Covid-19 gehad het. Respondente se eetgewoontes is ondersoek en daar is onder meer gekyk na 47 voedselitems en die erns van enige Covid-19-infeksie wat hulle opgedoen het.

Daar is ook gekyk na die deelnemers se persoonlike agtergrond, mediese geskiedenis, gebruik van medikasie en leefstyl.

Diëte is opgedeel in plantgebaseerde diëte, vis‑ en plantgebaseerde (peskatoriese) diëte en laekoolhidraat-hoëproteïen‑diëte.

  • Plantgebaseerde dieet: Meer groente, peulvrugte en neute, maar laer in pluimvee en rooi‑ en verwerkte vleis
  • Peskatories/plantgebaseer: Meer groente, peulvrugte en neute, asook vis en seekos

Die studie het bevind diegene wat ʼn plant- of visgebaseerde dieet volg, het ʼn laer kans gehad om matige tot ernstige Covid-19-infeksie op te doen, in vergelyking met diegene wat nie hierdie dieet gevolg het nie.

Heel vis op die kole. (Foto: Verskaf)

In vergelyking met diegene wat ʼn plantgebaseerde dieet volg, het respondente wat ʼn laekoolhidraat-hoëproteïen-dieet volg, byna ʼn vier keer groter kans gehad om matige tot ernstige Covid-19 op te doen.

“Geen verband is egter gevind tussen enige soort dieet en die gevaar om Covid-19 op te doen of die lengte van die gevolglike siekte nie.”

Veel meer mans as vroue het aan die studie deelgeneem en navorsers sê die bevinding kan dalk nie op vroue van toepassing wees nie.

Plantgebaseerde diëte is ryk aan voedingstowwe, vitamiene en minerale – alles belangrik vir ʼn gesonde immuunstelsel. Vis, aan die ander kant, is ʼn belangrike bron van vitamien D en omega 3-vetsure wat albei anti-inflammatoriese eienskappe bevat.

“Ons uitslae dui daarop dat ʼn gesonde dieet, ryk aan voedingryke kos, oorweeg kan word vir beskerming teen ernstige Covid-19,” sê die navorsers.

Plante kan pandemie help keer

Plantgebaseerde diëte is ryk aan voedingstowwe, vitamiene en minerale – alles belangrik vir ʼn gesonde immuunstelsel. Vis, aan die ander kant, is ʼn belangrike bron van vitamien D en omega 3-vetsure. (Foto: Life is a garden)

Michelle Zietsman, ʼn dieetkundige, sê die navorsing is in ooreenstemming met wat sy sou verwag.

“Vrugte en groente is ryk in vesel en dra by tot dermgesondheid wat ʼn belangrike rol speel om die immuunstelsel te ondersteun. Dit bevat ook baie fitochemikalieë, wat ʼn beduidende fisiologiese uitwerking op die liggaam het en die ontwikkeling van siektes kan onderdruk. Vesel en fitochemikalieë word uitsluitlik in heel plantgebaseerde kos gevind.”

ProVeg International sê studies wys dat die verband tussen dieet en Covid-19 veel verder strek as net simptome. Dit is ʼn internasionale organisasie wat hom beywer vir voedselbewustheid om die wêreldwye voedselstelsel te hervorm deur konvensionele diereprodukte met plantgebaseerde en gekweekte alternatiewe te vervang.

Soönotiese siektes, ook koronavirusse, is verantwoordelik vir 75% van nuwe siektes wat na vore kom. Die organisasie voer aan die grootskaalse produksie van diere vir kos en die eet van wilde diere verhoog die gevaar dat pandemies in die eerste instansie uitbreek.

Prof. Andrew Robinson, ʼn kenner in openbare gesondheid verbonde aan die Noordwes‑Universiteit se fakulteit vir gesondheidswetenskap en medestigter van die Physicians Association for Nutrition South Africa (PAN SA), beskou ʼn skuif na ʼn meer plantgebaseerde voedselstelsel as ʼn belangrike gedeelte van ʼn doeltreffende pandemiestrategie.

“Die navorsing dui daarop dat die doeltreffendste manier om die gevaar van toekomstige pandemies en ernstige simptome wat met die huidige pandemie verband hou te versag, is om ʼn beduidende verandering aan ons voedselstelsel aan te bring en weg te beweeg van afhanklikheid van industriële dierelandbou en vissery, en die hoeveelheid plantgebaseerde kos wat ons produseer en eet, te verhoog.”

Dr. Nanine Wyma, programdirekteur van voedselbewustheid by ProVeg Suid-Afrika, het ʼn beroep op die regering en die mediese gemeenskap gedoen om die navorsing te hersien oor die verband tussen die kos wat mense eet en die uitbreking van pandemies. Sy vra ook dat dit toenemend onder mense se aandag gebring word.

“Die soort navorsing benadruk dat daar verskillende maniere is om veerkragtigheid teen ernstige siekte op te bou. Daar moet ook bewustheid en toegang tot voedingsverwante leefstylaanpassings geskep word wat die gevaar van ernstige siekte en toekomstige pandemies kan verminder,” sê Wyma.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Groen Ghoen ·

Uhmmm…. Berei maar voor vir die Covid-koei wat gemelk gaan word vir die 5e, 6e, 7e, tot die nimmereindigende vlaag. Elke vlaag sal wonderbaarlik slegs deur ‘n spesifieke inenting bekamp word. Koop gerus aandele in die maatskappye en deel in die winste – geniet al die varsprodukte wat daarmee bekostig kan word.

Jacobus ·

Baie goeie samevatting. Sal min aftrek kry aangesien die huidige verloop die $$s laat inrol vir ons huidige strukture

Agietjie ·

Dit is ondersteun dié mense wat sê dat jy nie die vaksine hoef te neem nie, maar eerder net jou imuunstelsel ondersteun

KB ·

ʼn Gebalanseerde dieet is nog altyd ‘n wenner. “Gesondheid kom uit die grond uit”, nie uit ‘n restaurant of wegneem etes nie.

Anel ·

Dit is net logies dat mense wat gesond eet gesond is. Weet nie wat so snaaks is daaraan nie. Die mens is ‘n omnivoor. Julle gaan my nie wysmaak dat ek gesonder gaan wees om ‘n herbivoor te word nie. Dit is deel van hoe die mens gemaak is. Mense wat van gemorskos leef is normaalweg ongesonder as die wat gesond eet. Gewig speel natuurlik ook ‘n rol. As jou gewig reg is, is jy gesond. Allerhande stories om ons te oortuig dat die virus is agv al die nonsens. Enigeen wie se imunstelsel nie sterk is nie kry verkoue, griep of wst ook al. Selfde met die virus. Hoe gesonder jy is, nie oorgewig nie hoe minder is jou kans om siek te word. Geen inspuiting gaan dit kan doen nie. En ook nie om 100 keer per dag jou hande te was nie en 24/7 ‘n masker te dra nie. Jou liggaam moet self imuniteit opbou. Jy word daarmee gebore. Dit hang van jou af hoe jy dit bestuur.

Meisie ·

Jy gaan gesonder wees as n herbivoor, mense is nie omnivore oorspronklik nie.. Media en propoganda het jou lekker beet.. kyk The Gamechangers, ek self is nie Vegan nie, maar eks redelik seker van my feite ;)

Anel ·

So as die mense nie omnivore is nie hiekom het die Here vir die Israeliete manna en kwartels as kos gegee toe hulle in die woestyn was? Hy het nie groene en vrugte gegee nie. En ek is ook seker van my feite!

Mrs H ·

Wat kan groei in n woestyn Anel? Zzzzz gaap-gaap….
Na die groot vloed ‘Noag se ark’… was daar ook nie veel plante groei agv al die water nie… maar die mense was honger, en het wel diere by hulle gehad. Dink n bietjie en vul jou feite aan.

Samuel ·

Ek is baie lief vir vrugte en groente, maar hemel, die pryse is soms buitensporig. Asof dit nie genoeg is om gedwing te word om die inenting te neem en die regering se sentrale beheer oor ons in-en uitgaan, kan ons dalk gedwing word om net plantgebaseerde diëte te volg. Alles hang af van waar die beste dividende betaal gaan word. In hemelsnaam, hou tog net ‘n balans in gedagte!!

Rudolph ·

Ek is verbaas dat Maroelamedia die artikel plaas! Hulle adverteerders / borge hou nie enige kommentaar of berigte wat mense aanmoedig om minder diereliggaamsdele te eet nie. Die beskrywing van ‘n ‘plantgebaseerde dieet’ is van die kol af maar nietemin is daar nuttige inligting vervat. Daar is plantgebaaseerde bronne van Omega 3 vette. Flassaad onder andere. Vis behoort vir verskeie redes vermy te word. Dieremishandeling, omgewingskade en benadeling van menslike gesondheid

Harley Davidson ·

Om goeie brandewyn te drink verstaan ek het dieselfde uitwerking.

Hennie ·

Mense wat oorgewig is het net ‘n groter risiko, almal weet dit, maar niemand mag dit sê nie! Dis mos ‘n sonde om “fat-shaming” te pleeg. Wel, kry vir jou ‘n hoedjie! En moenie met stories kom dat jy vet is omdat jy siek is nie. Jy is siek en het skete en kwale omdat jy vet is. Sny daai suikers en carbs of betaal die prys. Dis so maklik soos dit. Jou keuse!

Sanja ·

Lewer kommentaar…MAROELA HOEKOM VEE JUL MY KOMMENTAAR UIT?

JohanCzu ·

Dalk moet die skrywer by ‘n werklike wetenskaplike gaan aanklop vir op datum inligting oor dieet en gesondheid. Ek is seker sy kan baie leer by Prof Tim Noakes.

Anel ·

Ek sien gister ‘n berig waar Israel mense of dan nou toeriste toegang tot die land gaan verbied as hulle wel geënt is. 80% van mense wat glo nou siek word is gespuit. Glo in verskeie ander lande kom dieselfde voor. So eet gesond, lewe gesond en bou so jou imuniteit op. Jy kan nie feso d bly deur net seker goed te eet nie. Jy moet ‘n verskeidenheid eet. Hoe word daar gesê? ‘n Gesonde liggaam huisves ‘n gesonde gees. Jy kan vir jouself dink.

Danie ·

“80% van mense wat glo nou siek word is gespuit.”
Nou wat sê dit?
Die entstof is nooit voorgehou as iets wat jou gaan keer om die virus op te tel nie.
Natuurlik kan jy siek word, die kwessie is dat die entstof help om die ernstige simptome van infeksie te verhoed of ten minste drasties te verminder.

“Ek sien gister ‘n berig waar Israel mense of dan nou toeriste toegang tot die land gaan verbied as hulle wel geënt is.”
Gee ons n link na die berig asb.

Hannelie ·

Ek is al vir 40 jaar ‘n vegetariër. Ek word nooit siek nie, tel nie gewig op nie en my kosrekening bly laag. Ek eet hoofsaaklik vrugte en groente, nou en dan suiwel en twee keer per maand eiers.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.