K9-‘held’ sterf aan diens

Deacon, die dapper rottweiler. (Foto: SAPD)

Polisiebeamptes van Humansdorp se honde-eenheid het vandeesweek een van hul geliefde vierpotige kollegas verloor nadat dié hond sy hanteerder se lewe gered én ’n vermeende huisrower help vastrek het.

Deacon, die dapper rottweiler, is Maandag dood, skaars ’n uur nadat hy sy hanteerder, sers. Pat le Grange, te hulp gesnel en sy lewe gered het.

Kol. Priscilla Naidu, polisiewoordvoerder, sê Le Grange en Deacon het Maandag op ’n klag van huisbraak in die omgewing van St. Francisbaai in die Oos-Kaap gereageer. Le Grange is met sy aankoms op die toneel in kennis gestel dat die verdagte(s) die bosse in gevlug het en Le Grange en Deacon is agterna.

Die twee “kollegas” het saam-saam die bosse ingekruip met Deacon aan ’n lang leiband voor.

’n Kruipende Le Grange het in ’n stadium ’n harde gil gehoor en probeer om so gou moontlik voor by sy hond uit te kom. Terwyl Le Grange opgestaan het, het ʼn verdagte uit die bos te voorskyn gekom en met ’n mes op hom afgestorm. Deacon is toe reeds met ’n mes gesteek.

Die gewonde vierpotige het opgespring en die verdagte getakel, wat Le Grange in staat gestel het om die verdagte in hegtenis te neem.

Le Grange het ná die inhegtenisneming besef dat sy hond erg bloei en hom inderhaas na ’n nabygeleë veearts geneem.

Dapper Deacon se hart het egter ’n uur ná sy aankoms by die veearts gaan staan weens die aard van sy beserings en hy is dood verklaar.

Deacon was maar een jaar en nege maande oud. Hy het in Julie verlede jaar by Humansdorp se honde-eenheid aangesluit.

Naidu sê die 19-jarige verdagte wat Le Grange en Deacon aangeval het, het sedertdien in die landdroshof in Humansdorp verskyn op aanklagte van huisbraak, die aanval op ’n polisiebeampte en opsetlike saakbeskadiging. Dié aanklagte hou verband met Deacon se dood.

“Polisiehonde het bewys dat hulle deurslaggewend is vir die sukses van operasies in menige gevalle waar die hanteerders op hul eie nooit suksesvol sou wees nie. Die honde het die vermoë om by plekke in te gaan waar ’n mens gewoonlik nie sou kon nie. Hulle het ook die vermoë om inkriminerende items met bewyswaarde op te spoor deur net van hul sintuie gebruik te maak.

“Hulle is beslis deel van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD)-familie. Rus in vrede Deacon,” sê Naidu.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.