Kaapse seewierwoud ʼn nuwe wonder van die wêreld

Die Kaapse seewierwoud in “My Octopus Teacher” (Foto: Fain Loubser)

Die finansiëlesagteware-en-mediamaatskappy Bloomberg het onlangs die Kaapse seewierwoud ingesluit as een van die nuwe sewe wonders van die wêreld.

Bloomberg skryf dat ʼn nuwe lys van wêreldwonders nodig was ná die Covid-19-pandemie die wêreld in 2020 getref het. Die nuwe lys bied sewe wonders van die wêreld waarheen mense kan reis sonder om veel wisselwerking met groot groepe mense hoef te hê.

Die Nahanni Nasionale Park in Kanada, Antequera Dolmens in Spanje en Australië se Top End-rotskuns het ook die lys gehaal.

Bloomberg beskryf Suid-Afrika se seewierwoud, wat sowat 16 km suid van Kaapstad geleë is, as ʼn onderwater-oerwoud wat twee keer die wydte van die Grand Canyon is en miljoene seewesens huisves.

Die Kaapse seewierwoud in “My Octopus Teacher” (Foto: Fain Loubser)

Die seewierwoud was ook die prominente agtergrond van My Octopus Teacher, wat vroeër vanjaar geseëvier het met die Oscar-toekenning vir beste dokumentêr. Die dokumentêr vertel die hartroerende verhaal van ʼn seekat wat ʼn ongelooflike band met ʼn diepseeduiker smee.

“Die reuse-seegrasse wat in dié onderwater-oerwoud voorkom, floreer waar die Atlantiese getye plek maak vir die koue Antarktika-seestrome; ʼn verskynsel genaamd upwelling, waar twee oseaanlae saamvloei – en dit is die sleutel tot hul groei,” skryf Bloomberg.

Hier is Bloomberg se volledige nuwe lys van die sewe wonders van die wêreld:

  • Antequera Dolmens, Spanje
  • Baalbek, Libanon
  • Nahanni, Kanada
  • Top End-rotskuns, Australië
  • Seewierwoud, Suid-Afrika
  • San Agustin, Colombië
  • Sigiriya, Sri Lanka

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Jaco ·

En niemand mag dié plekke besoek nie, want inperking hou wêreldwyd aan en aan en aan en aan. Is dit die “nuwe normaal” vir die volgende 10 of 20 of 50 of 100 jaar????

Pietertjie ·

Myns insiens is die hele aardbol die eerste wonder van die wêreld, en moet as sulks opgepas word. Dit is goed dat ‘n dokumentêre program die skoonheid van ‘n eenvoudige stukkie see-lewe aan die suidpunt van Afrika in die kalklig geplaas het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.