Kaapse waaghals skitter in gewilde Netflix-reeks

Jenny Umbhau en Jenna Ortega op die stel van Wednesday. (Foto: Verskaf)

Die gewilde komedie-riller Wednesday wat tans op Netflix te sien is, het kykers oor die hele wêreld heen vasgenael voor die kassie. Hoewel die Amerikaanse aktrise Jenna Ortega die hoofrol as Wednesday Addams vertolk, is dit eintlik die 29-jarige Jenny Umbhau van Vishoek in die Wes-Kaap wat die meeste van haar gevaarlike, waaghalsige toertjies en gevegstonele uitvoer.

Die reeks is oor ʼn tydperk van agt maande in ʼn yskoue Roemenië verfilm en vir Umbhau was dit ʼn onvergeetlike geleentheid en voorreg om Suid-Afrika in só ʼn trefferreeks te verteenwoordig. Dit was wel moeilik om so lank van haar familie en drie geliefde honde weg te wees.

“Die mees opwindende deel daarvan om Wednesday te verfilm was … alles!” het Umbhau aan Maroela Media gesê.

“Die hele reeks was ʼn droom wat bewaarheid is.”

Sy het boonop die liefde van haar lewe op die stel ontmoet en sê dit was  ʼn groot hoogtepunt om saam met die regisseur van Wednesday, Tim Burton, te werk, asook die toerkunskoördineerder, Brett Chan, saam met wie sy onlangs aan die Bruce Lee-geïnspireerde reeks, Warrior, gewerk het. In dié reeks vertolk Umbhau die klein rol van ʼn stom vigilant wat vreesloos met ʼn swaard veg. Die reeks is onder meer op Showmax te sien.

Chan is ook die een wat Umbhau gebel en gevra het of sy sou belangstel om Ortega se instaanspeler op Wednesday te wees – ʼn aanbod wat sy heelhartig aanvaar het.

“Dit was wonderlik om saam met Jenna te werk. Sy is ʼn talentvolle jong aktrise en ek sien daarna uit om dop te hou watter wonderlike dinge sy nog in die bedryf gaan aanpak. Ek het die meeste van die gevaarlike toertjies gedoen, waaronder die skermkunstonele (en ander swaardgevegte), die toneel waar Wednesday teen ʼn boom moes bots, die Gargoyle-tekkel, bollemakiesies en tuimeldraaie.

“Ek weet Jenna wou graag van haar eie toertjies doen, maar weens versekeringsdoeleindes kon ons nie bekostig dat sy seerkry nie. Ek glo egter sy is ten volle daartoe in staat.”

Jenny Umbhau en Jenna Ortega op die stel van Wednesday. (Foto: Verskaf)

Umbhau sê sy kon ongelukkig nie baie tyd saam met Ortega deurbring nie omdat sy in elke toneel was. Sy moes die aktrise egter fyn dophou om seker te maak dat sy haar bewegings en eiesoortige maniere so fyn moontlik kan namaak.

En ja, Umbhau loop ook, soos ander waaghalskunstenaars, die risiko om seer te kry.

Maar, sy oefen gereeld, bly versigtig en werk gereeld aan haar fiksheid en die verfyning van haar vaardighede.

“Waaghalse kan beslis seerkry aangesien ons die mense is wat ons liggame op die spel plaas. Ons probeer egter altyd so veilig moontlik wees. Gelukkig het ek nog net geringe beserings die afgelope nege jaar opgedoen.”

Dit was juis die idee om haarself in gewaagde situasies te plaas wat haar na dié beroep aangetrek het.

“Ek is ʼn groot adrenalienverslaafde. Om gevaarlike toertjies uit te voer en te leer hoe om dit so veilig moontlik te doen, verskaf my baie vreugde en opwinding. Ek is mal daaroor om te weet tot watter mate ek myself kan uitdaag en in situasies kan plaas waar ek werklik my liggaam moet ken en weet wat dit [my liggaam] moet kan doen om veilig te wees.”

Haar agtergrond in gimnastiek en dans tel beslis ook in Umbhau se guns as waaghals, hoewel sy glo dit nie ʼn vereiste is om ʼn sukses van dié beroep te maak nie.

Die waaghals Jenny Umbhau op die stel van Wednesday. (Foto: Verskaf)

“ʼn Agtergrond in iets soos gimnastiek, dans of gevegkuns sal beslis help indien jy ʼn waaghalskunstenaar wil word. Maar in alle eerlikheid hoef jy nie hierdie agtergrond te hê nie – net die dryfkrag, toewyding en vermoë om nooit op te gee nie. Dis ʼn bedryf waar jy gereeld verwerp kan word, en dit kan moeilik raak. Maar as jy alles gee en net aanhou, sal jy wel daar uitkom.”

Umbhau het vir langer as 13 jaar gimnastiek gedoen en Suid-Afrika in Giants Gymnastics verteenwoordig. In 2019 in sy ook gekies om deel van Cirque Du Soleil se nuwe waaghalsvertoning te wees, wat in Las Vegas te sien was. Voorbereiding het vyf weke lank in Kanada plaasgevind en toe het hulle na Las Vegas verskuif. Umbhau was ʼn danser en waaghals in dié vertoning en haar karakter se naam was Sakura.

Umbhau het ook al aan verskeie ander internasionale produksies gewerk, waaronder die televisiereeks Black Sails en die rolprent Dark Tower wat albei in Suid-Afrika verfilm is.

Umbhau hoop om haar loopbaan as aktrise in die toekoms uit te brei.

“Ek hoop om eendag ʼn rol soos Lara Croft in Tomb Raider te vertolk.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.