Kaapstad begin opruim ná swaar reën

Sneeu op die Matroosberge in die Wes-Kaap. (Foto: Armand Hough/ANA)

Die Stad Kaapstad is besig met grootskaalse opruimingswerk ná swaar reën sedert Maandag oor die gebied uitgesak het. Sterk wind het ook gewaai.

Die stad se rampbestuursentrum sê hy het teen Woensdag 176 voorvalle aangeteken, wat insluit oorstromings, kragonderbrekings, bome wat ontwortel is, asook struktuurskade.

JP Smith, burgemeesterskomiteelid vir veiligheid en sekuriteit, het gesê die sentrum koördineer alle oproepe wat ontvang word.

Altesame 43 vloedverwante voorvalle is aangemeld; 122 kragonderbrekings het in die metropool voorgekom; nege voorvalle van omgewaaide bome, asook twee voorvalle van afgewaaide dakke in die informele nedersettings Masiphumelele en Burundi is aangemeld.

Verskeie dele van Khayelitsha het oorstroom. (Foto: Ayanda Ndamane/ANA)

“Die situasie gaan verander namate herstelspanne die lys met voorvalle deurwerk. Ons doen ʼn beroep op inwoners om geduldig te wees terwyl skadebepalings vir rekorddoeleindes gedoen word voordat hulp, byvoorbeeld in die vorm van vloedbystandsgereedskap, versprei kan word,” het Smith gesê.

“Die stad het noodskuilings beskikbaar gestel vir geraakte gemeenskappe, maar die aanbod daarvoor is nie aanvaar nie. Ons het Sassa (die Suid-Afrikaanse Agentskap vir Maatskaplike Sekerheid) ook ingelig oor die behoefte aan humanitêre hulp.”

Nagenoeg 3 460 strukture in Masiphumelele, Imimzamo Yethu, Khayelitsha, Burundi, Nomzamo en Wallacedene het stormskade opgedoen.

Ontwortelde bome is in tientalle buurte aangemeld.

Volgens Smith was die blokkering van stormwaterstelsels een van die grootste knelpunte wat Woensdag by ʼn vergadering van die wintertaakspan geopper is. Die blokkasies is die gevolg van onwettige storting en in sommige gevalle selfs omdat mense items in die dreine stoor.

“Nog ʼn knelpunt is die gehalte van inligting wat verskaf word wanneer die publiek ons inlig oor noodgevalle, of ʼn probleem aanmeld waaraan die stad aandag moet gee. Dit kan reaksietye vertraag of beteken dat die verkeerde departement reageer,” het Smith gesê.

“Ons doen ʼn beroep op die publiek om soveel moontlik inligting te verskaf wanneer hulle voorvalle ná storms, maar ook in die algemeen, aanmeld. Só kan ons verseker dat ons reaksie daarop voldoende is.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Deon ·

Enige nuus oor Calvinia, groot storm laat gistermiddag daardeur dorp is afgesny al van 5uur gister middag af???

Sielsalig ·

Eh nannie, hier kom die R100 000 vergoedings wees omdat huise in die waterlope gebou word.

Skoolgeld ·

Hoeveel mm het dit gereën en is al die damme ten minste vol ? Is dit nie tipies dat mense ñ jaar terug nog met skottels moes was en nou spoel als weg ini Kaap?

Paarliet ·

Die gemiddeld van d 3 damme as ek reg is is tans 69%, Theewaterskloof nog nie vol nie maar dink oor 50% al Bergrivier dam is vol – die water was bestuur deur die seisoen. Geen idee waar le Voelvlei nie. Die Kaap spoel dalk die week weg maar kort beslis nog baie reen om die ander damme vol te kry

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.