Kaapstad beplan om R1 miljard te bestee aan padnetwerk

Argieffoto

Die Stad Kaapstad beplan om besteding aan die stad se padnetwerk in die komende jare te vergroot om sodoende verkeersopeenhoping in die stad aansienlik te verminder.

Na goedkeuring deur die metroraad het die stad gesê hy beplan om ʼn bykomende R203,5 miljoen te bestee oor die volgende drie boekjare – wat op 30 Junie 2025 eindig. Hierdie bedrag sluit die R72,8 miljoen uit wat beskikbaar sal wees in die vorm van ontwikkelingsbydraes van privaatsektor-ontwikkelaars gedurende hierdie tyd.

“Die raad het in 2015 altesaam R750 miljoen beskikbaar gestel vir ’n opeenhopingverligtingsprogram om verkeersopeenhoping in die Blaauwberg-, Kuilsrivier- en Kommetjie-gebied hok te slaan,” het Rob Quintas, die stad se burgemeesterskomiteelid vir stedelike mobiliteit, gesê.

“Ons het egter meer finansiering vir meer projekte nodig om aandag te gee aan opeenhoping op ons padnetwerk. Noudat die burgemeesterskomitee hierdie versoek goedgekeur het, sal ons die raad ook teen einde April nader vir sy goedkeuring.”

Sodra die versoek goedgekeur is, sal die totale bedrag wat vir opeenhopingsverligtingsprojekte begroot is, R953,5 miljoen wees – byna ʼn miljard rand – oor ʼn tydperk van tien jaar.

“Dit is die stad se voorneme om die kapasiteit van sy bestaande padnetwerk uit te brei terwyl pogings aan die gang is om meer en betroubare openbare vervoerdienste aan pendelaars te verskaf. Die opeenhopingverligtingsprogram fokus op projekte wat die volume verkeer tydens die spitsuurtydperke – soggens en saans – sal verminder.

“Ons padnetwerk moet die beweging van mense en goedere en dienste moontlik maak. Opeenhoping belemmer ons produktiwiteit, en kom teen ʼn groot koste vir pendelaars in terme van die tyd wat op die pad deurbring, geld vir brandstof, bo en behalwe die omgewingskade deur koolstofvrystellings.

“Dit is dus belangrik dat ons meer kapasiteit bou – hetsy bykomende bane of ontbrekende padverbindings – om ekonomiese aktiwiteit en ekonomiese groei te ondersteun om werkskepping te stimuleer. Dit is deurslaggewend in ons pogings om van die Covid-19-pandemie te herstel en om ons rol te speel in die bekamping van klimaatsverandering.”

Nog ʼn verslag met besonderhede oor die spesifieke opeenhopingsverligtingsprojekte en die status van lopende projekte sal in die laaste deel van die jaar aan die raad voorgelê word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Jack ·

Dalk so klein bietjie te laat.Teen die tempo waarteen mense Weskaap to trek moes dit al lankal gebeur het.

Ronel ·

Ja Stad Kaapstad en so het jul gesê dat My City na 2010 Wêreldbeker na die noordelike voorstede sal uitbrei, wag nou nog daarvoor

JohanR ·

Julle kan dadelik verkeer van uit Milnerton verminder deur ‘n veerboot stelstel begin van Milnerton tot Kaapstad Hawe. As ander lande dit kan doen dan hoekon nie ons nie? Miskien ook ‘n veerboot stelsel vanaf Hout Baai en Simonstad. Dink uit die box uit!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.