Kaapstad-klinieke nou onder provinsiale beheer

Argieffoto (Foto: StockSnap, Pixabay)

Tien klinieke in Kaapstad is nou onder die provinsiale departement van gesondheid se beheer. Die klinieke het duplikaat dienste aangebied as dié wat deur die provinsie aangebied is.

Dit beteken dat die dienste vaartbelyn gemaak kan word en dat staatsgesondheidsorg in die Wes-Kaap meer doeltreffend en kostedoeltreffend gemaak kan word.

Wendy Kaizer-Philander, die DA se woordvoerder oor gesondheid, sê die besluit om die klinieke onder provinsiale bestuur te plaas, spruit uit ʼn resolusie in die kabinet in 2015 wat bepaal het dat primêre gesondheidsorg gelewer moet word deur ʼn enkele owerheid, wat die provinsiale departement sal wees. “Om dit te bereik, beteken dat gesondheidsdienste geïntegreer en aangebied kan word deur ʼn enkele diensleweringspunt.”

Volgens Kaizer-Philander het die oordrag van die fasiliteite glad verloop. “Daar was ʼn paar uitdagings, maar die departement sal dit spoedig oplos. Tot dusver word die oordrag van behoorlike bestuur afgehandel; nodige toerusting word vir die fasiliteite aangekoop (huidige toerusting sal intussen gebruik word); en die nodige kliniekpersoneel is aangestel en reeds werksaam.”

Sy benadruk dat die fasiliteite wat naby aan groter fasiliteite geleë is, oop sal bly sodat dienlewering onverhinderd kan voortgaan. “As die DA sal ons die proses bly monitor en ons sien uit na toekomstige verwikkelinge in dié verband.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.