Kaapstad-metro stel beurtkrag-app bekend

Die Kaapstad-metro het ’n nuwe beurtkrag-app vir sy inwoners ontwikkel. (Foto: Maroela Media)

Die Stad Kaapstad het ’n nuwe app vir sy inwoners geskep om hulle op die hoogte van beurtkrag in hul onderskeie omgewings te hou.

Inwoners kan intydse inligting en kennisgewings oor beplande beurtkrag ontvang, asook inligting oor waar voorafbetaalde krag gekoop kan word en waar elektrisiteitsdiensversoeke aangemeld kan word.

Die app is gratis op die Apple App Store en Google Play beskikbaar. Gebruikers hoef ook nie hul persoonlike besonderhede te verskaf nie.

“Terwyl ons werk om die kragonderbrekings mettertyd in Kaapstad te beëindig, sal beurtkragskedules vir Kaapstad-kliënte waarskynlik meer verwikkeld word, met verskillende stadiums op verskillende tye van die dag.

“Ons toepassing sal aan inwoners toegang tot die mees akkurate inligting oor beurtkrag gee, wat hulle in staat stel om hul lewe te beplan. Ons wil hê Kapenaars moet die minimum ongerief weens Eskom se opwekkingsmislukkings ervaar terwyl ons werk om beurtkrag iets van die verlede te maak,” het Geordin Hill-Lewis, Kaapstad se burgemeester, in ʼn verklaring gesê.

Hill-Lewis sê dat hulle egter steeds afhanklik is van die inligting wat Eskom beskikbaar stel, maar dat die Stad alles in sy vermoë sal doen om Kapenaars van die jongste verwikkelinge in te lig terwyl dit gebeur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.