Kaapstad se rioolvuil: dít is opsies

Minstens 32 miljoen liter onbehandelde rioolvuil word daagliks in Kaapstad se beskermde mariene omgewing deur mariene seestortingspype by Groenpunt, Seepunt en Houtbaai gestort. (Foto: Steve Kretzmann/GroundUp)

Deur Steve Kretzmann, GroundUp

Minstens 32 miljoen liter onbehandelde rioolvuil word daagliks in Kaapstad se beskermde mariene omgewing deur mariene seestortingspype by Groenpunt, Seepunt en Houtbaai gestort.

Luidens ʼn nuwe lewensvatbaarheidstudie gaan dit R8 miljard kos om ʼn afvalwaterbehandelingsaanleg te bou om die water eers te behandel, óf om die rioolvuil na bestaande afvalwateraanlegte te pomp.

Kaapstad stort al dekades lank rioolvuil in die see, maar die gebruik kom toenemend onder skoot nadat foto’s wat wys hoe die rioolwolke oor die see hang, al hoe meer kommer wek.

Daar is hernude belangstelling nadat die minister van bosbou, visserye en die omgewing, Barbara Creecy, die stad beveel het om ʼn openbaredeelnameproses te onderneem oor die vereiste uitlaatpermitte vir die stortingspype.

Die openbaredeelnameproses het op 21 November geëindig, met 1 979 kommentare wat ingedien is, luidens ʼn voorlegging van die konsultasiefirma Zutari, wat die proses namens die stad bestuur het.

Zutari is ook verlede jaar aangestel om die volhoubaarheid te bepaal van ʼn plan om eers die rioolvuil wat uitgepomp word (ook alle rioolvuil uit die middestad) te behandel, voor dit by Groenpunt, Kampsbaai en Houtbaai in die see gestort word.

Die studie is einde verlede maand by ʼn werksessie bekend gemaak en verklaar onder meer dat dit op kort termyn R100 miljoen gaan kos om opknappingswerk aan mariene seestortingspype en ander bestaande infrastruktuur te doen.

By Houtbaai word daar reeds nie voldoen aan die vereistes van die permit wat betref Kjeldahl-stikstof nie. Dit is ʼn manier om bepaalde vlakke in rioolvuil te meet. Houtbaai voldoen ook nie aan die maksimum hoeveelhede wat ingevolge die permit uitgepomp mag word nie.

Wat betref die vrystelling van swaar metale in die mariene omgewing, voldoen die Groenpunt-stortingspyp net 34% van die tyd aan voorgeskrewe sinkvlakke, met die syfer vir Kampsbaai wat op 46% staan. Sedert 2020 het algehele voldoening wel verbeter.

As toegewysde mariene seestortingspunte, word al drie kwytgestel van afmetings van sekere bakterieë soos E. coli en chemiese komponente.

Oplossings

Een van die seestortingspype by Groenpunt in Kaapstad. (Foto: Steve Kretzmann/GroundUp)

Die studie gee medium- en langtermynoplossings vir die behandeling van die rioolvuil by die seestortingspunte.

Op medium termyn is die voorstel dat die bestaande pype, wat nou tussen 1,35 km en 2,1 km lank is, eenvoudig verleng word. Weens die vorm van die baai by Kampsbaai en Houtbaai is die werklike storting egter slegs sowat 700 m van die strand.

Dit sal tussen R2,2 miljard en R2,6 miljard kos om die pyp by Kampsbaai met 10 km te verleng, die pyp by Groenpunt met 15,3 km en die een by Houtbaai met 11,6 km. Dit hang daarvan af of die pype aan die seebed geanker word, of daaronder begrawe word.

Om ʼn nuwe afvalwaterbehandelingsaanleg by Groenpunt, Kampsbaai en Houtbaai te bou – waar die rioolvuil behandel kan word – gaan tussen R2,2 miljard en R3,4 miljard kos, na gelang van die omvang van die behandeling.

Op lang termyn is daar opsies om rioolvuil van al drie plekke na bestaande aanlegte te pomp: óf via nuwe oseaanpype óf pype oor land. Die afvalwaterbehandelingsaanlegte wat oorweeg word, is Potsdam (by Milnerton), Kaapse Vlakte (by Strandfontein), Athlone en Wildevoëlvlei (by Kommetjie). Bykomende fasiliteite by hierdie aanlegte sal gebou moet word om die ekstra volumes te hanteer.

Die opsies wissel tussen R2,2 miljoen en R7,3 miljoen, met ʼn pyp oor land wat goedkoper as een deur die oseaan is.

Zahid Badroodien, burgemeesterskomiteelid vir water en sanitasie, het vandeesweek gesê ʼn indiepteverslag word afgehandel, wat ook die openbare insette in ag sal neem.

Die grootste besware was teen die gehalte van die behandeling by al drie seestortingspype.

Die stad is ook besig om die openbaredeelnameverslag vir Creecy af te handel. Dit moet teen 29 Februarie ingehandig word.

“Intussen word oorweging gegee aan die inwerkingstelling van korttermynoplossings wat fokus op die vervanging en opknapping van bestaande behandeling- en stortingsinfrastruktuur.

“Instandhoudingsgapings kan ook hanteer word om die lewensduur van infrastruktuur te verleng.”

Hy het gesê daar is ooreengekom dat ʼn omgewingsimpakassessering gedoen moet word om deel te vorm van die voorgestelde oplossings, asook ʼn assessering van hoe dit die stad se begroting gaan raak.

Die lewensvatbaarheid van elke voorstel moet oorweeg word en indien dit wel volhoubaar is, sal finansiering uit die langtermyninfrastruktuurprogram verkry word.

Hierdie berig is oorspronklik op GroundUp geplaas en word met vergunning gebruik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.