Kaapstad-spanne staan bont ná reën

(Foto: Kaapstad-munisipaliteit)

Volgehoue reën in Kaapstad oor die afgelope 36 uur het tot oorstromings gelei en foutiewe verkeersligte en kragonderbrekings veroorsaak. Verskeie bome is ook ontwortel.

Geordin Hill-Lewis, burgemeester van Kaapstad, sê elkeen van die munisipaliteit se spanne is ontplooi om oorstromings in formele en informele woongebiede te hanteer. “Sowat 110 spanne is ontplooi en werk onverpoosd om verstoppings skoon te maak. Ek wil graag dankie sê vir die personeel wat in dié uitdagende omstandighede werk en die publiek vir hul geduld.”

Hill-Lewis doen ʼn beroep op die publiek om enige voorvalle by die munisipaliteit se inbelsentrum of aanlyn aan te meld. “Ons wil graag versoeke so vinnig as moontlik aan die reaksiespanne deurgee.”

Tydens die afgelope 24 uur het reënvalstasies in die Kaapstad-metro tussen 34 mm en 123 mm reën aangeteken. Dit is die eerste behoorlike reën vir die winterseisoen.

“Die reën val deurlopend sedert laat Sondagaand. Dit beteken dat daar min geleentheid was vir behoorlike afloop. Die huidige voorspelling dui daarop dat die reën waarskynlik tot vroeg môreoggend sal voortduur. Spanne doen alles in hul vermoë om weerverwante probleme op te los, maar die toestande kan hul pogings verhinder.”

Buiten om verstoppings skoon te maak sodat die water kan wegvloei, is die spanne ook besig met assesserings in gemeenskappe waar huise oorstroom het.

Die rampbestuursentrum sal ʼn versoek aan die Suid-Afrikaanse Agentskap vir Maatskaplike Sekerheid (Sassa) stuur om humanitêre verligting te bied waar nodig.

Dinsdag teen 13:00 is die volgende voorvalle by die rampbestuursentrum aangemeld:

  • Eiendomme beskadig weens oorstroomde paaie en verstopte dreins in Kleinvlei, Ravensmead, Goodwood, Strand, Riverside, Bonteheuwel, Belhar, Maitland en Bellville-Suid. ʼn Dierehospitaal is ook geraak deur oorstromings in Kaapzicht.
  • Informele nedersettings wat geraak word, sluit in Delft, Khayelitsha, Nomzamo, Crossroads, Philippi, Gugulethu en Nyanga.
  • Weerverwante kragonderbrekings word reg oor die stad ervaar en die munisipale departement van elektrisiteit stel ondersoek in.
  • Talle paaie is steeds oorstroom.

JP Smith, burgemeesterskomiteelid oor veiligheid en sekuriteit, sê daar is in hierdie stadium nie enige lewensgevaarlike situasies nie, slegs skade aan eiendomme.

Inwoners kan foute of diensversoeke hier aanmeld: https://eservices1.capetown.gov.za/coct/wapl/zsreq_app/index.html

Departement van elektrisiteit (noodgevalle, rekeninge en algemene navrae):

  • Tel: 0860 103 089
  • SMS jou fout aan 31220 (gratis SMS’e nie van toepassing nie)
  • E-pos: [email protected]

Elektrisiteit (Eskom-gebiede):

  • Tel: 0860 037 566
  • SMS jou fout aan 35328 (gratis SMS’e nie van toepassing nie)
  • E-pos: [email protected]

Water en sanitasie (noodgevalle, rekeninge en algemene navrae):

  • Tel: 0860 103 089
  • E-pos: [email protected]
  • SMS jou fout aan 31373 (gratis SMS’e nie van toepassing nie)

In lewensgevaarlike noodgevalle, kontak die nooddienste by 021 480 7700 van ʼn selfoon of 107 van ʼn landlyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.