Die voormalige Protea-krieketheld Jacques Kallis en William Smith, die man wat jare lank wiskunde en wetenskap op TV aangebied het, is twee van die Suid-Afrikaners wat pas met nasionale ordes vereer is.
Pres. Cyril Ramaphosa het die nasionale ordes Donderdag by die Sefako Makgatho-presidensiële gastehuis in Pretoria oorhandig.
“Saam verteenwoordig die vooraanstaande ontvangers van die nasionale orde die waardes, idees en aspirasies van die miljoene Suid-Afrikaners wat op 27 April 1994 vir vryheid gestem het,” het Ramaphosa by die geleentheid gesê.
Die nasionale orde is die hoogste eer wat ʼn Suid-Afrikaanse landsburger en vooraanstaande buitelanders kan ontvang.
Die negejarige Thapelo Tambani van die Transoranje Skool vir Dowes is postuum met die Mendi-dekorasie vir dapperheid vereer. Thapelo het verlede jaar ’n maatjie uit ’n sloot in Soshanguve naby Pretoria gered, maar toe self verdrink.
Kallis het die Orde van Ikhamanga (silwer) ontvang vir sy uitsonderlike bydrae tot Suid-Afrikaanse krieket. Yvonne Chaka Chaka het ook dié toekenning ontvang vir haar bydrae tot musiek en maatskaplike samehorigheid.
Smith het die Orde van die Kremetart (silwer) ontvang vir sy bydrae tot die onderrig van wiskunde en wetenskap. Smith het jare lank wiskunde en wetenskap op televisie aan leerlinge verduidelik.
Die volledige lys ontvangers is:
Die Mendi-dekorasie vir dapperheid
Thapelo Tambani (postuum)
Die Orde van Ikhamanga (silwer)
Achmat Davids (postuum) vir sy bydrae tot die literatuur en die bewaring van die geskiedenis
Jacques Kallis vir sy bydrae tot krieket
Yvonne Chaka Chaka vir haar bydrae tot musiek en maatskaplike samehorigheid
Nomhle Nkonyeni vir haar bydrae tot die uitvoerende kunste
Benjamin Pogrund vir sy bydrae tot die joernalistiek en die vryheidstryd
Mathatha Tsedu vir sy bydrae tot die joernalistiek in Suid-Afrika
Mary Mhlongo Twala vir haar bydrae tot die uitvoerende kunste
Die Orde van Ikhamanga (goud)
Johaar Mosaval vir sy bydrae tot die uitvoerende kunste
Die Orde van die Kremetart (silwer)
Braam Jordaan vir sy bydrae tot die bewusmaking van gebaretaal
Constance Miriam Thokozile Koza (postuum) vir haar bydrae tot onderwys en gemeenskapsontwikkeling
Bongani Donald Mkhwanazi (postuum) vir sy bydrae tot die opheffing van swart ondernemings
Ray en Dora Phillips (postuum) vir hul rol in die vroeë 20ste eeu om die lewensomstandighede van mense aan die Witwatersrand te verbeter
William Smith vir sy rol om wiskunde en wetenskap te bevorder
Velaphi Msane vir sy bydrae tot die vryheidstryd en menseregte
Thandi Lujabe-Rankoe vir haar bydrae tot die vryheidstryd
Anthony Andrew Trew vir sy bydrae tot die ontwikkeling van demokrasie en die postapartheid-gemeenskap
Moyisile Douglas Tyutyu vir sy rol in die vryheidstryd
Yosuf Veriava vir sy bydrae tot die mediese beroep
Die Orde van Mapungubwe (brons)
Thokozani Majozi vir sy bydrae tot die wetenskap
Die Orde van Mapungubwe (silwer)
Malik Maaza vir sy bydrae tot nanowetenskap en -tegnologie
Ari Sitas vir sy bydrae tot die sosiale wetenskappe
Die Orde van Mapungubwe (goud)
Edna Molewa (postuum) vir haar bydrae om die planeet te beskerm
Die Orde van die Metgeselle van OR Tambo (brons)
Riccardo Sarra (Italië) vir sy rol in die vryheidstryd
Die Orde van die Metgeselle van OR Tambo (silwer)
Klaas de Jonge (Nederland) vir sy rol in die vryheidstryd
Khotso Makhulu (Brittanje) vir sy rol in die vryheidstryd
Paulette Pierson-Mathy (België) vir haar rol in die vryheidstryd
Amii Omara-Otunnu (Uganda) vir sy rol in die stryd vir demokrasie
Lucia Raadschelders (postuum, Nederland) vir haar rol in die stryd teen apartheid
Die Orde van die Metgeselle van OR Tambo (goud)
Adm. Didier Ignace Ratsiraka (Madagaskar) vir sy rol in die stryd vir ’n demokratiese Suid-Afrika
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
18 Kommentare
Geluk aan almal. Vra namens ‘n vriend: Wanneer word Jacob Zuma en die Guptas vereer vir hulle hengse bydrae tot korrupsie? Hulle is ongelooflik goed daarin.
Word die toekennings net een keer in honderd jaar gedoen of hoe word mense nou eers vereer vir hulle bydrae vroeg in die twintigste eeu?
Mooi so. Die oom het my ook gehelp met wiskunde in my tyd. Hy verdien dit beslis. Jammer ons land het nie MEER sulke onderwysers nie.
Nou waar is Jacques Pauw en Pieter Louis Myburgh se name.??
Baie dankie William Smith – jou bydrae tot wetenskap en wiskunde was ‘n groot deel van my voorbereiding vir matriek eksamen en ek is baie bly jy het ‘n toekenning gekry