Advokaat William Booth, Novella se regsverteenwoordiger, het gesê landdros Grant Engel het voorlopig die verdediging se versoek dat die staat Booth met bewyse voorsien, van die hand gewys.
Engel het eerder die saak tot 21 Januarie uitgestel sodat daar uitgevind kan word hoekom die ondersoek so lank duur en hoekom Novella nog steeds nie in die psigiatriese hospitaal Valkenberg opgeneem is nie.
Novella word daarvan beskuldig dat hy Gabriela Alban (39) op 29 Julie in ʼn luukse hotel in Kampsbaai verwurg en seksueel wreed met ʼn krultang aangerand het. Dit het later in die hof aan die lig gekom dat Novella gevind is waar hy halfkaal op ʼn strand rondgeloop het. Toe hy glo gevra is waar Alban is, het hy bloot geantwoord: “Sy is dood.” Haar liggaam is toe in hul hotelkamer aangetref.
Novella word sedert hy in hegtenis geneem is, in die Pollsmoor-gevangenis aangehou.
Booth het versoek, terwyl daar gewag word op die uitslae van die ondersoek na die Valkenberg-aangeleentheid, dat Novella toegelaat word om in die Goodwood-gevangenis se psigiatriese eenheid opgeneem te word.
Lees alle vorige berigte oor Gabriela Alban op Maroela Media.