Kapenaars dalk binnekort vergoed vir kragbesparing

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Kapenaars sal moontlik binnekort vergoed word sou hulle bereid wees om vrywillig van hul elektrisiteitstoestelle af te skakel.

Die Stad Kaapstad het ʼn tender uitgereik wat tot gevolg sal hê dat Kapenaars beloon word vir die vermindering van hul kragverbruik wanneer die Moederstad se kragnetwerk onder groot druk verkeer.

Sogenaamde derdeparty-entiteite kan oor die volgende maand aansoek doen vir dié tender, sou hulle bereid wees om diegene te bestuur én te vergoed wat ingestem het daartoe dat sommige van hul nie-noodsaaklike elektriese toestelle afgeskakel word. Dit is nie duidelik in watter vorm hierdie vergoeding sal geskied nie.

In ruil daarvoor word die derdeparty-entiteite weer deur die metro vergoed ingevolge die tendervoorwaardes en -ooreenkomste.

Die derdeparty-entiteite wat via die tender aangestel word sal dan verantwoordelik wees vir die afskakel van die toestelle wanneer die Stad Kaapstad laat weet dat die kragnetwerk onder druk verkeer en elektrisiteitsverbruik verminder moet word.

Die toestelle sal na verwagting via geïnstalleerde slimtoestelle namens vrywilligers afgeskakel word.

Geordin Hill-Lewis, burgemeester van Kaapstad, sê die vermindering van die vraag na elektrisiteit sal met hierdie tender ʼn kontraktuele vereiste word.

“Die kern van hierdie nuwe ingryping is die oortuiging dat klein aksies ʼn groot impak kan hê. Kleiner energieverbruikers kan ʼn groot verskil maak om die ligte in Kaapstad vir langer aan te hou en om te verseker dat die Kaapstadse ekonomie so veel as moontlik versterk en beskerm word.”

Hill-Lewis sê dié nuwe inisiatief vorm deel van die Stad Kaapstad se plan om die impak van beurtkrag te versag terwyl die metro daaraan werk om nuwe hulpbronne aan boord te kry om beurtkrag met verloop van tyd in geheel te beëindig.

Klik hier om meer van die tenderproses te wete te kom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

VaalDonkie ·

Nee, ek weier. Ek bespaar reeds soveel ek kan. Maar my kind sal NIE in ‘n koue bad inklim omdat Eskom deur paloekas oorgeneem is nie.

Jacobus ·

Kaapstad moet begin om meters te installeer wat die elektrisiteit wat verbruikers ekstra dmv hulle eie sonpanele opwek, terug te koop van die verbruikers. Dit moet absoluut vrywillig wees en teen die verbruiker se aankoop tarief. Die installasie moet ook van belasting aftrekbaar wees.

Prikkie ·

Nee Jacobus, hulle wil hê dat jy ‘n meter wat R10 000 kos uit JOU SAK installeer en jou dan ‘n belaglike prys betaal vir die krag wat hulle by jou “koop”.

hantie ·

Hulle bedoel goed ek weet, maar hulle hoef dit nie VIR my af te sit nie, my geyser is as n reël permanent af, ek sit dit self af, sit dit net aan vir stort en skottelgoed was. So ek doen alreeds my deel. My ligte gebruik ek minimum saans, ek gebruik sommer my selfoon liggie. My yskas sal niemand onnodig VIR my afsit nie, dis reeds moeilik genoeg om my insulien koud te hou, so op my eie doen ek alreeds my bes.

Hayntjie ·

In Drakenstein munisipaliteit word die gebruik van geysers al dekades lank deur die munisipaliteit beheer. Indien nie reeds gedoen mag hierdie funksie dalk uitgebrei word.

Pierre ·

Vergoed die mense met solar en laat ons toe om krag in die netwerk in te stoot, julle aaneende vorms, inspeksies, ingeneurs sertifikate en maandeliks administratiewe vooi om krag te voorsien moet eenvouding wegval, baie van ons kan reeds help maar al die rooi “tape” maak dit werklik onaanloklik

Prikkie ·

Stad Kaapstad kan begin deur vir my die nodige meter wat R10 000 kos GRATIS te installeer.

Dan klim ek op die “sonkrag opwek bus” .

Tweedens, sny alle drade wat onwettig gekoppel is aan die netwerk AF en hou dit af. Dan sal ons genoeg krag hê.

Derdens, sit af die straatligte wat bedags brand en beboet besighede wie se ligte snags onnodig brand.

VaalDonkie ·

Die manne wat vir my skoonpa werk, noem Tableview “cable view” want die drade hang soos spinnerakke in die lug van al die onwettige verbindings. Eskom is te bang om af te sny want die inwoners dreig om hulle met hamers en messe aan te val.

hendrie ·

Is dit nie ‘n probleem wat van Messina tot in Kaapstad aangetref word nie?

Francois ·

Stad Kaapstad is die leier in die land wat pogings aanwend om beurtkrag te verminder. Ons is meeste dae 2 fases minder as res van land (danksy Steenbras dam) Nou dat hulle nog idees wil implementeer het n klomp kommentators net slegte dinge te sê. Een van die dae het ons geen beurtkrag (behalwe as Eskom baie sleg presteer) en dan wil ek graag die kommentaar sien oor die ander munisipaliteite. Dankie, ons bly heel lekker hier in Kaapstad.

Manie ·

Julle kan wie weet waarheen vlieg. Sê eerder onomwonde dat kraggebruikers nie belas sal word dmv ‘n basiese heffing vir sonkrag installasie nie, dan kan ons weer praat. Ek sal my huishouding se kragverbruik self beheer dankie en tatta.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.