‘Kaper’ dood toe bakkie rol

polisie kaping

(Argieffoto: SA Polisie)

’n Jaagtog tussen drie vermeende kapers en wetstoepassingsowerhede het Dinsdag die lewe van een van die verdagtes geëis toe hy ’n vermoedelik gekaapte motor in Mpumalanga gerol het. Sy twee makkers is elders in ’n tweede gekaapte voertuig voorgekeer en in hegtenis geneem.

ʼn Derde man wat in die tweede voertuig, ʼn BMW, voorgekeer is, beweer hy is die eienaar van die gekaapte voertuig wat gerol het.

Dié is ongedeerd.

Kol. Donald Mdhluli, woordvoerder van die polisie, sê Tracker Connect het omstreeks 20:00 twee verdagte voertuie  – ’n wit Toyota‑dubbelkajuitbakkie en ’n wit BMW – op die N12 naby die Kusile-afrit opgemerk. Die voertuie het teen ’n hoë spoed beweeg en lede van die polisie en die sekerheidsmaatskappy Blue Hawk Tactical se hulp is ingeroep.

Die owerhede het die verdagte voertuie agternagesit en dit het in ’n jaagtog ontaard.

Een van die verdagtes, wat die bakkie bestuur het, het tydens die jaagtog besluit om op die R42 in die rigting van Delmas af te draai. Hy het egter kort daarna beheer oor dié voertuig by ’n vierrigting-stop verloor en die bakkie het gerol.

Die verdagte is op die toneel dood. ’n Pistool en ’n toestel wat gebruik word om seine van motorsleutels te blokkeer, is ook op die ongelukstoneel gevind.

Sy twee makkers in die BMW het op die N12 gebly met die owerhede warm op hul spoor. Die partye het gedurende die jaagtog skote op mekaar afgevuur en een van die verdagtes is in die onderlyf gewond.

Albei is later by Welbekend in Gauteng tot stilstand gedwing en in hegtenis geneem. ’n Pistool is in die vermeende kapers se besit gevind. Die vermeende eienaar van die bakkie is ook saam met die verdagtes in die BMW gevind.

Die eienaar het aangevoer dat hy vroeër op pad huis toe in Vosman naby Witbank gekaap is.

Mdhluli sê ’n voorlopige ondersoek toon dat die BMW in Junie in Vosloorus gekaap is.

Die gewonde verdagte is onder polisiebewaking na ’n hospitaal geneem en sal binnekort saam met sy makker in die hof verskyn.

“Die vuurwapens waarop beslag gelê is, sal deel uitmaak van die ondersoek en die polisie kan nie die moontlikheid uitsluit dat die verdagtes met die twee kapingsvoorvalle sowel as ander misdade elders verbind kan word nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Althes ·

Een suurstofdief minder wat die belastingbetaler moet voed en klee in Korrektiewe Dienste

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.