Kenner waarsku teen ‘nasionalisering’ van mediese fondse

Die voorgestelde Nasionale Gesondheidsversekering het reeds groot teenkanting ontvang. (Foto: Unsplash)

Die president van die Raad op Gesondheidsberoepe het onlangs in die parlement gesê dat die voorgestelde nasionale gesondheidsversekering (NGV) by mediese fondse moet oorneem en dat alle bates van dié skemas na die NGV oorgedra moet word. Dié opmerking het hernieude kommer oor die inwerkingstelling van die NGV laat ontstaan.

Prof. Simon Nemutandani het verlede maand aan die parlement gesê die NGV behoort die enigste finansieringsmeganisme vir gesondheid in Suid-Afrika te wees en dat wetgewing gewysig moet word om dit moontlik te maak. Volgens hom moet die nasionale gesondheidsversekering finansier word deur alle Suid-Afrikaners se belasting.

“Vir die NGV om te slaag, moet gesondheid ʼn eksklusiewe nasionale bevoegdheid wees en enige afdelings van die Grondwet wat hierteen indruis, moet gewysig word,” het die voorlegging aan die parlement gelui.

Lee Callakoppen, hoofbeampte van die Bonitas Mediese Fonds, sê dié voorstel is oneties en boonop teenstrydig met die wet. “Talle vrae oor die voorgestelde stelsel moet nog beantwoord word en heelwat probleme sal uitgestryk moet word.” Collakoppen waarsku boonop dat die administrasie van ʼn sentrale gesondheidsorgstelsel streng bestuur en oorsig gaan benodig.

Hy gee wel gelyk dat een of ander vorm van universele gesondheidsorg in Suid-Afrika ongetwyfeld nodig is en dat dit nie volhoubaar is dat net 16% van die bevolking aan ʼn private mediese fonds behoort nie. “Die land het ʼn gesondheidsfinansieringstelsel nodig wat ontwerp is om hulpbronne saam te voeg om gehalte en bekostigbare mediese dienste vir alle Suid-Afrikaners beskikbaar te stel. Gesondheidsorg ʼn basiese behoefte en behoort nie op sosio-ekonomiese status te berus nie.”

Callakoppen sê egter die oplossing is allermins eenvoudig.

Finansiering van NGV ʼn kopseer

Die burgerregteorganisasie AfriForum het vroeër gesê die finansiering van die NGV gaan “buitensporige bedrae vereis en is eenvoudig onbekostigbaar”.

Die organisasie is ook bekommerd dat die regering die Covid-19-pandemie gaan misbruik om sy agenda van ’n universele gesondheidstelsel te bevorder in ’n poging om die ekonomie te transformeer.

Callakoppen sê die RGB se voorstel om bestaande mediese fondse se reserwes te gebruik – dit staan op sowat R92 miljard – om die NGV te finansier, is nie die antwoord nie en die mediese fondse is ten sterkste daarteen gekant.

Hy sê die voorstel is deurspek met onreëlmatighede en is in direkte konflik met die Wet op Mediese Skemas. Hy meen dit is boonop oneties.

Wetgewing vereis dat mediese fondse in Suid-Afrika kapitaal gelykstaande aan 25% van hul jaarlikse bruto inkomste moet behou. Dit beteken die mediese fonds moet genoeg bates beskikbaar hê om sy normale sake te doen én ʼn buffer te behou in geval van ʼn ongewone gebeurtenis – soos ʼn pandemie.

Callakoppen sê die finansiering van die NGV was nog altyd ʼn grys gebied.

“Ons verstaan dat belastingkrediete vir mediese bydraes moontlik geskrap kan word en aan die NGV toegeken kan word en dat alle Suid-Afrikaanse burgers met ʼn afsonderlike belasting tot die fonds moet bydra, selfs al is hulle deel van ʼn private mediese fonds.”

Hy sê egter om bates oor te dra om ʼn staatsgesondheidsversekering te finansier is nie wettig nie en kan nie as ʼn finansieringsmoontlikheid oorweeg word nie.

Die NGV gaan boonop nie alles dek nie en Callakoppen sê daar moet ruimte wees vir bestaande private gesondheidsorg vir dienste wat nie in die bestaande NGV-voorstelle ingesluit word nie. Items wat nie gedek word nie sluit in medisyne wat nie in die nasionale formulier ingesluit is nie, medisyne en diagnostiese prosedures wat buite die goedgekeurde riglyne val, asook protokolle wat deur kennersgroepe aanbeveel word.

Callakoppen sê daar is boonop geen waarborg dat die oordrag van mediese fondse se bates genoeg gaan wees om die NGV te finansier nie, veral omdat daar geen duidelike finansieringsriglyne is nie.

Hy meen só ʼn oordrag gaan boonop ʼn reuselas op die staat plaas omdat dié nie die nodige infrastruktuur daarvoor het nie. Callakoppen sê só ʼn besluit sal “onverantwoordelik en irrasioneel” wees.

Hy sê die Raad op Mediese Skemas (RMS), wat die mediese fondse bestuur, het ʼn wetlike verpligting om die belange van mediese fondse en hul lede te beskerm. “Mediese fondse is nie-winsgewende entiteite wat deur hul lede besit word. Dit beteken reserwes bestaan uit lede se geldelike bydraes. Ons is ten sterkste gekant teen die idee om ledegeld op hierdie manier te gebruik en ons kan ook nie so ʼn growwe oortreding deur die RMS aanvaar nie.”

Samewerking nou nodig

Verpleegsters by die Charlotte Maxeke-hospitaal in Johannesburg. (Foto: GCIS)

Callakoppen sê die Bonitas Mediese Fonds steun universele gesondheidsorg, maar het altyd verstaan dat daar steeds ruimte vir ʼn NGV en private mediese fondse sal wees.

“Wat tydens die pandemie selfs duideliker geword het, is dat groter samewerking tussen die openbare en private sektor nodig is. Daar is talle belanghebbendes in die gesondheidsorgstelsel en ons moet almal betrek om ʼn oplossing vir Suid-Afrikaners te vind.

Hy sê dit is ook belangrik dat ʼn nasionale gesondheidsorgstelsel strategies gelei word. Volgens hom is sogenaamde leefstylsiektes soos diabetes, hoë bloeddruk en vetsug ʼn pandemie op sigself. Eerder as om net die simptome te behandel, moet ʼn stelsel van primêre gesondheidsorg bestuurde sorg insluit, waar voorkoming beter is.

“Die las op ons gesondheidsorgstelsel, in die staat en private sektor, is enorm. Deur dit dop te hou en proaktief te pak gaan ons nie net gesondheidsorguitgawes beperk nie, maar ook verseker dat Suid-Afrikaners ʼn beter gehalte lewe lei.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

27 Kommentare

jongste oudste gewildste
Sandra

Onmoontlik in ‘n land soos SA waar korrupsie en rassisme hoogty vier. Weereens sal die mense wat die geld deur harde werk en beplanning voorsien het aan die kortste end trek.

Werner

Kenners kan maar waarsku tot hulle blou word hierdie klomp morone steur hulle nie daaraan nie.Dit is dieselfde met art 25 vd grondwet.Ek is nou nie n kenner nie maar hier kom … .

marius

Doen dit . Dan betaal ek ook niks !

Persheks Adri

Gaan hulle dít ook net in die staatskoerant publiseer en ons moet dit aanvaar om nou wéér vir “our people” te betaal? Ons baklei klaar oor grond, ons bates, vuurwapens en nog baie goed. Hel julle maak ons naar verby tsek man ons is moeg betaal!

Kokerboom

Daar is NIE ‘n manier nie!!!!!Hoor ons duidelik