Kenners waarsku oor klimaatsverandering in Suider-Afrika

Argieffoto (Foto: Tumisu/Pixabay)

Suider-Afrika is op die voorpunt van stygende wêreldwye temperature en meer navorsing moet gedoen word om die waarskynlike impak van klimaatsverandering te bepaal, het die departement van omgewingsake Maandag gesê.

Dr. Tsakani Ngomane, adjunk-direkteur-generaal van die departement, het afgevaardigdes by die Interregeringspaneel oor Klimaatsverandering (IPCC), ʼn liggaam van die Verenigde Nasies wat die wetenskap oor klimaatsverandering assesseer, gemaan om “klimaatsverandering in die ontwikkelende wêreld” te bespreek.

Ngomane het kenners toegespreek op die eerste dag van hul week lange vergadering in Durban. Hy het gesê die IPCC- spesiale verslag, genaamd SR1.5 wat in Oktober 2018 gefinaliseer is, het dit duidelik gemaak waarom die temperatuur wêreldwyd nie met meer as 1.5°C moet styg nie.

“ʼn Sleutelboodskap van die verslag is dat daar beduidende voordele is om die impak van klimaatsverandering te verhoed as aardverwarming tot 1.5 °C beperk word,” het hy gesê.

In ʼn streekskonteks is binnelandse temperature in Suid-Afrika reeds ongeveer 2 °C hoër as ʼn eeu gelede en neem glo dubbel soveel toe as die wêreldwye koers. Dit word toegeskryf aan sistemiese antropogene klimaatsverandering (deur mense veroorsaak).

“Bietjie verder noord, oor Botswana, styg temperature teen ʼn koers van ongeveer 3 °C per eeu. Botswana is een van die streke met die hoogste koers van temperatuurtoename in die hele suidelike halfrond,” het Ngomane bygevoeg, en daarop gewys dat dit reeds tot mislukte oeste en veesterftes lei.

Die droogte in Kaapstad tussen 2015 en 2018 is ʼn “duidelike teken van die impak op ʼn streek weens klimaatsverandering”. Alhoewel die Moederstad die sogenaamde “dag zero” kon verhoed, wys ʼn onlangse studie daarop dat die risiko van droogtes van dié omvang in Kaapstad reeds met ʼn faktor van drie verhoog het as gevolg van mensgemaakte klimaatsverandering.

“Ek was dus nie verbaas dat SR1.5 Suider-Afrika as ʼn kernpunt van klimaatsverandering geïdentifiseer het nie. Die verslag wys duidelik daarop dat hittegolwe, dae met ʼn hoë risiko vir veldbrande en droogtes al hoe meer waarskynlik is in Suider-Afrika. Dit sal ʼn impak hê op ons landbou en watersekuriteit en ekonomiese groei beperk. As ons egter wêreldwye aardverwarming tot 1.5 °C kan beperk, sal meeste van dié gevolge verminder of selfs verhoed kan word,” het Ngomane gesê.

Hy maan afgevaardigdes om “klimaatsverandering in die ontwikkelende wêreld” te bespreek en te fokus op “geprojekteerde gevolge en kwesbaarheid” in gebiede soos “landbou, watersekuriteit, aanvraag na elektrisiteit, menslike gesondheid en biodiversiteit”.

“Vinnige verstedeliking sal na verwagting binne die volgende paar dekades in Afrika plaasvind en dit is ʼn kritieke vraag hoe groei onder klimaatsverandering volhoubaar sal wees.”

Die IPCC Working Group II sal die impak, aanpassing en kwesbaarheid van klimaatsverandering bespreek. Meer as 250 afgevaardigdes van verskillende lande sal ʼn bydrae lewer tot die “Sesde Assesseringsverslag” (AR6) wat op die impak van klimaatsverandering fokus.

Die AR6 sal na verwagting in 2021 afgehandel word en sal, tesame met ander verslae, in 2023 gebruik word tydens die Verenigde Nasies Raamwerkkongres oor Klimaatsverandering (UNFCCC) om vordering onder die Parys-ooreenkoms te assesseer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

35 Kommentare

De Villiers ·

Myns insiens is die twee grootste bydraende faktore tot aardverwarming eerstens dat daar te veel mense op hierdie planeet is, en tweedens ons voorliefde vir vleis. Meer mense beteken meer druk die natuur en hulpbronne, en ons lewenswyse veroorsaak dat meer CO2 vrygestel word. Die mens se groter wordende liefde vir vleis maak dat al meer beeste wêreldwyd aangehou word, en beeste stel metaangas vry wat 23 keer kragtiger is as CO2 wat die atmosfeer verhit.

David ·

..en een van die dae moet ons begin Kolstofbelasting betaal in SA, wat zero invloed gaan hê op aardverwarming…

Rudolph van Wyk ·

Dit is ‘n wetenskaplike feit dat bief en suiwelproduksie die grootste enkele bydraende faktor is tot aardverwarming as gevolg van die vrystelling van kweekhuis gasse en die ontbosting wat gedoen word om weiding te skep. Die impak daarvan is groter as al die karre, trokke en vliegtuie saam. Die bedrywe is ook verantwoordelik vir die besoedeling van grondwater en oop water, soveel so dat verskeie dooie sones in die osean ontstaan het. (Daai koeldrank strooitjie issue word nou geopper om ons aandag af te trek van die olifant in die kamer) Verder is die bedrywe die grootste verbruikers van antibiotika en hormoon aanvullings wat ook in grondwater en riviere beland. Iets om aan te dink terwyl ons aan daai biefstuk smul in die restourant of by die braai!

Anton X ·

Gewoonlik geniet ons temperature van oor 30 grade hierdie tyd van die jaar in die Kaap. Maar die afgelope 2 weke sien ek die temperatuur daal tot lae 20’s. Ontspan, die aarde koel weer af, ons gaan ‘n vroee winter he.
Ek gaan maar vannaand sommer weer ‘n biefstuk op die kole gooi.

ZAR ·

Ek wonder ook hoeveel bydrae het “HAARP” en “chemtrails”
Dit word gedoen om op plekke reën te gee, en verhoed ander plekke om reën te kry, so dit is baie meer kommerwekkend. Meer navorsing moet gedoen word in hierdie verband.

Jh ·

Stop om alles af te brand as julle nie julle sin kon kry nie. Dan sal daar nie aard verwarming wees nie.

Nikita ·

Ja nee..natuurlik is dit ons mensdom se skuld..hierdie aardverwarming. Dis sondebokke soos koolstofdioksied besoedeling..aircons..olie & petrol engines ens!! Greenland se ys smelt al n maand vroeer as gewoonlik..tot die eskimos begin te moun oor die klimaatsverandering. As dit so aangaan..sal Noord Europa 1 vd dae hulle kersfees op die strand deurbring. ?

Johanna Botha ·

BAIE dringende stappe sal geneem moet word om n GROOT ramp te voorkom …begin met minder mense !

Stripes ·

Ek is skolasties gestremd en het Std 3 deur die venster afgeloer so my kennis is beperk. Passasiersbote, duikbote, vragbote, ens het tog ook verkoeling nodig en daarvoor word seewater gebruik dus word daar daagliks baie kJ hitte tot die see toegevoeg. Vliegtuie, vuurpyle, voertuie, vulkane, veldbrande stel weer daai energie in die atmosfeer vry Daar is te veel mense op die aarde met hulle eie gasse en temperature wat die probleem vererger. As ek dus so na die situasie kyk lyk dit vir my dat al manier wat oorbly om die aarde te red is om van die mens en al die tegnologie ontslae te raak. Kom sonvloed, kom red die aarde.

John ·

…. al daaraan gedink dat die son tans in ‘n erge uitstralingsfase is weens die ruil van pole, gemeet daaraan dat sonsteek nou al 7 uur soggens opgedoen kan word. Daar word tans van die onderbreking van radiogolwe gepraat weens sonblertse soos vele kere in die verlede. Wat van natuurlike fases van warmer en kouer toestande om die aarde se balans te handhaaf? Natuurlik word die Skepper se rol totaal geignoreer. In Josef se dae was daar bv erge hongersnood weens droogtes en tydens die Depressie en in die 1950’s is soortgelyke hoe temperature in SA ervaar plus talle ander voorbeelde. Maar ons weet wat die redes vir die so bekommerde wereld is: Manipulasie van lande en die hoop op lydingsvergoeding vir Afrokane… en groot geld vir navorsing en kongresse… lekker, lekker.

Nikita ·

John..daar gaan ek met jou saam stem..jy slaan die spyker mooi op die kop. Jip..ons is nou in die 22jaar solar cycle wat terug beweeg..want die son se pole flip elke 11jaar..dan word sy noord pool die suid pool en andersom. Ons is nou op solar max met high sunspot cycle..m.a.w besig van low na high..so sunspots nou op sy hoogste..sunspots maak die solar flares & CME’s hoer. Die magnetiese velde binne son veroorsaak die flip vd pole. Maar NASA se ons son het baie verander deur die jare. Die son se solar sunspot siklus het van 2011 weer begin max. Ons kan weer na 2020 koeler weer geniet..dan gaan hy weer terug na minimum toe. Maar ja..elk geval is die mensdom verder verantwoordelik vd ekstra aardverwarming.

John ·

Dit is betreurenswaardig hoe gebreinspoel die gewone mens al is oor “klimaatsverandering”. Ek kan verstaan hoekom akademici in hierdie snert glo, hulle moet tog die belasting geld wat hulle kry vir sogenaamde navorsing aan hou regverdig. Maar die gewone ou op straat se kommentaar oor hierdie goed slaan jou asem weg, dit is die gewone burger wat bereid is om miljarde rande se belasting agter fee verhale aan te gooi, verstommend. Net vir die interesantheid n stelling om aan te kou vir die “klimaats evangeliste” – hoekom neem die temperature toe voor die c02’s toe neem in die atmosfeer, wat het c02’s dan met verwarming te doen?

ulinda ·

ek’t nou nie ‘n graad of geleerdheid
alles is uit balans, die aarde, die mense
en ons is vinnig op pad na die ‘einde’ toe skrik wakker as jy dit nog nie sien.
ons is te veel mense, ons eet te veel, en alles is verkeerd
al wat ek weet is die einde is voor die deur
maak eerder jou saak reg en maak seker waar jy gaan wees as jou suurstof kraan toe gedraai word.
Earth and all on it is out of balance
dalk is dit weer tyd vir ‘n sonvloed of soortgelyk

saxby ·

dit is scary baie baie scary
verbeel jou ‘n tsunami tref daai strand
balance will be restored :-)

Klimaat ·

Klimaatsverandering hou gevolge in vir die toekoms van die planeet Aarde soos ons dit ken. Klimaatsverandering kan die menslike bestaan en die van diere en alle lewensorganismes soos ons dit ken onherroeplik verander. Dit is hoekom wetenskaplikes reeds kyk na ander opsies in die groter heelal en kosmos waar menslike bestaan moontlik kan wees.

John ·

Navorsing wys dat die temperatuur styg VOORDAT die c02’s styg – nou wat nou doemprofete?
Die globalists het n lekker meganisme gekry om nog belasting op die sheeple af te dwing.

Joa ·

Daar sal nooit weer ‘n sondevloed op aarde wees nie. Dit is ‘n belofte van God. Die aarde sal vernietig word deur vuur en hemelligame wat op ons gaan val.

Piet parys ·

Wel almal in die wereld wil al hoe meer luuks lewe en meer en meer geld verdien om dit te handhaaf . So dink maar volgende keer wanneer jy jou luukse lewenstyl handhaaf waar alles vandaan kom . Mense blameer maklik landbou om nie self verantwoordelik te wil wees nie .

Sak ·

“Want ons weet dat die hele skepping tesame sug en tesame in barensnood is tot nou toe.”

elmarie ·

Die heelal gaan deur siklusse, die ys tydperk en dan weer verhitting. Dit gaan al so vir miljoene jare. Die enigste probleem is die siklusse raak al vinniger. Onthou ons is mense van die ys tydperk.

Anoniem ·

Ek wonder maar net of die wat besef dat die grootste bydraende faktor die vleis – en suiwel bedryf is, eintlik bereid is om iets omtrent hulle eie gewoontes te doen???
Daar is al hoe meer inligting beskikbaar en mense besef hulle het ‘n veranwtoordelikheid, maar doen steeds niks daaromtrent nie omdat dit tog so gerieflik is om maar net ‘n tjoppie van die rakkie te gaan afhaal sonder om twee keer daaroor te dink… Ek self eet nou al vir 3 jaar geen vleis nie en ek is piekfyn, mis dit nie eers ‘n bietjie nie. Daar is ongelooflik lekker vegetariese resepte, hoekom begin julle nie net met ‘n Meatless Monday en kyk wat gebeur nie???

Vegan en Vegataries ·

Anoniem ons het ook 90% vleisprodukte alreeds uitgesny en ons is op die drumpel om ‘n algehele vegan leefwyse te volg. Baie van ons familie en vriende is besig om dieselfde te doen, nie net om die aarde te probeer help red nie maar ook om die lyding en marteling van diere te verminder.

‘n Nuwe geslag ·

Die jongste generasie van mense gaan al meer ‘n veganistiese leefwyse volg. Diereregte en die tegnologiese revolusie is veral belangrik vir die jong generasie wat in ‘n baie anderse leefwêreld gaan woon as waaraan die ouer generasies gewoond is. Hulle gaan ook ander besluite neem omdat hulle lewens totaal en al met tegnologie verweef en geintegreer gaan wees. Want hulle gaan langer lewe as wat teenswoordig die geval is.

philip ·

Begin dit teen werk deur ontsae te raak van die ANC! Dit allen sal ‘n groot begin wees.

Annie Webb ·

Die enigste twee wetenskaplik bewese feite is dat die temperatuur van die aardoppervlak die afgelope dekades met 1°C gestyg het en dat daar meer CO2 in die atmosfeer is as tevore. Daar is nie eens wetenskaplike bewyse van of een die ander veroorsaak nie. (Oorsaaklike korrelasie.) Die res is politiek, insluitende die “projeksies” van hoe dit vorentoe gaan styg. Ja, fossielbrandstowwe stel CO2 vry, maar vliegtuie is die grootste sondaars en die grootste bekke oor aardverwarming vlieg oral, veral na kongresse oor aardverwarming. Tweedens word geen woord ooit gerep oor arm lande se bevolkingsaanwas en uitroei van plantegroei nie, terwyl plante juis CO2 in suurstof omsit. (Arm lande is ook die grootste plastiekbesoedelaars van oseane, omdat armes al hulle gemors in die riviere smyt.) Maar die ryk lande móét die sondebokke wees want die linkse politiek rondom aardverwarming gaan enkel en alleen oor herverdeling van rykdom. Die Paryse Akkoord is ‘n voorbeeld daarvan, en koolstofbelasting ook. Die meeste navorsing en vordering teen aardverwarming vind in Amerika plaas en maak nie staat op die Paryse Akkoord óf koolstofbelasting nie.

Hennie ·

Ag nee wat wat het Ngomane nou eintlik gesê wat ons nie reeds weet nie die tekens van die tye is op hande ons moet ons eerder self ondersoek en reg kry want Jesus se koms is naby lees wat die Woord se oor al die dinge wat besig is om te gebeur. Bekeer jou self en die dinge sal jou nie pla nie,want ons woonplek hier is tydelik waarom bekommerd wees oor die tydelike wees liewer bekommerd oor die ewigheid waar jy gaan wees .

Dup du Plessis ·

…ons wys vingers na die beesbedryf maar…. intussen het mense vermenigvuldig soos insekte, met elke mens se koolstof / afval spoor ager hom soos ‘n berg – dink aan elke ding wat in ‘n paar sekondes gebruik en dan weggegooi word, wat iewers vervaardig is, terwyl die proses – of die grond of water besoedel het, vegetariërs se kos word ook geproduseer met rokende trekkers, elektrisiteit van spilpunte, miljoene liter water wat ondergronds uitgepomp word, gesaaides wat met chemikalië behandel en met GMO gene beinvloed is. Dalk verstaan ons hoekom landerye wat optimum moet produseer jaar na jaar besig is om weg te waai want alle mikrobes is dood a.g.v. intensiewe bewerking en bemesting om te kan voldoen aan die oormaat mense. Die realiteit van alles is dat ons a.g.v. die moderne wetenskap en medisyne mense nog baie langer laat leef as wat dit natuurlik moes wees. Wat van mense se gas-afskeiding, besoedeling van water a.g.v. rioolstelsels, begraafplase ens.? Mense het doodeenvoudig net te veel geword vir moeder aarde om te onderhou. Geniet maar nog my vleisie, ten minste word die dier wat geslag is vir verbruik ge-eet en nie begrawe nie, en ons kan nog skoene/klere ook maak met die vel.

Wonder ·

Noudat die gat in die osoonlaag nie meer nuuswaardig is nie het hy seker toegegaan? Hang net bietjie aan. Binnekort sal die aardverwarming spookperd ook holrug gery wees, dan word daar weer ‘n ander gogga opgedroom. Ek wonder net hoe lank die mensdom so sal aankarring voor hulle besef die mens is so niksseggend op die aarde dat enige iets wat die mensdom doen net afgeskud sal word deur die aarde. Dis waar dat die mensdom in gevaar is. Maar om te dink ons gaan iets omkeer deur ons lewenswyses te verander is om in ‘n droomwêreld te leef. Toets dit en gaan kyk hoe diep moet jy inzoem op GoogleEarth voordat jy selfs ‘n motor of huis kan sien. Kom dan weer en verduidelik presies hoe gaan ons die aarde vernietig.

Hans Kruger ·

Stem saam met John.Aardverwarming vind plaas maar dit is n natuur verskynsel.Daar was dan al ys tydperke en die aarde het weer verwarm-en dit alles voor daar motors en kragstasies ens. was .Dit is n gerieflike manier om ekstra belasting te in.Ons besoedel wel die planeet teen n geweldige tempo.Wat doen die ANC regering met die koolstof belasting op motors of die belasting op bande?Dit gaan alles in die donker gat van staatskaping – sonder gevolge!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.