Kieme al meer weerstandig teen ontsmetmiddels

’n Navorsingsgroep van die Universiteit van die Vrystaat sê kieme word al meer weerstandig teen ontsmetmiddels. (Foto: UV)

In ’n tyd waar die doeltreffendheid van antibiotika steeds wêreldwyd afneem en die soeke na nuwe antimikrobiese middels maar stadig vorder, is die laaste verdedigingslinie teen bakteriële siektes en infeksies die voorkoming daarvan – hoofsaaklik deur ontsmettingsmiddels.

Die probleem – en dit word al hoe groter – is dat kieme al meer bestand raak teen die talle ontsmettingsmiddels wat vandag gebruik word en meer weerstand weens die gebruik daarvan kan opbou.

Die konsep om infeksies of siektes te voorkom nog voordat die individu daarmee besmet word, staan as biosekerheid bekend. Dit geld nie net vir mense nie, maar ook vir diere en plante en die beste wapens vir goeie biosekerheid is gewoonlik ontsmettingsmiddels.

Ontsmettingsmiddels is veral tydens die Covid‑19-pandemie as van die grootste infeksiebeheermaatreëls beklemtoon, wat die samelewing se vertroue daarop versterk het.

Luidens ʼn artikel deur prof. Robert Bragg, Wanja Swart en Samantha McCarlie, ʼn navorsingsgroep verbonde aan die departement van mikrobiologie en biochemie by die Universiteit van die Vrystaat (UV), word baie van hierdie ontsmettingsmiddels egter verkeerd gebruik.

Pogings om die doeltreffendheid van sekere ontsmettingsmiddels in sekere situasies te monitor, ontbreek boonop dikwels, terwyl talle ontsmettingsmiddels nie vir gebruik geregistreer of in ʼn kliniese omgewing beproef is nie.

Dít blyk grootliks tot die probleem van weerstandigheid by te dra.

Die skrywers van die artikel dui aan dat daar net in 2020 sowat 700 000 ton kwaternêre ammoniumbasis-ontsmettingsmiddels in die omgewing vrygestel is.

Die aanwesigheid van hierdie middels in die omgewing lei tot die ontwikkeling van weerstandige mikroörganismes wat dan ook in waterstelsels, op plase en in hospitale kan vorm.

Dit het die UV-navorsingsgroep genoop om meer navorsing oor die onderwerp te doen en verskeie navorsingsprojekte duur tans daaroor voort – onder meer om te bepaal wat presies weerstandigheid veroorsaak.

Prof. Robert Bragg, Wanja Swart (links) en Samantha Mc Carlie (regs), ʼn navorsingsgroep verbonde aan die departement van mikrobiologie en biochemie by die Universiteit van die Vrystaat (UV). (Foto: UV)

Doeltreffende evaluering ontbreek 

Luidens die navorsing het die registrasie van ontsmettingsmiddels, waar van toepassing, spesifieke riglyne oor watter bakteriese patogene teen hierdie produkte getoets moet word.  Die situasie in die veld, plaas of hospitaalsaal kan egter heelwat verskil.

Volgens die navorsingsgroep kan patogene wat in hierdie omgewings gevind word, heeltemal verskil van die bakteriële stamme waarop daar tydens toetsing vir registrasie gefokus word, aangesien die bakteriese patogene wat in hospitale, op plase en in die veld gevind word, gereeld aan ontsmettingsmiddels blootgestel word.

Navorsing wat Wanja Swart gedoen het, wys dat kieme in net tien opeenvolgende dae van blootstelling aan ontsmettingsmiddels, weerstand teen algemeen gebruikte ontsmettingsmiddels 32-voudig toeneem.  

Eerstens blyk die akkurate verdunning van ontsmettingsmiddels ʼn groot uitdaging te wees, wat die waarskynlikheid verminder dat hierdie produkte reg gebruik word. Daar bly dikwels ook baie van die ontsmettingsproduk op die oppervlak agter waar dit laaste gebruik is. Dit stel kieme dan vir lang tydperke bloot aan subdodelike vlakke van die middel – wat weerstandigheid verder verhoog.

Dreigende storm in gesondheidsorg, landbou

Kieme se weerstandigheid teen ontsmettingsmiddels is ʼn groot bron van kommer in die gesondheidsorgstelsel, aangesien infeksies wat in hospitale opgedoen word vir baie sterftes verantwoordelik is – juis omdat daar weerstandigheid teen antimikrobiese middels is.

Nou is die laaste verdedigingslinie ook in die gedrang.

Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie is infeksies wat in hospitale opgedoen word, vir 30% van sterftes in die hoësorgeenhede van hoëvlakinkomstelande verantwoordelik en vir 70% van sterftes in laevlakinkomstelande. Meer as 50% van hierdie infeksies is noodlottig, ook onder pasgebore babas.

Dus is dit belangrik dat ontsmettingsmiddels doeltreffend is.

In die landbousektor is biosekerheid ʼn gevestigde konsep, maar word ontsmettingsmiddels steeds nie oral korrek gebruik nie.   Goeie biosekerheid is veral noodsaaklik in die diereproduksiesektor en die navorsingsgroep werk al baie jare in dié veld. Die ervaring wat die groep op hierdie gebied opgedoen het, word nou ook op die gesondheidsorgbedryf van toepassing gemaak.

“As ons vrektes in ’n pluimveehok met 56% kan verminder deur goeie biosekerheid-voorkomingspraktyke, behoort dit beslis moontlik te wees om soortgelyke of baie beter resultate in die gesondheidsorgsektor te behaal,” sê die navorsers.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.