Kiesers in 96 wyke kan hierdie naweek registreer

(Argieffoto: Brendan Magaar/ANA)

Kiesers in 96 munisipale wyke landwyd kry hierdie naweek die geleentheid om te registreer vir die grootste getal munisipale tussenverkiesings op een dag in die land se geskiedenis.

Die tussenverkiesings vind almal op 11 November plaas en dit sal ʼn goeie aanduiding gee van die hele land se politieke polsslag, hoewel daar nie werklik ʼn verteenwoordigende aanduiding van minderheidsrasgroepe in stedelike gebiede se politieke voorkeur gaan wees nie.

Registrasie in al 96 wyke vind plaas tussen 09:00 en 17:00 by die 504 stempunte en kiesers sal slegs kan stem as hulle by die spesifieke stempunt geregistreer is.

Die rede vir die groot boel tussenverkiesings is omdat daar agt maande lank – weens die afsonderingstydperk – geen tussenverkiesings kon plaasvind nie.

Twee Noord-Kaapse stadsrade is in hierdie tyd in die geheel ontbind en sal algehele nuwe verkiesings hou. Dit is die Renosterberg-raad in Philipstown (met vier wyke) en die Phokwane-raad in Hartswater (met tien wyke).

Elders in die Noord-Kaap sal veral Hantam wyk 3 (Brandvlei), Khai-Ma wyk 4 (Pofadder en Aggeneys), Ubuntu wyk 1 (Richmond) en die gebiede rondom Kanoneiland en Rosedale goed dopgehou word.

In die Oos-Kaap vind 19 tussenverkiesings plaas waarvan veral drie belangstelling wek.

Dit is Oos-Londen wyk 45 (Berlin), Stutterheim wyk 13 (rondom die Dohne-landboustasie) en Aliwal-Noord wyk 11 (die middedorp van Aliwal-Noord, waaronder die spa).

Twee van die vier Vrystaatse tussenverkiesings kan interessante magstryde tussen die DA en die VF Plus oplewer, te wete Mokhare wyk 6 (Smithfield) en Matjhabeng wyk 3 (Hennenman). Twee tussenverkiesings vind ook in Botshabelo plaas.

Van Gauteng se 15 tussenverkiesings is veral ses interessant. Eerstens sal kiesers in Emfuleni wyk 16 (die woonbuurte Arconpark en Rust Ter Vaal in Vereeniging) na die stembus gaan. Voorts sal die DA se krag getoets word in sy bakermat, Midvaal, en wel in wyk 6 (Lakeside).

Tshwane wyk 3 sluit Proklamasieheuwel, Kwaggasrand en Wespark in en sorg gewoonlik vir ʼn naelbytstryd tussen die DA en die ANC.

In Johannesburg wek veral drie tussenverkiesings belangstelling, naamlik in wyk 9 (Lenasia-Sentraal), wyk 68 (Riverlea) en wyk 120 (Lenasia-Suid).

Van Mpumalanga se vyf tussenverkiesings sal veral twee die aandag trek vir ʼn moontlike stryd tussen die DA en die VF Plus, naamlik Emalahleni wyk 18 (Reynorif in Witbank) en Govan Mbeki wyk 30 (Secunda).

Ses tussenverkiesings vind in Noordwes plaas met die fokus op Madibeng wyk 29 (Broederstroom en Kosmos, teenaan die Hartbeespoortdam) en JB Marks wyk 5 (die gebied rondom die Laerskool ML Fick in Potchefstroom).

Vier tussenverkiesings vind in landelike gebiede van Limpopo plaas, wat ANC-hartland is.

Van die 12 KwaZulu-Natalse tussenverkiesings sal die wedloop tussen die ANC en die IVP dopgehou word in vier landelike wyke, naamlik Umvoti wyk 7 (naby Greytown), Uphongolo wyk 4 (teen die grens van Swaziland), Mthonjaneni wyk 6 (naby Melmoth) en Mtubatuba wyk 10 (net noord van die dorp).

Oorwegend wit KwaZulu-Natalse wyke waar die DA se krag getoets gaan word, sluit in Ethekwini wyk 36 (Durban-Noord), Umsinduzi wyk 25 (Montrose en Town Hill in Pietermaritzburg) en Ray Nkonyeni wyk 2 (Margate).

Altesaam 11 tussenverkiesings vind in die Wes-Kaap plaas en benewens die uitslag in Kaapstad wyk 14 (Kuilsrivier en Blackheath) sal die fokus veral op die platteland val.

Plattelandse tussenverkiesings vind naamlik plaas in Saldanha wyk 14 (Louwville), Drakenstein wyk 3 (Slot van die Paarl), George wyke 8 (Parkdene), 14 (Pacaltsdorp), 17 (Rosemoor en Conville) en 27 (ʼn ander deel van Pacaltsdorp), asook in Knysna wyke 9 en 10, wat die middedorp en die Koppe omvat.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Byekonfyt ·

Dit is darem ‘n riem onder die hart om te sien daar is nog name wat mens kan uitspreek. Baie van die dorpies genoem se munisipale strukture is afgebrand en paaie is erg beskadig a.g.v. protesaksies en betogings. Dit wys hoe onreelmatig die land se politieke polsslag is. Mag die kiesers Nov. reg kies.

shari ·

Hoop die kiesers neem hierdie keer die regte besluite in November

Nick ·

Sal nie in die land weer stem nie, al hierdie party praat net, volksverraaiers!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.