Kimberley se hemelbesem droom groot

Mari du Raan (17) van Hoërskool Diamantveld in Kimberley.

Mari du Raan van Hoërskool Diamantveld in Kimberley droom daarvan om eendag vir die Protea-netbalspan te speel. Op 1,9 meter en met ʼn akkuraatheidsyfer van 90% staan dié doel kop en skouers bo haar spanmaats uit – letterlik én figuurlik.

Dié matrikulant het die afgelope naweek haar skool se naam hoog gehou tydens die jaarlikse Menlo Netbaltoernooi in Pretoria, waar 1 700 leerders se tekkies oor die baan gestuur het. Dit is sedert verlede Donderdag oor vier dae beslis.

Mari (17) gaan volgende jaar haar tasse pak om saam met Suid-Afrika se o. 21-netbalspan aan die 2025-jeugkampioenskap in Gibraltar, Spanje, deel te neem.

Sy is ʼn boorling van ʼn klein boeregemeenskap tussen Douglas en Hopetown en wou aanvanklik niks weet van ʼn groot dorp nie.

“Ek is nie ʼn stadsjapie nie. Ek wou met alle mag en krag op die plaas bly, maar ek het as dogtertjie geweet die Here het groot planne vir my as netbalspeler.”

Dié matriekleerder is reeds tydens haar eerste wedstryd  in gr. 8 as speler van die wedstryd aangewys.

As o. 16-speler is sy in die Suid-Afrikaanse skolespan opgeneem en ʼn jaar later het sy in die o. 17 SA-skolespan deelgeneem. Hier het sy vir die span opgedraf wat in 2023 in Trinidad en Tobago deelgeneem het. Hulle het ʼn algehele tweede plek behaal.

“Dit is altyd ʼn groot voorreg om my land te verteenwoordig. Ek leer soveel oor ander lande se kulture en manier van speel.”

Haar drie broers, Lieb, Leon en George, is van haar grootste ondersteuners. Lengte is in die familie se gene, met George wat 2,04 m in sy sokkies staan.

Mari du Raan saam met haar broers, Lieb, Leon en George. (Foto: Verskaf)

“Ek is die laatlammetjie. My broers is heelwat ouer as ek en hou die fort op die plaas wanneer ek skoolgaan. Ons is almal ewe lief vir die spel – ek is die speler wat ek vandag is as gevolg van hulle deurlopende liefde en ondersteuning.”

Die Du Raan-familie boer onder meer met boerbokke en beeste.  Hulle het ook ʼn besproeiingstelsel en teel met perde.

As sy nie netbal speel nie, neem sy met haar drie perde, Country Comfort, Tango Knight en Impressive Night, aan kompetisies deel.

Sy het egter geen planne om binnekort te boer nie – vir nou wil sy haar alles vir netbal gee.

“Ek besef dit verg uithou- en deursettingsvermoë om as die beste gesien te word. Van kleins af droom ek om vir die Proteas se nasionale vrouespan te speel. Ek glo my drome kan waar word.”

Die hemelbesem wil onderwys aan die Universiteit van Pretoria studeer, maar vir eers het sy die groen en goed in haar visier.

“Ek sit soveel ure in en ek glo dat my harde werk beloon sal word.”

Een van Maties se spelers, Zané Bodenstein, is van haar grootste mededingers teen wie sy al gespeel het.

“Sy is ’n ongelooflike goeie verdediger. Dit is altyd lekker om kragte met ander spelers te meet. Met elke oefening en wedstryd leer ek iets nuuts.”

Die beseringspook het haar nog nie juis teëgekom nie, behalwe dat sy aan die begin van die jaar haar enkelligamente geskeur het.

Sy is ook ʼn kranige atleet en sal binnekort aan die Suid-Afrikaanse Atletiekkampioenskap deelneem.

Haar persoonlike beste afstand met die gewigstootbal is 12 m en sy spog met ’n afstand van 37 m in die diskusitem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Anel ·

Toe ons kinders nog op laerskool was, was daar ook ‘n meisie wat so lank was. (Sy was jonger as ons kinders). Toe sy in ek dink gr3 begin netbal speel, was daar verskeie ouers wst ongelukkig was en gesê het dat sy ouer moet wees as wat sy sê. Toe staan haar ouers op en sê dis in haar gene, hulle was altwee hemelbesems. Ek dink sy het toe ook op ‘n stadium vir die nasionale span gespeel. So meisie, geniet jou netbal en sterkte op jou pad.

Papsak ·

Tog so trots op ons kinders sterkte jong dame jy gaan ver kom bou voort

Vrijburger ·

Kudus. Maar dalk ‘n bietjie verder dink as net Proteas, dink ook buiteland.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.