Kind, bejaarde geskiet tydens bendegeweld

Taufiq Johnson, die sewejarige wat gewond is. (Foto, Verskaf)

Drie mense, onder wie ʼn sewejarige kind, is sedert Maandag in Manenberg, Wes-Kaap, gewond te midde van ʼn voortslepende bende-oorlog wat reeds die lewe van een bendelid verlede week geëis het.

Taufiq Johnson (7) is gister skuins na middernag in Red River-straat in sy slaap gewond nadat ʼn koeël hom in die rug getref het.  Hy is onmiddellik saam met sy ma, Shafieka Johnson, na die Rooikruis-kinderhospitaal gehaas waar hy ʼn noodoperasie ondergaan het. Fatima Odendaal, Taufiq se ouma, vertel sy sestienjarige sussie wat langs Taufiq op die bed gelê het ten tyde van die skietvoorval, is erg getraumatiseerd.

Gershwin Johnson, Taufiq se pa, het laat gisteraand aan Maroela Media bevestig dat sy seun veilig is.  Taufiq het aan sy pa gesê hy is “orraait”.  Johnson het vroeër die dag aan Maroela Media gesê: “Ek het baie seer, Taufiq is ʼn wonderlike kind.”

Daar is aanvanklik verneem die slagoffer is deur ʼn dwaalkoeël getref.  Foto’s van die Wendyhuis waarin Taufiq, sy ouers en drie sibbe woon, wys egter dié huis is deur 29 koeëls getref.

Voor die Johnson’s se Wendyhuis. V.l.n.r. is Gershwin Johnson, Taufiq Johnson se pa, Faiez Jacobs, ANC Parlementslid in die Wes-Kaap, en ‘n godsdiensleier in Manenberg, Salih Isaacs. (Foto deur Eunice Stoltz)

ʼn Godsdiensleier in Manenberg, Salih Isaacs, sê die Johnson-Wendyhuis is verkeerdelik geteiken.

Samuel Plaatjies (64) is ure later skaars 150 m van die Johnson-woning af in Olgahof buite sy woonstel in sy kop en rug geskiet toe hy in kruisvuur beland het. Volgens inwoners het hulle 11 skote hoor afgaan, waarvan twee Plaatjies getref het.  Hy is na die Groote Schuur-hospitaal vervoer. Plaatjies se kleinkind, Jackson, wat slegs haar van wil bekendmaak, vertel haar oupa kon nog praat na hy geskiet is en glo hy sal hierdeur kan kom.

Michelle Louwskieter (20) is kort ná Plaatjies sowat 450 m van Olgahof af in haar bors geskiet terwyl sy in haar woonstel in Madgehof was. Sybil Louwskieter, Michelle se ouma, het aan Maroela Media vertel haar kleindogter het geweerskote hoor afgaan en wou haar jonger boeties van die venster wegneem toe ʼn dwaalkoeël haar deur die venster getref het. Michelle is na die Groote Schuur-hospitaal geneem. Volgens Louwskieter is haar kleindogter se toestand stabiel.

ʼn Bendegeveg het verlede week Woensdagaand tussen strydende bendegroepe in Manenberg uitgebreek.  Die hernieude gevegte word toegeskryf aan die stryd oor dwelmafsetgebiede.

Die situasie het glo vererger nadat ʼn bendelid van die Americans Vrydagoggend in Manenberglaan vermoedelik deur lede van die Jesters-bendegroep doodgeskiet is.

Ruth Solomons, woordvoerder vir die metropolisie in die Wes-Kaap, sê die metropolisie tree tans reaktief op weens ʼn tekort aan hulpbronne en monitor die situasie in Manenberg.  Volgens Solomons is baie lede aan Manenberg onttrek en verskuif nadat onrus in die informele nedersetting Dunoon langs die N7, asook in Elsiesrivier op die Kaapse Vlakte, oor die naweek uitgebreek het.

Brigadier Novela Potelwa, Wes-Kaapse polisiewoordvoerder, sê in ʼn verklaring bykomende polisielede sal in Manenberg en Lavender Hill ontplooi word ná sporadiese skietvoorvalle in dié gebiede.

Maroela Media het Maandagaand verneem dat skietery in Manenberg onverpoos voortduur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Racheltjie Debeer ·

Waar is minister Beke Cele se polisiemag nou???? Hulle het die tyd en die mannekrag om mense wat draf en oefen te arresteer, maar onskuldige kinders word in die nag geteiken en geskiet, en die polisie skitter in hul afwesigheid.

Plaaskind ·

Ek voel jammer vir almal betrokke – onskuldig en moet boet vir ons land se sirkus polisie se vermoë om die bendes te stop.

Alida ·

Bendes en drank is goeie maats. Die drank vloei mos weer maar rook is verbode! Baie slim.

Sarel ·

Kan nie die Polisie blaneer nie want hulle habde word gebind deur Politieke besluite wat geen waarde heg aan mense lewens nie

Anel ·

Ou Cele is meer bekommerd oor mense wat dalk virus regulasies oortree as regte misdadigers. Om regte misdadigers te vang is baie meer werk. Sterkte aan die arme mense wat te midde van hierdie bendegeweld is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.