Kinderhuis stuur reddingspakkies aan gesinne

Die reddingspakkies vir die kinders (Foto: Verskaf)

Die Abraham Kriel Kinderhuis Potchefstroom het Vrydag meer as 75 kospakkies by die kinders en hul gesinne in Noordwes en aangrensende provinsies afgelewer. Die meeste kinders van die kinderhuis is net voor die instel van die landwye afsondering na hul onderskeie ouerhuise teruggestuur.

Volgens Zeldri Nel, woordvoerder van die kinderhuis, wou hulle met dié “reddingspakkies” seker maak dat hul kinders tydens die afsondering versorg is. Elke pakkie bestaan uit noodsaaklikhede soos blikkieskos, stysel, groente, skoonmaakmiddels, komberse en warm klere.

“Baie van die kinders wat in dié tyd by hul eie huise moet bly, gaan gebuk onder moeilike omstandighede. Hulle kry nie altyd die versorging wat hulle by ons sou kry nie. Met dié reddingspakkies wil ons seker maak hul magies is saans vol en dat hulle darem ’n kombers het om warm te bly,” vertel Nel.

Nel vertel die kinderhuis het die voorraad vir die pakkies aangekoop met die geld wat hulle met verlede jaar se Liggiefees ingesamel het.

Die personeel het die pakkies self verpak en by die onderskeie huisgesinne gaan aflewer. Vyf voertuie met twee personeellede per voertuig het die pakkies gaan aflewer.

Die personeel laai die pakkies in die voertuie (Foto: Verskaf)

“Hierdie aflewerings sal deurgaans geskied solank ons dit kan bekostig om voorraad aan te koop vir die projek,” sê Nel.

Volgens Nel versorg die kinderhuis altesaam 230 kinders en hul gesinne. Van die kinders wat nie na  huisgesinne kon terugkeer nie, bly tans nog in die kinderhuis.

“Ten einde die kinders te beskerm, maak ons seker dat die kinders wat in die kinderhuis agtergebly het, so min moontlik in groepe bymekaarkom.”

Nel sê die personeel wat by die kinderhuis bly, werk vir die kinders aktiwiteite uit om deur die dag te doen. Hulle help ook om die kinders nuwe vaardighede, soos tuinmaak of bak, aan te leer.

“Ons wil dankie sê aan ons personeel wat soveel meer doen as net hul werk. Sonder hulle sou ons nie hierdie reusetaak kon voltooi nie,” sê Nel.

Mense wat ʼn bydrae wil lewer, kan met die kinderhuis kontak maak deur ʼn e-pos na [email protected] te stuur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Anel ·

Nou gaan ek dom vraag vra: die kinders is juis uit hul ouerhuise verwyder. Nou word hulle teruggestuur. Sou dit nie veiliger vir hulle gewees het om maar in die kinderhuis te bly waar hulle wel versorg en veilig sou wees nie? Ek dink hierdie grens aan kindermishandeling.

ZellaQ ·

Daar is nie ‘n dom vraag nie, die kinders gaan gewoonlik oor naweke en vakansies terug na hulle huise toe indien dit goed lyk. die kinderhuise sal nie kinders huise toe stuur as dit nie veilig of in die kinders se beste belange sou wees nie.. onthou kinders is anders as grootmense en vir kinders bly dit hulle huise, hulle mense… hulle familie…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.