Kirsten Kluyts: Beskuldigde ʼn ‘gevaar vir vroue’

Kirsten Kluyts (Foto: Facebook)

Kirsten Kluyts se vermeende moordenaar is ʼn gevaar vir vroue in die samelewing en hy het nie buitengewone omstandighede bewys om sy vrylating op borgtog te regverdig nie.

Só het landdros Syta Prinsloo Vrydag in die landdroshof in Alexandra gesê toe sy die 21-jarige student borgtog geweier het. Volgens Prinsloo het die staat ʼn prima facie-saak gemaak rakende die aanklagte van moord en roof met verswarende omstandighede. In die afwesigheid van DNS-toetse het die staat egter nie ʼn prima facie-saak gemaak rakende die aanklag van verkragting nie.

Sy het gesê die staat se saak bestaan grootliks uit omstandigheidsgetuienis en sy het stap vir stap deur die getuienis gegaan. Dit behels onder meer ʼn tydlyn van gebeure op 29 Oktober toe Kluyts (34) aan ʼn MyRun-drafgeleentheid in die George Lea-park in Parkmore, Sandton, deelgeneem het. Kluyts se liggaam is gevind nadat ander atlete haar nie ná afloop van die drafgeleentheid kon opspoor nie.

Kluyts se selfoon en motorsleutels is op ʼn paadjie naby haar liggaam gevind. Daar is kringtelevisiebeeldmateriaal wat wys hoe die beskuldigde die gebied waar Kluyts vermoor is, verlaat. Hy het ook ʼn blou T-hemp aan wat presies lyk soos die een wat Kluyts vroeër die dag aangehad het.

Hy het tydens sy getuienis onder meer aangevoer dat hy deur die George Lea-park geloop het om by sy koshuisverblyf uit te kom. Hy voer aan dat hy in ʼn stadium sy nood verlig het en toe op Kluyts se liggaam afgekom en ondersoek ingestel het.

Hy het getuig dat hy van haar klere ontslae geraak het aangesien hy daaraan gevat het en sy vingerafdrukke dus daarop was. Volgens hom het hy van die klere ontslae geraak ten einde nie by die moord betrek te word nie.

Dit het tydens die beskuldigde se borgtogaansoek aan die lig gekom dat Kluyts dood is weens ernstige koptrauma, verwurging, versmoring en druk op haar nek. Daar is ook onthul dat Kluyts 14 weke swanger was ten tyde van haar dood.

Die beskuldigde, wat volgens wet nie geïdentifiseer mag word totdat hy op die aanklag van verkragting gepleit het nie, het vroeër tydens sy borgtogaansoek ontken dat hy enigiets met die moord op Kluyts te doen gehad het.

Die beskuldigde is op 26 November by ʼn koshuis van Varsity College in Benmore in hegtenis geneem.

Kluyts was ʼn onderwyseres aan die Delta Park High School.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.